Leersentrum
Die Leersentrum bied ’n innoverende en stimulerende leeromgewing en is ‘n dinamiese uitbreiding van die klaskamer in die Biblioteek.
Die Leersentrum ondersteun die Universiteit se toewyding aan studentesukses. Met die slagspreuk 'BE A SMART MATIE – ASK!' wil ons studente aanmoedig om vir hulp te vra wanneer hulle bystand met inligtingsnavrae vir hul take en projekte benodig, maar met dien verstande dat hulle ook sal leer om hulself te help en daardeur hulself te bemagtig.
Die fasiliteit is gereserveer vir geregistreerde studente en personeellede van die Universiteit en toegang tot die fasiliteit word beheer. ‘n Geldige studente-/personeelkaart van die Universiteit word benodig vir toegang tot die Leersentrum.
Openingsure
Die biblioteekure word volgens die vereistes van die akademiese jaar aangepas.
Waar vind jy ons?
Universiteit Stellenbosch Biblioteek, boonste vlak.
Personeel en bystand
Ons poog om die beste moontlike diens aan ons kliënte te lewer. Jou opinie is vir ons belangrik en ons verwelkom enige voorstelle om ons diens te verbeter.
Kontak ons
Dienste
- ‘n Mengsel van interaktiewe dienste, konsultasies met Leersentrumpersoneel waar van toepassing, en verwysings na fakulteitsbibliotekarisse;
- beklemtoning van die prominente rol wat webgebaseerde dienste en die effektiewe gebruik van elektroniese hulpbronne speel;
- verskillende wyses van opleiding om studente se effektiewe gebruik van beskikbare biblioteekhulpbronne en -dienste te verbeter;
- die aanspreek van die behoefte vir bystand met toegang tot inligting en die gebruik van tegnologie;
- die bou van ‘n sterk tegniese infrastruktuur wat diensdoelwitte sal ondersteun;
- die evaluering en herstrukturering van dienste om aan studente se verskeie leerstyle en veranderende behoeftes te voldoen.
Toerusting en fasiliteite
- Meer as 100 rekenaars
- Drukwerk, kopiëring en skanderingsfasiliteite
- Koordlose internettoegang
- Elektroniese klaskamer met twee oorhoofse projektors, 48 rekenaars en 'n aanbiedingslessenaar met 'n rekenaar vir 'n fasiliteerder/dosent.
Spasies
- Vier gesprekskamers met witborde en LED skerms is vir bespreking beskikbaar. Bespreek 'n kamer hier.
- Werksareas vir skootrekenaargebruikers
- Vyf groepwerktafels in ‘n oop groepwerkarea
- Informele sitareas
Algemene Gedragskode
MOETS
- Biblioteekrekenaars mag slegs vir akademiese doeleindes gedurende spitstye gebruik word. Indien nie, kan jy gevra word om af te teken wanneer ‘n tou besig is om te vorm.
- Die Universiteit Stellenbosch se Elektroniese Kommunikasiebeleid (EKB) moet te alle tye nagekom word.
- Vra vir ‘n 15 minute-kennisgewing as jy jou werk op die rekenaar tydelik onbewaak moet laat.
- Meld aan by die inligtingsdienspunt indien jy vir 'n tyd in ‘n tou staan en wag vir ‘n rekenaar.
- Groepwerk in die vorm van besprekings, probleemoplossing- en dinkskrumsessies, en aanbiedingsaktiwiteite word in die gesprekskamers en groepwerkarea toegelaat.
- Gooi rommel op ‘n verantwoordelike manier weg.
- Rapporteer misbruik/beskadiging van die fasiliteit aan die personeel van die Leersentrum.
- Respekteer die omgewing en ander gebruikers van die fasiliteit te alle tye.
MOENIES
- Dit is nie toelaatbaar om 'n studie-/rekenaarplek te bespreek deur in te teken op rekenaars of persoonlike besittings te los nie.
- Moenie toerusting/meubels beskadig, daarmee peuter of verwyder sonder toestemming nie.
- Eetgoed word nie in die Leersentrum toegelaat nie. Drinkgoed is ook nie toelaatbaar nie, behalwe water in morsvrye houers.
- Waardevolle besittings moet nie onbewaak gelaat word nie.
- Geen kliënte mag in die Leersentrum agterbly ná sluitingstyd of wanneer hulle versoek word om die Leerssentrum te verlaat tydens noodsituasies of ontruimingsoefeninge nie.
- Die opsetlike beskadiging, vernietiging of diefstal van ander se besittings is ‘n misdaad.
Dissiplinêre optrede
Enige persoon wat hierdie reëls oortree, kan versoek word om die Leersentrum te verlaat. Herhalende wangedrag kan lei tot permanente uitsluiting van die fasiliteit.