
Jong Ekonome van US wen kompetisie
Die wenners van vanjaar se Jong Ekonoom-kompetisie is ʼn span slimkoppe van die Universiteit Stellenbosch (US).
Ashley Williamson en Kay-Dee Adams, wat as Economisticated ingeskryf het, kraai vanjaar koning in dié gewilde kompetisie vir eerstejaar-ekonomiestudente.
Die wenners is onlangs tydens ʼn funksie by die Media24-sentrum in Kaapstad aangewys.
Hierdie kompetisie, wat jaarliks deur die US aangebied en deur Die Burger geborg word, het inskrywings van die US, Universiteit van Wes-Kaapland (UWK), die Universiteit Kaapstad (UK) en die Militêre Akademie in Saldanha gelok.
Studente kon in spanne van twee tot vier inskryf en moes onder meer voorspellings maak van die rand-dollar- en rand-euro-wisselkoers.
Voorspellings vir die jaarlikse bruto binnelandse produk (BBP) vir die tweede kwartaal van 2016, totale verbruikersprysindeks (VPI) en produsenteprysinflasie (PPI) vir Julie en Augustus asook ander sentrale makro-ekonomiese veranderlikes, moes ook gedoen word.
ʼn Totaal van 16 voorspellings in stelle van vier is ongeveer een week voor die bekendmaking van die relevante data, ingedien. Elke voorspelling het punte ontvang volgens die berekeninge en die verspreiding van al die spanne se voorspellings as ʼn maatstaf.
Behalwe die numeriese voorspellings, moes spanne ook ʼn kort motivering gee vir hul voorspellings.
Punte is verder ook toegeken vir insig. Studente kon dus selfs vir onakkurate voorspellings goeie punte behaal vir hul demonstrasie van relevante kennis van aktuele sake en die ekonomiese gevolge daarvan.
Spanne se finale puntetellings is bereken as ʼn gemiddeld van hul punte vir die akkuraatheid van hul voorspellings én vir hul motiverings.
Ander wenners
Die tweede plek is behaal deur Onikwa Gogo en Thabo Mmasa, die eerste studente van die Militêre Akademie op Saldanha wat aan die kompetisie deelgeneem het.
Die Golden Rule-span bestaande uit Musa Mtsweni, Nosipho Ngubane en Nolwazi Zungu van die UK was derde en in die vierde plek was ook ʼn UK-span, Tiantao Huang en Taru Singhal (Guess-groep).
Economisticated was tweede in beide die afdelings vir voorspellings en motivering.
Die wenspanne is met onderskeidelik R12 000, R5 000 en R4 000 beloon, en die topspanne van die US, UK en UWK het medaljes ontvang.
- Foto: Prof Rachel Jafta, ekonomieprofessor by US en voorsitter van Media24, die wenspan bestaande uit Kay-Dee Adams en Ashley Williamson van die US, en mnr Willem Jordaan, redakteur van Die Burger.