Hierdie vakansie neem Maties weer die “Neem die US terug huis toe”-inisiatief na hul tuisgemeenskappe
- Die Afdeling Studentewerwing (ASW) by die Universiteit Stellenbosch (US) nooi alle geïnteresseerde studente uit om die US huistoe te neem gedurende die Junie-Julie vakansie.
- The "Neem die US terug huis toe"-inisiatief was in 2025 van stapel gestuur na ná verskeie versoeke van studente wat prospektusse en promosiemateriaal wou hê om met leerders in hul plaaslike gemeenskappe te deel.
- Deur hul eie reise te deel word ons studente belangrike storievertellers en handelsmerk-ambassadeurs in hul eie gemeenskappe, wat voornemende leerders help om in te sien dat daar 'n plek vir hulle by die Universiteit Stellenbosch is.
Die Afdeling Studentewerwing (ASW) het die “Neem die US terug huis toe”-inisiatief in Junie 2025 van stapel gestuur ná verskeie versoeke oor die jare van studente wat prospektusse en promosiemateriaal wou hê om oor universiteitsvakansies huis toe te neem en dit met leerders in hul plaaslike gemeenskappe te deel.
Hierdie vakansie gaan die ASW voort met die inisiatief en US-studente wat vir die wintervakansie huis toe gaan word uitgenooi om die Afdeling te kontak oor voorbereidende opleiding vir besoeke aan skole en die afhaal van die betrokke materiaal vir die afsprake.
“Vele studente wat oor die jare na ons uitgereik het, het 'n opregte begeerte uitgespreek om na hul skole en gemeenskappe terug te keer en hul persoonlike reise en ervarings van studentwees aan die US met voornemende leerders te deel,” sê Magdel Pretorius, Adjunkdirekteur in die Registrateur se Verantwoordelikheidsentrum.
“Die hoofdoel met hierdie inisiatief is 'n rimpeleffek waar geleenthede geskep en leerders se universiteitsaspirasies aangewakker word deur US-studente wat as handelsmerk-ambassadeurs in hul eie gemeenskappe optree en die gaping tussen leerders se aspirasies en hul toegang tot hoër opvoeding probeer oorbrug.”
Daar word van deelnemende studente verwag om skole, gemeenskapsgroepe, of leerderbyeenkomste in hul tuisdorp te besoek. Tydens hierdie geleenthede kan studente inligtingsessies aanbied of informele gesprekke voer met leerders en/of opvoeders oor onderwerpe soos die US se aansoekproses, toelatingsvereistes, beurse en finansiële bystand, die studentelewe, koshuise, akademiese steun, en hulle persoonlike oorgang van skool na universiteit.
“Huidige studente kry daardeur die geleentheid om voornemende studente en opvoeders direk met 'n personeellid van die Universiteit Stellenbosch in verbinding te bring, byvoorbeeld 'n Studentewerwingspraktisyn, vir enige verdere betrokkenheid of opvolgsteun wat hulle benodig,” sê Olivia Adams, Geleentheidskoördineerder in die Registrateur se Verantwoordelikheidsentrum.
Die Afdeling het besluit om 'n eweknie-betrokkenheidsmodel te gebruik omdat dit “besonder waardevol” blyk te wees deurdat “leerders dikwels makliker kan identifiseer met huidige universiteitstudente wat onlangs 'n soortgelyke reis afgelê het.”
Voor deelnemende studente se besoeke aan skole moet hulle 'n opleidingsessie bywoon wat Studentewerwingspraktisyns op 25 Mei aanbied. Klik hier indien jy die sessie wil bywoon.
Studente word daar toegerus om die nodige inligting en hulpbronne met selfvertroue aan leerders en opvoeders bekend te stel. Elke deelnemer ontvang 'n prospektus en belangrike inligting oor aansoeksperdatums, toelatingsvereistes, beurse en lenings, studentegelde, en die proses vanaf ontvangs van 'n aanbod tot die aanvaarding van 'n plasing by die US.
Alhoewel die inisiatief nog relatief nuut is, het terugvoer van deelnemende studente reeds die waarde en impak uitgewys van outentieke, student-geleide betrokkenheid by die skep van bewustheid, die aanvuur van leerders se aspirasies, asook toegang tot hoër opvoedingsgeleenthede.
Taran Olkers, 'n vierdejaarstudent in die Fakulteit Opvoedkunde, is een van die studente wat vanjaar aan die inisiatief deelneem.
“Ek wil graag deel wees van hierdie inisiatief, want ek weet hoe belangrik bekendstelling en verteenwoordiging vir leerders is, veral dié uit gemeenskappe soos myne waar geleenthede en inligting oor universiteit dikwels beperk is,” sê Olkers.
Wanneer Olkers terugdink aan haar eie reis om universiteit by te woon, onthou sy hoe moeilik dit was om die regte individue te vind wat haar leiding kon gee en hoe sy gesukkel het om graadprogramme te vind waarin sy belang stel.
“Ek verstaan hoe moeilik dit kan wees wanneer daar nie baie mense is wat jou leiding gee of inspireer nie. Baie leerders het die potensiaal om te slaag, maar as gevolg van omstandighede en beperkte bekendstelling sien hulle nie altyd universiteit as iets bereikbaar nie.
Ek wil leerders graag inspireer en aanmoedig deur hulle te wys dat geleenthede soos die Universiteit Stellenbosch moontlik is, maar ook help om in hul toekoms te belê deur daardie bekendstelling en ondersteuning direk na hul gemeenskappe te neem,” sê Olkers.
Die Afdeling hoop dat leerders ná hierdie kontaksessies “geïnspireerd, ingelig, en meer selfversekerd oor die nastreef van hoëropvoedingsgeleenthede sal voel.”
“Die ‘Neem die US terug huis toe’-inisiatief behels meer as werwing – dit gaan oor verteenwoordiging, skakeling en om leerders te wys dat hulle ook op universiteit hoort. Deur hul eie reise te deel word ons studente belangrike storievertellers en handelsmerk-ambassadeurs in hul eie gemeenskappe, wat voornemende leerders help om in te sien dat daar 'n plek vir hulle by die Universiteit Stellenbosch is.”
“Terselfdertyd kry deelnemende SU-studente waardevolle leierskapervaring en word hul kommunikasie- en aanbiedingsvaardighede ontwikkel, en so meer. Dit is ook 'n waardevolle geleentheid vir hulle om op 'n betekenisvolle manier aan hul gemeenskappe terug te gee.”