Skip to main content

Institusionele Forum

Die Institusionele Forum (IF) is een van die Universiteit se 3 hoof statutêre liggame - die ander twee is onderskeidelik die Raad en die Senaat. Die Universiteit se IF het in Augustus 1999 tot stand gekom ter voldoening aan die voorskrifte van die Wet op Hoër Onderwys (Wet 101 van 1997)

Funksies en bevoegdhede

Die funksies en bevoegdhede van die IF word bepaal deur artikel 31(1) van die genoemde Wet: 

(a) die IF moet die Raad oor aangeleenthede rakende die Universiteit adviseer, met inbegrip van -

​(i) die implementering van die Wet en die nasionale beleid op hoër onderwys;

(ii) beleid oor ras- en geslagsregverdigheid;

(iii) die keuring van kandidate vir senior bestuursposisies;

(iv) gedragskodes, mediasie en prosedures vir dispuutoplossing; en

(v) die aanmoediging van ’n institusionele kultuur wat verdraagsaamheid en respek vir basiese menseregte bevorder en ’n geskikte omgewing vir onderrig, navorsing en studie skep; en

(b) die IF moet die werksaamhede verrig wat die Raad bepaal. 

Kontak ons

Voorsitter: Me Sindiswa Jamba
E-pos: [email protected] 

Onder-voorsitter: Mnr Sello Molapo
E-pos: [email protected]

Sekretariaat: Me Ghafsa Gamiet
Tel: +27 21 808 9111
E-pos: [email protected]

Samestelling

​​​Die samestelling van die IF is in die US se Statuut​ soos volg uiteengesit:

Par 29. (1) Die IF bestaan uit 23 lede uit elk van die volgende groeperinge: beheer- en bestuursektor, personeelsektor, studentesektor en gemeenskapsektor.

(2) Hierdie verteenwoordiging sien soos volg daar uit:

(a) Beheer- en bestuursektor:

(i) Een persoon uit eie geledere deur die Raad verkies;
(ii) Twee persone uit eie geledere deur die Senaat verkies;
(iii) Die Registrateur of 'n persoon deur hom of haar aangewys;
(iv) Die Senior Direkteur verantwoordelik vir gemeenskapsverhoudinge of 'n persoon deur die senior direkteur aangewys; en
(v) Die Direkteur wat verantwoordelik is vir diensbillikheid of 'n persoon deur die direkteur aangewys.

(b) Personeelsektor:

(i) Twee persone uit eie geledere deur die permanente nie-professorale akademiese personeel verkies;
(ii) Twee persone uit eie geledere deur die professionele en administratiewe steundienspersoneel verkies;
(iii) Een persoon uit eie geledere deur die tegniese ondersteuningspersoneel verkies​; en
(iv) Een persoon uit eie geledere deur die dienspersoneel op posvlakke 14 tot 19, uitgesluit professionele en administratiewe steundienspersoneel en tegniese ondersteuningspersoneel​, verkies.

(c) Studentesektor:

(i) Twee persone uit eie geledere deur die Studenteraad (SR) verkies;
(ii) Een persoon uit eie geledere​​ deur die Tygerberg SR verkies;​
(iii) Een persoon uit eie geledere​ deur die Primkomitee verkies​;
(iv) Een persoon uit eie geledere​​ deur die Studenteverenigingsraad verkies;​ en
(v) Een persoon uit eie geledere​​ deur die Akademiese Belangeraad (ABR) verkies​.

(d) Gemeenskapsektor:

(i) Een persoon uit eie geledere deur die Konvokasie verkies, wat nie 'n werknemer of student van die Universiteit is nie; en
(ii) Vier persone, wat nie werknemers van die Universiteit​ is nie, onderskeidelik aangewys deur verteenwoordigende liggame van die burgerlike samelewing, soos van tyd tot tyd deur die IF in samewerking met die Senior Direkteur verantwoordelik vir gemeenskapsverhoudinge, ​geïdentifiseer.