Swartberg mountain range, Western Cape, South Africa.
Geowetenskap vir almal: geowetenskapwoordbank vir Suid-Afrika se elf gesproke nasionale tale
- Byna 2000 geowetenskapterme oor verskillende Suid-Afrikaanse tale gedokumenteer.
- Projek is ’n reusestap tot inklusiwiteit en toeganklikheid in die aardwetenskappe.
- Die geowetenskapwoordbank is vir die publiek beskikbaar by https://doi.org/10.5281/zenodo.19131345
Die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Mineralogie (ook bekend as MinSA) het met trots die suksesvolle afhandeling van ’n grensverskuiwende leksikografie-oefening aangekondig: ’n versameling van geowetenskapsterminologie in al elf gesproke nasionale tale van Suid-Afrika!
Hierdie projek wat deur die Erfenisfonds van die 35ste Internasionale Geologiese Kongres (IGK), befonds is, is ’n reusestap tot inklusiwiteit en toeganklikheid in die aardwetenskappe. Dit bring spesialiswoordeskat uit die vakgebiede van mineralogie, geologie, geomorfologie, en verwante aardwetenskappe byeen – ’n versameling woorde wat die ryk linguisitieke diversiteit waarin ons leef in Suid-Afrika, definieer.
Hierdie projek wat oor twee jaar gestrek het, het as inisiatief op voetsoolvlak begin waar universiteite, professionele persone en vrywilligers uit die gemeenskap woorde deur middel van ’n aanlyn-opnameskakel kon bydra. Die tweede fase het gesteun op die betrokkenheid van ’n professionele vertaaldiens, die Universiteit Stellenbosch (US) Taalsentrum, wat ’n sleutelrol gespeel het in die vertaal- en verifikasieproses. Hierdie samewerking het gelei tot die samestelling van byna 2000 geowetenskapterme wat oor die verskillende tale gedokumenteer is. Hiervan is net minder as die helfte uit bestaande woorde saamgestel, terwyl die ander helfte transliterasies was wat deur professionele vertalers verskaf is.
Die projek is aanvanklik geïnspireer deur Pip William se boek The Dictionary of Lost Words, veral die treffende en motiverende aanhaling: “Words define us, they explain us, and, on occasion, they serve to control or isolate us.”
Prof. Bjorn von der Heyden, ’n ekonomiese geoloog aan die US se Departement Aardwetenskappe en ’n gekoöpteerde lid van MinSA, het die projek gelei: “Die doel van die studie was tweeledig: ons wou ’n veilige bewaarplek vir alle bestaande geowetenskapterme skep ter wille van vooruitgang; én ons hoop om breër deelname en begrip vir Suid-Afrika se geologiese erfenis onder ons diverse bevolking aan te moedig.”
Die finale geowetenskapwoordbank is vir die publiek beskikbaar deur middel van ’n ooptoegangplatform wat op die webblad van die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Digitale Taalhulpbronne (SADiLaR) gehuisves word. Hierdie woordbank is ’n belangrike mylpaal in die proses om die geowetenskappe meer beskikbaar, toeganklik en inklusief te maak en stel navorsers, opvoeders en studente in staat om in hul voorkeurtaal by geologiese wetenskappe betrokke te wees.
Lethuxolo Dubazana, MinSA se voorsitter, sê: “In ’n land waar die wetenskappe vir vele steeds ontoeganklik is, is hierdie bewaarplek ’n noodsaaklike stap om die gaping in kollektiewe wetenskaplike geletterdheid te oorbrug. MinSA is trots daarop om ’n verenigde openbare hulpbron te bied wat terminologie byeenbring – wat vir sommige bekend, en vir ander heeltemal nuut mag wees, – wat die verkenning en vergelyking tussen Suid-Afrika se inheemse tale moontlik maak. ’n Rots is nie net ’n rots nie; dit verteenwoordig ons geskiedenis én ons hede en deur hierdie woorde lewe te gee, verseker ons dat geologie deel word van ons gedeelde toekoms.”
Die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Mineralogie spreek sy dank uit teenoor die 35ste IGS Erfenisfonds vir hul finansiële ondersteuning en teenoor die US Taalsentrum vir hul kundige taalbydrae.
Vir meer inligting en toegang tot die woordbank, besoek gerus: