
FGGW navorsing en suksesse ten toon gestel by akademiese jaardag
Die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) aan die Universiteit Stellenbosch kan trots wees op die wye reeks spiespunt-navorsing wat dit lewer wat ʼn beduidende impak op nasionale en globale vlakke maak.
Dit was die boodskap van die uittredende FGGW-dekaan, professor Jimmy Volmink, toe hy vir die laaste keer sy dekaansrede gelewer het by die opening van die fakulteit se 65ste Akademiese Jaardag. In sy toespraak het hy sy dank uitgespreek aan almal wat bygedra het tot die fakulteit se navorsingsonderneming.
“Ons navorsing maak ʼn inpak op die wetenskap en verander die manier hoe ons oor verskeie siektetoestande dink, dit het ʼn impak op gesondheid en gesondheidsorg, en lig beleide in op ʼn nasionale, asook op ʼn globale vlak. Ons kan baie trots wees op die impak wat ons as ʼn fakulteit maak," het Volmink gesê.
Hy het gesê dat die fakulteit ook trots kan wees op al die innovasie wat “baie gereeld voorkom". “Dit was baie duidelik tydens die Covid-19-pandemie. Mense het net byeen gekom – van studente wat klinici gehelp het om op hoogte te bly van die literatuur oor Covid-19, tot die digitalisering van die intensiewe sorgeenheid by Tygerberg-hospitaal, tot die 3D-druk van parte in samewerking met ander fakulteite, soos ingenieurswese."
Volmink het die aandag op die fakulteit se navorsingsprestasie gevestig en gesê dat die algehele aantal navorsingsuitsette toegeneem het van 324 eenhede in 2011 tot 690 in 2020. “Dit is ʼn merkwaardige toename – ons is nou die voorste fakulteit by die universiteit in terme van navorsingsuitsette."
In dieselfde tydperk het publikasie uitseteenhede van 199 tot 436 gestyg, meestersgraad uitseteenhede het van 74 tot 109 gegroei, en doktorale uitseteenhede toegeneem van 51 tot 144. “Op al hierdie vlakke was ons navorsingsuitsette merkwaardig oor die afgelope dekade," het hy gesê.
Die aantal inskrywings vir PhD-grade het ook drasties toegeneem – van 123 inskrywings in 2011 tot 266 in 2020. “Hierdie getalle is nie net ʼn aanduiding van die belangstelling nie, maar ook van die aanvraag vir ondersteuning en toesighouding. In 2011 het ons 17 studente gehad wat PhD-grade ontvang het, en in 2019 was dit 52. Die getal het effens afgeneem in 2020, na 44, as gevolg van Covid-19. Ons verwag dat daar vergoeding sal wees vir die afname in 2021."
Die gehalte van die fakulteit se navorsing kan ook gesien word in die aantal NNS-geklassifiseerde navorsers – van 34 in 2011 tot 91 in 2021. “Nog ʼn aanduiding van die erkenning wat ons navorsers geniet, is dat sedert 2011, ons befondsing vir sewe SARChI-navorsingsleerstoele ontvang het, asook twee leerstoele wat ekstern befonds word.
“Dit is weereens erkenning vir die werk wat ons doen en dit is eksterne bewyse van die geldigheid en waarde van ons werk. Dit is baie moeite om sulke toekennings te kry, en ons navorsers werk baie hard aan die werwing daarvan."
Volmink het klem gelê op die fakulteit se visie – om die toonaangewende navorsingsintensiewe gesondheidswetenskappefakulteit in en vir Afrika te wees – missie, en waardes: inklusiwiteit, verantwoordbaarheid, uitnemendheid, deernis, respek en gelykheid. “Gelykheid beteken om meer te gee aan diegene wat meer agtergesteld is. Ons hou dit in gedagte in die manier waarop ons besigheid doen en besluite maak by die fakulteit."
Wat die diversiteitsprofiel betref, het Volmink gesê dat die fakulteit daarin geslaag het om sy deure aan almal in die land te open. In 2011 was 70% van die studente vroulik, en die persentasie is dieselfde in 2020. In 2011 was 50% van studente wit, en Swart, Bruin, Indiër en Asiër (SBIA) studente het die ander 50% opgemaak. In 2020 is 62% van die studente by die fakulteit SBIA en 38% wit.
In 2011 was 67% van die werknemers by die fakulteit vroulik, en dit het toeneem tot 68% in 2020.
In 2011 was 64% van die personeel by die fakulteit wit, en 36% SBIA. Teen 2020 was die persentasies 56% wit en 44% SBIA.
“Ons is nog nie waar ons wil wees nie en vorentoe is daar nog werk om te doen."
In terme van die professoraat het die vroulike professoraat gegroei van 6.3% in 2011 tot 10.7% in 2020, terwyl die manlike professoraat gegroei het van 18.1% in 2011 tot 21.2% van personeel in 2020.
“Dit dui aan dat indien jy ʼn man in hierdie kategorie is, jy tweemaal meer waarskynlik is om ʼn professor te wees as ʼn vrou."
Die SBIA-professoraat het gegroei van 7.2% van personeel in 2011 tot 12.3% in 2020, terwyl die wit-professoraat gestyg het van 12.3% in 2011 tot 15.8% in 2020. “Ons het nog werk om hier te doen ook."
Volmink het hulde gebring aan almal wat ʼn rol speel in navorsingsondersteuning, insluitende die navorsing-etiekkomitees en die bemarking en kommunikasie afdeling. “Die termyn wat ek as dekaan gedien het wat een van die grootste ere van my lewe, en die een ding wat ek geleer het is dat sukses afhanklik is van samewerking, in ʼn spangees, met ʼn klomp mense."
Professor Nico Gey van Pittius, FGGW Vise-dekaan: Navorsing en Internasionalisering het gesê dat die akademiese jaardag vir die afgelope 65 jaar ʼn hoogtepunt op die akademiese kalender is. “Dit is ʼn tentoonstelling en viering van ons fakulteit se deurlopende wêreldklasnavorsing, en is ʼn geleentheid om na te dink oor die harde werk van ons navorsers en steunpersoneel, en die impak wat ons navorsing maak."
Hy het die wenners van die HD Brede-toekenning vir nagraadse navorsing in infeksiesiekte vir 2021 aangewys. Dit is ʼn jaarlikse toekenning wat die eerste professor in mikrobiologie by die fakulteit herdenk.
Die toekenning vir die Kliniese Navorsingkategorie is toegeken aan dr Ahmed A. Abulfathi van die Afdeling Kliniese Farmakologie vir sy artikel The Population Pharmacokinetics of Meropenem in Adult Paients with Rifampicin-Sensitive Pulmonary Tuberculosis.
En die toekenning vir die Biomediese Navorsingkategorie is toegeken aan dr James Gallant, van die Afdeling Molekulêre Biologie en Mensgenetika vir sy artikel PPE38-Secretion-Dependent Proteins of M.tuberculosis Alter NF-kB Signaling and Inflammator Responses in Macrophages.