
#USVROUE: Hulp aan vroue om hul burgerskapstatus aan hul kinders oor te dra
Die lewe kan baie moeilik wees vir 'n staatlose kind wat nie as 'n burger van enige land in die wêreld erken word nie. Een van die grootste bydraende faktore vir hierdie stand van sake is vroue se onvermoë om hul burgerskapstatus aan hul kinders oor te dra weens hul geslag. Takalanga Maziya van die departement Privaatreg aan die Universiteit Stellenbosch (US) probeer om deur haar navorsing 'n raamwerk te ontwikkel wat kan help om hierdie probleem aan te spreek.
As deel van Suid-Afrika se Vrouemaand-feesvieringe, vertel sy ons meer oor haar werk.
Vertel ons meer oor jou navorsing
Ek kyk spesifiek na wat Suid-Afrika se verpligting is ten opsigte van staatlose kinders. 'n Staatlose kind is 'n kind wat nie oor enige wettige dokumentasie beskik nie en wat nie as 'n burger van enige land in die wêreld beskou word nie. Dit is moeilik vir sulke kinders om toegang tot onderwys, gesondheidsdienste en maatskaplike toelae te verkry. Die probleem met staatloosheid is dat om staatloos te wees, beteken jy het geen verbintenis met enige staat in die wêreld nie. Dit maak dit moeilik om die mees basiese menseregte uit te oefen soos enige ander persoon kan wat 'n burgerskapstatus het. Kinders kan staatloos word weens verskeie faktore, insluitende 'n gebrek aan geboorteregistrasie, interne ontworteling en geslagsdiskriminasie in nasionale wette.
Suid-Afrika beskik nie oor 'n raamwerk wat die behoeftes en regte van staatlose kinders aanspreek nie. Ek hoop om deur my navorsing 'n raamwerk te ontwikkel wat nie net lig op die kwessie van staatloosheid sal werp nie, maar wat ook oplossings sal verskaf oor hoe Suid-Afrika kinderstaatloosheid kan voorkom en beëindig.
Waarom of hoe het jy in hierdie spesifieke navorsingsgebied geïnteresseerd geraak?
Ek wou nog altyd navorsing doen in 'n regsgebied waar ek voel ek die grootste invloed kan hê. Vir my was die voor die hand liggende keuse die gebied van geslagsgelykheid en kinderbeskerming. My huidige navorsing is 'n perfekte kombinasie van hierdie twee belangstellingsvelde. 'n Groot bydraende faktor tot kinderstaatloosheid is vroue se onvermoë om hul burgerskapstatus na hul kinders oor te dra weens hul geslag. 'n Vrou word in sommige lande byvoorbeeld nie toegelaat om haar burgerskapstatus aan haar kind oor te dra nie, en waar die vader óf onbekend is óf 'n buitelander is, word geen burgerskap aan die kind oorgedra nie en word die kind dus staatloos. Dit is skokkend dat daar vandag nog steeds wette is wat bloot op grond van geslag teen vroue diskrimineer.
Waarom dink jy is dit so 'n belangrike navorsingsgebied vir Suid-Afrikaanse vroue?
Ek dink vroue moet bemagtig word en bewus wees van die wette wat hulle raak. Dit is ook belangrik dat ons as Suid-Afrikaanse vroue sal besef ons kan slegs bemagtig word wanneer ons die skeidsmure afbreek wat ons bydrae tot die samelewing belemmer.
Die pandemie het ons manier van doen en lewe verander. Hoe bly jy gemotiveerd in hierdie tye?
Dit is beslis 'n uitdaging en soms het “COVID-afgematheid" die oorhand oor my gekry. Daarom moes ek doelbewus my geestesgesondheid prioritiseer.
Dit is regtig waar dat 'n mens “nie uit 'n leë beker kan skink nie". Ek maak tyd vir myself deur goed te doen wat my help om te ontspan (lees, kyk dokumentêre programme en oefen). Om op 'n goeie geestesvlak te wees, hou my gemotiveerd. Ek het geleer dat motivering alleen nie genoeg is nie, so ek fokus ook op die bou van dissipline, wat my verantwoordbaar hou vir die bereiking van my doelwitte.
Vertel ons iets opwindends oor jouself wat min mense sal verwag.
Ek het 'n tweelingsuster en ek praat ses Suid-Afrikaanse tale vlot.
Wat is jou boodskap aan die volgende geslag vrouenavorsers?
Stel duidelike doelwitte en strewe hulle na met alles wat jy het. Jy moet 'n navorsingsgebied kies waaroor jy passievol is. Navorsing kan soms skrikwekkend wees, daarom is dit belangrik om te onthou waarom jy begin het. Belangstelling in 'n spesifieke navorsingsgebied sal jou aan die gang kry, maar passie en dissipline sal jou gang hou.