Skip to main content
Collage of photos taken at the Monica Residence 100th birthday celebration showing the birthday cake, current students taking photos, the Prim Sade George, residence staff, and the Dean of Students and Acting Chief Operating Officer at SU.
Image by: Ubaid Abrahams
Toekennings en mylpale Kampuslewe Gebeure Institusionele nuus

Monica Dameskoshuis vier 100 jaar se geskiedenis, refleksie en gemeenskapsgees

Lynne Rippenaar-Moses
Communications Coordinator
22 Mei 2026
  • Monica Dameskoshuis het op 14 Mei 2026 ’n historiese mylpaal bereik toe studente, personeel, en universiteitsleiers in Monica Dameskoshuis se ontspanningsaal vergader het om die koshuis se 100ste verjaardag te vier.
  • Onder die teenwoordiges was die waarnemende Hoofbedryfsbeampte, prof Nicola Smit; die Studentedekaan, dr Leslie van Rooi; die Direkteur van die Sentrum vir Studentelewe en -leer, mnr Pieter Kloppers; die voorsitter van die Primkomitee, Arnold Ntumvi-Nguti; en die visevoorsitter, Natalie Nortje, sowel as koshuispersoneel wat daagliks na die instandhouding en versorging van die historiese gebou omsien.
  • Die Koshuishoof, Monica du Toit, het die geleentheid as emosioneel en diep betekenisvol beskryf, en tekenend van die koshuiskultuur wat Monica-studente gebou het en steeds bou.

Die Universiteit Stellenbosch (US) se Monica Dameskoshuis het op 14 Mei 2026 ’n historiese mylpaal bereik toe studente, personeel, en universiteitsleiers in Monica Dameskoshuis se ontspanningsaal vergader het om die koshuis se 100ste verjaardag te vier – presies ’n eeu nadat die koshuisdeure in 1926 vir die eerste keer geopen is.

Die vroeë oggendviering oor ’n snytjie koek het die koshuisleierskap en -gemeenskap byeen gebring wat steeds een van die US se oudste dameskoshuise help vorm. Onder die teenwoordiges was die waarnemende Hoofbedryfsbeampte, prof Nicola Smit; die Studentedekaan, dr Leslie van Rooi; die Direkteur van die Sentrum vir Studentelewe en -leer, mnr Pieter Kloppers; die voorsitter van die Primkomitee, Arnold Ntumvi-Nguti; en die visevoorsitter, Natalie Nortje, sowel as koshuispersoneel wat daagliks na die instandhouding en versorging van die historiese gebou omsien.

Die Koshuishoof, Monica du Toit, het die geleentheid as emosioneel en diep betekenisvol beskryf, en tekenend van die koshuiskultuur wat Monica-studente gebou het en steeds bou – ’n kultuur waar studente krities met die geskiedenis omgaan deur die ernstige en moeilike oomblikke te omarm, maar ook ruimte te vind vir humor, vreugde en verbondenheid deur gedeelde refleksie.

“Dit was ongelooflik spesiaal om hierdie oomblik te deel met vroueleiers van oor die Universiteit, ons studenteleierskapstrukture, en veral die personeel wat sorg dat hierdie groot madame van ’n gebou elke dag skoon is, onderhou word, en goed bestuur word,” het Du Toit gesê.

Studente en gaste kon die oomblik deel met die US se geliefde gelukbringer, Pokkel, wat ’n verrassingsverskyning gemaak het om te kyk hoe prof Smit die verjaardagkoek sny. Die amptelike koeksny-seremonie het gelei tot ’n geesdriftige weergawe van die “Happy Birthday”-liedjie, kompleet met ’n kenmerkend Suid-Afrikaanse kinkel!

Monica se Prim, Sade George, het studente daaraan herinner dat die Koshuis se eeufeesviering meer as net ’n terugblik is; dit is ’n huldeblyk aan die generasies dapper vroue wie se veerkragtigheid die instelling help vorm het.

Julle staan op die skouers van vele vrouegemeenskappe voor julle,” het sy gesê, “maar simbolies lê julle ook die fondament vir toekomstige geslagte studente wat Monica eendag hul tuiste sal noem.”

Volgens Du Toit het die viering ook die perfekte geleentheid geskep om die bydraes te erken van me Portia Cupido, Koördineerder vir Kluster-verblyfdienste, en die langsdienende personeellid van Monica Dameskoshuis.

In haar besinning oor die betekenis van die eeufees het Du Toit gesê hierdie mylpaal is ’n belangrike herinnering aan studentegemeenskappe se rol in die vorming van die universiteit en van mekaar.

“So ’n honderdjaar-oomblik help ons om te besef dat groei en transformasie slegs plaasvind wanneer studente regtig mekaar se akademiese en leierskappotensiaal wil ontsluit en bereid is om ver buite hul gemaksone te beweeg en doelwitte na te streef wat werklik opvoedkundig is,” het sy gesê.

Du Toit het ook besin oor die generasies vroue wie se aktivisme en vasberadenheid geleenthede verruim het vir diegene ná hulle sou volg.

“Vanoggend was in baie opsigte ’n universele dankie aan elke studentegroep wat aangedring het op stemreg, demokrasie, veranderende maatskaplike norme, en nuwe moontlikhede vir vroue in leierskap en die akademie,” het Du Toit gesê.

“By Monica se 150-jaar-reünie in 2076 sal daardie generasie se studente dalk nog van die mense ontmoet wat vandag in hierdie saal was en besef dat ons ook hulle welstand op die hart gedra het.”

Monica Dameskoshuis sit later vanjaar hulle eeufeesvieringe voort wanneer alumni van verskeie generasies na Stellenbosch terugkeer vir die amptelike 100-jaar-reünieviering op 12 September 2026.

Vir meer inligting oor die reünieviering kontak gerus vir Monica du Toit by [email protected].

Verwante stories