Skip to main content
Students carrying in items to their new residence during move-in day in Welcoming 2026
Image by: Stefan Els
Kampuslewe Institusionele nuus

Vergewis jou van die hersiene Koshuisreëls wat op 1 April 2026 in werking getree het

Centre for Student Life and Learning
30 April 2026
  • Die Universiteit Stellenbosch het ’n hersiene stel Koshuisreëls, wat amptelik op 1 April 2026 in werking getree het, goedgekeur.
  • Studente word aangemoedig om hulle van die bygewerkte struktuur en inhoud te vergewis, om seker te maak dat hulle ’n goeie begrip van die verwagtinge binne hulle onderskeie gemeenskappe het.
  • Die hersiene reëls is tot vier afsonderlike dele geherstruktureer, wat die vorige enkel-dokument-formaat vervang.

Die Universiteit Stellenbosch het ’n hersiene stel Koshuisreëls, wat amptelik op 1 April 2026 in werking getree het, goedgekeur. Studente word aangemoedig om hulle van die bygewerkte struktuur en inhoud te vergewis, om seker te maak dat hulle ’n goeie begrip van die verwagtinge binne hulle onderskeie gemeenskappe het.

Die hersiene reëls is tot vier afsonderlike dele geherstruktureer, wat die vorige enkel-dokument-formaat vervang:

Deel 1: Koshuisreëls vir Studentegemeenskappe in Koshuise (hoofsaaklik voorgraadse gemeenskappe)

Deel 2: Koshuisreëls vir Senior Koshuise

Deel 3: Koshuisreëls vir Pendelstudentegemeenskappe (PSG’s)

Deel 4: Behuisingsreëls

Hierdie nuwe formaat weerspieël die uiteenlopende behoeftes van verskillende studentegemeenskappe en maak dit makliker vir studente om toegang tot die reëls vir hulle spesifieke leefomgewing te bekom. Terselfdertyd bly alle afdelings deel van ’n verenigde raamwerk vir dissiplinêre prosesse.

Die insluiting van die Behuisingsreëls onder dieselfde sambreel vereenvoudig voorts toegang tot inligting, wat verseker dat alle riglyne ten opsigte van studentebehuising op een plek gekonsolideer is.

Studente word aangemoedig om die reëls deur te gaan, met die struktuur daarvan vertroud te raak en dit byderhand te hou vir maklike verwsing regdeur die akademiese jaar.

Hoofveranderinge en beweegrede

Die onderstaande is ’n opsomming van hoe dit wesenlik van die vorige weergawe verskil:

  1. Gelykwaardige status van kluster- en gemeenskapslidmaatskap

    Die inleiding tot Deel 1 en Deel 3 maak dit nou duidelik dat studente se klusterlidmaatskap net so belangrik soos hulle lidmaatskap van ’n koshuis- of pendelstudentegemeenskap is. Dit weerspieël lesse wat uit onlangse institusionele ervaring geleer is en versterk gemeenskaplike verantwoordbaarheid en eweknie-ondersteuning. 

  2. Bygewerkte definisie van rook

    Die definisie van ‘rook’ sluit nou uitdruklik THC (afsonderlik van cannabis) in, gegrond op advies van die Universiteit se Regsdienste.

  3. Artikulasie van ervaringgerigte leer

    Afdeling 1.1.1 verwys nou na die tweede opvoedkundige geleentheid as ervaringgerigte leer, wat die US se erkenning van gestruktureerde studentegemeenskapslewe as ’n ontwikkelingsdomein bevestig.

  4. Aanstelling van leiers in senior koshuise

    In Deel 2 word die benadering tot studenteleierskap in senior koshuise hersien om vir aanstelling eerder as verkiesing voorsiening te maak – ’n terugkeer na ’n meer gepaste model vir hierdie gemeenskappe.

  5. Gesag van die SSLL in die goedkeur van gemeenskappe se grondwette

    Dit is nou duidelik dat gewysigde grondwette onmiddellik ná goedkeuring deur die SSLL in werking tree, wat institusionele gesag herstel en die potensiaal vir prosessuele vertragings of belemmerende wysigings deur eksterne studenteliggame verminder.

  6. Rol van die koshuishoof in verkiesingsgeskille

    Die koshuishoof word nou uitdruklik erken as die finale arbiter in huiskomiteeverkiesingsgeskille, wat die onlangse prosessuele ondoeltreffendheid (veroorsaak deur appèlle na ander studenteliggame) oplos.

  7. Herskrywing van die rolbeskrywing van die Prim

    Die rol van die primarius/primaria is herskryf om ontwikkelingsleierskap en koördinering, eerder as die metafore van uitvoerende of bestuursgesag, te beklemtoon. Medewerking met die koshuishoof word nou beklemtoon.

  8. Alkoholbeleidsaanpassing vir geleenthede aan die begin van die jaar

    Een alkoholverwante geleentheid kan nou goedgekeur word voor die jaarlikse alkoholreëls aanvaar word, wat verseker dat die program vir die vroeë kampuslewe nie gedemp word nie en dat besprekings oor alkohol steeds sinvol gevoer kan word.

  9. Beperking op alkoholverbruiksones

    Reël 7.5.4 beperk alkoholverbruik tot nie meer as 15% van die gemeenskaplike areas nie, wat ’n meer beheerde en doelbewuste alkoholkultuur ondersteun.

  10. Primêre verantwoordelikheid teenoor klusters

    Organisatories word studentegemeenskappe nou beskryf as met hulle primêre verantwoordelikheid teenoor hulle klusters in gedrags-, organisatoriese en voorspraaksake.

  11. Rol van die Primkomitee duidelik gemaak

    Die Primkomitee word nou amptelik geherposisioneer as ’n voorspraak- en eweknie-verantwoordbaarheidstruktuur, met geen magte om individuele studentegemeenskappe te bind, of om dissiplinêre gesag uit te oefen nie.

  12. Perke op die gesag van die Primkomitee

    Die komitee word uitdruklik verbied om enige dissiplinêre stappe te doen of kollektiewe besluite namens studentekomitees uit te reik, wat die rol van die amptelike universiteitstrukture herbevestig.

  13. Nuwe gedeelte oor cannabis

    ’n Omvattende afdeling oor cannabisbeheer word ingesluit (Afdeling 17), wat met regsinsette opgestel is om middelverwante wangedrag duidelik en konsekwent te hanteer.

  14. Koshuishoof kan deelname aan leierskap tydelik opskort

    Ten einde vertroue in die bestuursbeheer te bewaar, kan die koshuishoof ’n student tydelik uit ’n leierskapsposisie verwyder, of die deelname van ’n student aan georganiseerde aktiwiteite beperk, hangende die afhandeling van ’n ondersoek. Dit staan afsonderlik van die mag in die Tugkode, wat tydelike skorsing uit die koshuis moontlik maak. 

Die wysigings is in 2025 in oorleg met tersaaklike belanghebbendes van die Universiteit, waaronder die Regsdienste, ontwikkel en die dokumente strook ten volle met die US se Strategiese Raamwerk en Visie 2040. Die Behuisingsreëls (Deel 4) is deur SunKom ontwikkel, in medewerking met al die ander belanghebbendes.

Verwante stories