
Nuwe wyn vier US se verbintenis met Pinotage
'n Besonderse wyn wat die Universiteit Stellenbosch (US) se noue verbintenis met die ontwikkeling van die Pinotage kultivar vier, is bekend gestel. Die 2014 Rector's Reserve Pinotage kom uit die Universiteit se eie Welgevallen Wynkelder.
Die eerste bottels daarvan is aan prof Wim de Villiers, rektor en visekanselier, oorhandig deur Welgevallen se wynmaker, Riaan Wassung. Dié wyn van statuur is gemaak van druiwe wat geoes is uit die oudste blok Pinotage op die Universiteit se nabygeleë Welgevallen Proefplaas, digby die Eersterivier op Stellenbosch.
Die Rector's Reserve word nie verkoop nie, maar sal onder meer as welwillendheidsgebaar deur die US-rektor aan die Universiteit se vriende en besoekers oorhandig kan word.
"Dis eintlik 'n stukkie geskiedenis wat mens op hierdie wyse vir vriende van die Universiteit kan saamgee," reken prof De Villiers.
Die US is die enigste universiteit in die land met 'n eie kommersiële wynkelder. Prof De Villiers het lede van die publiek wat ook van die US se wyne wil proe, genooi om weeksdae by die Welgevallen Wynkelder aan te doen en van die reeks "Die Laan" en "Maties Rooiplein" wyne aan te koop. Hierdie wyne word gereeld voorgesit aan gaste by funksies wat deur die rektor en die Universiteit aangebied word.
Pinotage
Pinotage is seker die bekendste eg-Suid-Afrikaanse wynkultivar, en die geskiedenis rondom die ontwikkeling daarvan is ten nouste met die Universiteit self verbind. Die befaamde prof Abraham Izak Perold word beskou as die vader daarvan, nadat hy in die vroeë 1920's die Pinot noir-druif met Hermitage gekruis het. Hy was ook onder meer die eerste professor in wynkunde aan die US, en later dekaan van die entiteit wat vandag as die Fakulteit AgriWetenskappe bekend staan.
Sy eerste kruisings is in Welgevallen se wingerde aangeplant. Saailinge daarvan het ook in die Perolds se tuin gegroei digby wat vandag die Welgevallen Kelder is. Prof Perold het op die proefplaas gebly voordat hy later by die KWV aangesluit het.
Uit erkenning van die Perold-familie se verbintenis met die Universiteit is het prof De Villiers een van die eerste bottels van die nuwe Rector's Reserve geskenk aan prof Willie Perold, die Fakulteit Ingenieurswese se vise-dekaan: navorsing. Prof AI Perold was sy oom.
Distell se besturende direkteur, Richard Rushton, en die maatskappy se direkteur: innovasie, dr Marius Lambrecht, was ook onder die eerstes wat daarvan kon proe. Prof De Villiers het bottels daarvan aan hulle oorhandig uit dank vir die rol wat Distell en die Suid-Afrikaanse wynbedryf in die breë oor die jare heen gespeel het in die werksaamhede van die Universiteit.
Die wynetikette is geborg deur Collotype, die onderneming waarby die etikette aangekoop word vir die volle reeks wyne uit die Welgevallen Wynkelder. Die maatskappy bied ook jaarliks twee beurse aan landboustudente aan.
Die Welgevallen Wynkelder maak deel uit van die Fakulteit Agriwetenskappe aan die US, wat ook die enigste Suid-Afrikaanse universiteit is wat wingerd- en wynkunde as studieveld aanbied. Die US lewer ʼn belangrike bydrae tot die ekonomie deur afgestudeerdes en navorsing aan die druif- en wynsektor te lewer.
"Ons is trots op die US se lang verbintenis met wingerd- en wynkunde. Die Welgevallen Kelder en die wyne wat daar geproduseer word, help ons om op hierdie trotse tradisie voort te bou," het prof De Villiers gesê.
- Die Rector's Reserve is nie te koop aan die publiek nie, maar wel Die Laan-wyne en Maties Rooiplein. Daarvan is weeksdae te koop by die Welgevallen Kelder, tussen Coetzenburg en Paul Roos Gimnasium. Vir meer inligting oor die wyne wat beskikbaar is, besoek www.facebook.com/DieLaanWines. Vir navrae, kontak [email protected] of vir Riaan Wassung by 021 808 2925