Oor ons
Welkom by die Departement Mikrobiologie
Die Departement Mikrobiologie se historiese wortels kan teruggevoer word na 1918 toe Plantpatologie as 'n kundigheidsveld in die Fakulteit Agriwetenskappe erken is. Vandag het die departement 'n akademiese personeelkomponent van 16 voltydse navorsers, buitengewone professore en navorsingsvennote, wat in nege navorsingsgroepe met hul eie moderne laboratoriums werk.
Tans spog die departement met 'n jaarlikse inname van 10 tot 15 BSc Honneursstudente en 'n senior nagraadse span van 30 tot 35 MSc-studente, 10 tot 15 PhD-studente en 6 tot 10 postdoktorale genote. Tussen 25 en 35 navorsingsartikels per jaar word in hoogaangeskrewe internasionale tydskrifte gepubliseer. Die konsekwente lewering van hoëgehalte-publikasies en 'n hoë vlak van onderrig en navorsing word weerspieël in die uitstekende NRF-evaluerings van personeel.
Personeel van die departement neem aktief deel aan 'n wye verskeidenheid nasionale en internasionale aktiwiteite. Verskeie personeellede dien op die raad van geakkrediteerde tydskrifte, insluitend Applied and Environmental Microbiology, Beneficial Microbes, Biodeterioration & Biodegradation, International Journal of Food Microbiology, Journal of Applied Microbiology, Microbial Ecology, FEMS Microbiology Letters, Probiotics and Antimicrobial Proteins en South African Journal of Enology and Viticulture. Personeellede dien ook op die Raad van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Mikrobiologie, die Koninklike Vereniging van Suid-Afrika, sowel as die komitee van die Internasionale Unie van Mikrobiologieverenigings (IUMS) en verskeie ander nasionale en internasionale wetenskaplike komitees.
Die sukses van die departement word toegeskryf aan 'n gemotiveerde span, 'n uitstekende infrastruktuur en uitstekende finansiële ondersteuning van die NRF, Innovasiefonds, THRIP, Suid-Afrika se Nasionale Energienavorsingsinstituut (SANERI), Tegnologie-innovasieagentskap (TIA), Mediese Navorsingsraad en die Waternavorsingskommissie. Dit is ook trots op uitstekende finansiële ondersteuning van industriële vennote en die sluiting van groot navorsingskontrakte.
Vir meer inligting oor die departement, sien die Fakulteit Natuurwetenskappe se Jaarverslae.