Ondersteuning van sistematiese en verkennende literatuurstudies by die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe
- Die 21ste eeuse bibliotekaris ondersteun nie net navorsing nie, maar is ook ’n belangrike navorsingsvennoot en dra direk tot die navorsingsproses by. Een manier wat Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe Biblioteek (GGWB) met navorsers saamwerk is om as navorsingspanlede tot sistematiese en verkennende literatuurstudies by te dra.
Die 21ste eeuse bibliotekaris ondersteun nie net navorsing nie, maar is ook ’n belangrike navorsingsvennoot en dra direk tot die navorsingsproses by. Een manier wat Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe Biblioteek (GGWB) met navorsers saamwerk is om as navorsingspanlede tot sistematiese en verkennende literatuurstudies by te dra.
Geneeskunde en Gesondheidswetenskappebibliotekarisse speel ’n strategiese en samewerkende rol in navorsingsversterking binne die fakulteit deur gespesialiseerde ondersteuning in navorsingsintese-metodologieë, veral sistematiese en verkennende literatuurstudies, te bied. As fakulteitsbibliotekarisse werk ons nóu saam met akademiese departemente, nagraadse studente en navorsers oor dissiplines heen om betekenisvol tot hoëgehalte, bewysgebaseerde sintese by te dra. By die GGWB het ons drie fakulteitsbibliotekarisse en twee junior bibliotekarisse - Yusuf Ras, Alvina Matthee, Nombulelo-Magwebu-Mrali, Kay Jacobs en Pamela Nyokwana - wat met bewysgebaseerde sintese help.
Sistematiese en verkennende literatuurstudies is noodsaaklike komponente in geneeskunde en gesondheidswetenskappe-navorsing. Hierdie metodologieë vereis noukeurige beplanning, gestruktureerde soekstrategieë, deursigtige werkvloeie en dokumentering om herhaalbaarheid en betroubaarheid te verseker. Fakulteitsbibliotekarisse bring kundigheid na hierdie proses deur vanaf die vroeë stadiums van die ontwikkeling van verkennende literatuurstudies tot voltooiing saam met navorsingspanne te werk. Ons meewerking begin met ‘n konsultasie en leiding met betrekking tot die verfyning van navorsingsvrae en die identifisering van toepaslike databasisse en ander bronne. Ons ontwerp omvattende, herhaalbare soekstrategieë wat vir elke projek seomvang en metodologie aangepas is. Hierdie soektogte verseker dat navorsers relevante literatuur herwin terwyl metodologiese integriteit gehandhaaf word.
Buiten literatuursoektogte ondersteun ons navorsingspanne met die bestuur van die siftings- en seleksieproses deur van gespesialiseerde sistematiese oorsigplatforms bv. Cadima en Rayyan gebruik te maak. Ons help nagraadse studente en navorsers met die organiseer van verwysings, demonstreer titel- en samevattingsifting, bestuur duplikate en help met die dokumentering van besluite wat nodig is vir deursigtige verslagdoening. Hierdie ondersteuning verbeter werkvloeidoeltreffendheid en verbeter die algehele gehalte van verkennende uitsette. Nagraadse studente in die besonder baat by hierdie vennootskap. Baie studente onderneem sistematiese en verkennende literatuurstudies as deel van hul tesis of navorsingsprojekte en benodig metodologiese leiding wat verder as tradisionele literatuursoektogte strek. Die fakulteitsbibliotekarisse bied opleiding, konsultasies en deurlopende ondersteuning wat studente help om selfvertroue in navorsingsintese-tegnieke te bou.
Ons werk strek oor departemente binne die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, waar ons met studieleiers, navorsingsgroepe en kliniese akademici aan interdissiplinêre projekte meewerk. Hierdie vennootskappe verhoog navorsingsigbaarheid, versterk publikasiegereedheid en dra by tot die fakulteit se verbintenis tot bewysgedrewe praktyk en vernuwing. Die GGWB posisioneer homself steeds as ’n noodsaaklike navorsingsvennoot binne die fakulteit. Deur sistematiese en verkennende literatuurstudies te ondersteun, dra ons by tot die versterking van navorsingsgehalte, nagraadse sukses en die produksie van impakvolle gesondheidswetenskaplike kennis.
Hierdie samewerking het verskeie navorsingsuitsette tot gevolg gehad waar bibliotekarisse erkenning vir hul bydrae ontvang het en wat moontlik kan tot mede-outeurskap kan lei.
Kontak asseblief jou Fakulteitsbibliotekaris indien jy hulp met ’n sistematiese of verkennende literatuurstudie benodig.