Skip to main content
A photo of the 34 head mentors in front of the Robben Island prison gates during their visit to Robben Island as part of the SU Mentor programme’s experiential learning curriculum
Image by: Image provided by Dr Joy Petersen
Kampuslewe Impak Institusionele nuus

Hoofmentors besin oor leierskap en transformasie tydens Robbeneiland-besoek

Lynne Rippenaar-Moses
Communications Coordinator
22 Mei 2026
  • ’n Groep hoofmentors van die Universiteit Stellenbosch (US) het Robbeneiland onlangs besoek as deel van die US Mentorprogram se ervaringsleerkurrikulum wat op intellektuele en geestelike welstand toegespits is.
  • Die besoek het die geleentheid aan studenteleiers gebied om krities met Suid-Afrika se geskiedenis om te gaan terwyl hulle oor leierskap, sosiale geregtigheid, en hul eie rol in die vorming van inklusiewe studentegemeenskappe besin.
  • Altesaam 34 hoofmentors het begeleide toere van die eiland onderneem, historiese gevangenisterreine en uitstallings besoek, en na die vertellings van voormalige politieke gevangenes geluister.

’n Groep hoofmentors van die Universiteit Stellenbosch (US) het Robbeneiland onlangs besoek as deel van die US Mentorprogram se ervaringsleerkurrikulum wat op intellektuele en geestelike welstand toegespits is. Die besoek het die geleentheid aan studenteleiers gebied om krities met Suid-Afrika se geskiedenis om te gaan terwyl hulle oor leierskap, sosiale geregtigheid, en hul eie rol in die vorming van inklusiewe studentegemeenskappe besin.

Die Mentorprogram, wat in die Sentrum vir Studentelewe en -leer (SSLL) in die Verantwoordelikheidsentrum: Studentedekaan gehuisves word, is op ondersteuning aan eerstejaarstudente via portuurgroep-mentorskap, leierskapsontwikkeling, en holistiese studentesteun gemik. Oor die jare is daar al hoe meer ervaringsleergeleenthede by die program ingesluit om studenteleiers te help om by identiteit, tuishoort, transformasie, en etiese leierskap buite die klaskamer betrokke te raak.

Volgens dr Joy Petersen, Koördineerder van Eerstejaarstudente-ervaring in die SLL en medestigter van die SOAR-program vir eerstegenerasie studente, maak die Robbeneiland-besoek deel uit van die program se wyer ontwikkelingsbenadering tot leierskapsopleiding.

“Die besoek aan Robbeneiland was deel van die mentorprogram se ervaringsleerbenadering, wat studenteleiers aanmoedig om Suid-Afrika se geskiedenis, identiteit, en sosiale realiteite buite die klaskamer krities te bekyk. Die doel van die besoek was nie net opvoedkundig nie, maar ook op ontwikkeling gerig – om ruimte te skep vir besinning oor leierskap, sosiale geregtigheidskwessies, versoening en restitusie.”

Petersen verduidelik dat die ervaring nou aansluit by die program se fokus op intellektuele en geestelike welstand.

“Die besoek sluit direk aan by die program se fokus op intellektuele en geestelike welstand deur studente aan te moedig om oor waardes, doelgerigtheid, empatie, etiese leierskap, en menswaardigheid te besin.”

Altesaam 34 hoofmentors het die veldwerkgeleentheid as deel van hul leierskapontwikkelingsreis aangepak. Tydens die besoek het studente begeleide toere van die eiland onderneem, historiese gevangenisterreine en uitstallings besoek, en na die vertellings van voormalige politieke gevangenes geluister.

Petersen sê die ervaring het studente uitgedaag om dieper oor leierskap en hul verantwoordelikhede in uiteenlopende studentegemeenskappe te dink.

“Temas soos bevoorregting, ongelykheid, identiteit, veerkragtigheid, en leierskapverantwoordelikhede is subtiel by die besprekings ingeweef – en studente se begrip, persepsies en kondisionering is uitgedaag – ’n oefening in konfrontasie, vertroebeling, en verryking.”

Baie studente is veral beïnvloed deur die persoonlike ervarings wat tydens die toer gedeel is en die veerkragtigheid wat die gevangenes onder apartheid aan die dag gelê het.

“ ’n Groot groep studente het veral die tronkselle en die persoonlike ervarings wat tydens die besoek gedeel is, roerend gevind. Om na eerstehandse of diep persoonlike vertellings oor die lewe onder apartheid te luister het die geskiedenis direk en menslik laat voel eerder as ver of abstrak.”

Petersen sê daar was verskeie oomblikke tydens die besoek wat ’n blywende indruk op die groep gelaat het.

“Die vertellings oor geleerde en deeglik opgeleide gevangenes wat hul minder geletterde landgenote onderrig, en die aantal universiteitsgrade wat tydens gevangeneskap verwerf is, was werklik inspirerend en bemoedigend.”

Dit het haar opgeval dat Robert Sobukwe se tronksel en die realiteit van sy eensame gevangeneskap ’n diep indruk by vele van die hoofmentors gelaat het.

“Van besondere betekenis was Robert Sobukwe se tronksel en die eensame opsluiting wat hy moes verduur – dit was ’n bitter pil.”

Terwyl Petersen oor die groter belang van die ervaring besin het, het sy dit benadruk dat studenteleierskap in Suid-Afrika nie van die land se historiese konteks losgemaak kan word nie.

“Dit is belangrik dat studenteleiers betrokke raak by ruimtes soos Robbeneiland, want leierskap in Suid-Afrika is nie van die geskiedenis, ongelykheid, en die voortdurende werk aan transformasie te skei nie. Insig in die verlede help studenteleiers om hul rol met groter empatie, bewustheid, en verantwoordelikheid te benader.”

Sy het ook die belang van kritiese omgang met die US se eie institusionele geskiedenis uitgelig.

“Gegewe die Universiteit Stellenbosch se historiese verbintenis met strukture van die apartheidsera het die ervaring hoofmentors aangemoedig om te besin oor institusionele geheue, aanspreeklikheid, transformasie, en die verantwoordelikheid van die huidige studenteleiers in die bevordering van insluiting en genesing op kampus.”

Een hoofmentor wat die veldwerkgeleentheid bygewoon het, het die ervaring as emosioneel en diep betekenisvol beskryf.

“Die besoek aan Robbeneiland was ’n ontsagwekkende ervaring wat ons meer oor ons land se pynlike verlede geleer het. Om na die ervarings van eertydse gevangenes en die geskiedenis van die eiland te luister het die erns tuis gebring van die prys wat mense vir ons vryheid betaal het. Dit was ’n eer om op dieselfde pad te loop en herinner te word aan wie ons die lewe te danke het wat ons vandag kan leef.”

Verwante stories