Skip to main content
Desember-graduandi kan eie Klas van 2016-wyne koop

Desember-graduandi kan eie Klas van 2016-wyne koop

Engela Duvenage
04 Desember 2016

Spesiaal-geëtiketeerde Graduandi 2016-wyne ter viering van gradeplegtigheidsweek word hierdie week by die Universiteit Stellenbosch (US) se eie wynkelder verkoop.

Die US is die enigste universiteit in Suid-Afrika wat sy eie wynkelder het. Dit is binne stapafstand van die kampus geleë langs die Eersterivier, naby die ingang tot die Welgevallen Proefplaas. Die US se historiese embleem, asook die 2016-graduandijaar, sal op bottels Die Laan en Rooiplein Maties wyne uit die US se eie Welgevallen Kelder pryk.

Die 2015 Die Laan Merlot, byvoorbeeld, het vanjaar 'n goue Veritasmedalje ontvang, terwyl twee ander wyne ook Veritas-medaljes gekry het. Daar is ook 'n beperkte voorraad van Die Laan Almuni 2015 Magnum beskikbaar, met slegs 600 bottels van dié Cabernet Sauvignon/Shiraz/PetitVerdot versnit wat te koop is.

Riaan Wassung, keldermeester van die Welgevallen Kelder, het studente uit alle fakulteite genooi om van dié wyne aan te skaf, as aandenking aan hul studentejare op die US-kampus. "Dis ook 'n goeie geskenk om vir jou ouers, 'n dosent of ander ondersteuners te gee om hulle te bedank vir die wyse waarop hulle bankvas agter jou gestaan het tydens jou studies," gee Wassung nog 'n idee of twee.

Om vooraf-bestellings te plaas, kontak Riaan Wassung ([email protected]) by die Welgevallen Kelder. Vir meer inligting oor die beskikbare wyne, besoek die Facebook blad "Die Laan Wines" by https://www.facebook.com/DieLaanWines/.

Bestellings kan vooraf geplaas word en gedurende hierdie week by die kelder afgehaal word. Aankope kan ook direk by die kelder gemaak word tydens gradeplegtigheidsweek (5 – 9 Desember) tussen 08:00 en 16:00. Dit is Suidwalstraat, tussen Paul Roos Gimnasium en die Coetzenburg-stadion, geleë.

Betalings kan elektronies (EFT) gemaak word, terwyl kaart- en kontantfasiliteite ook by die kelder beskikbaar is.

Na gradeplegtigheidsweek sal die kelder tot 9 Januarie 2017 gesluit wees. Daarom moet bestellings hierdie week reeds afgehaal word.

Voorafbestellings en –betalings (die voorkeuropsie)

Om te verseker dat daar nog voldoende voorraad is van die wyn wat jy wil bestel, word aanbeveel dat jy jou bestelling en betaling reeds doen. Volg asseblief onderstaande stappe:

• Voltooi die wynbestelvorm en bereken die totale bedrag wat jy verskuldig is.

• Doen 'n elektroniese inbetaling. Die rekeningbesonderhede is op die wynbestelvorm. Maak asseblief seker dat jy die verwysingskode meld, soos op die bestelvorm aangedui is.

• E-pos die volgende aan [email protected]

  1. Jou voltooide wynbestelvorm
  2. Jou bewys van betaling.

Aankope direk by die Kelder

Indien jy eerder jou aankope direk by die Kelder tydens die gradeplegtigheidsweek te doen, kan jy jou betaling in kontant, of met jou debiet- of kredietkaart, doen.

Vir navrae, kontak keldermeester Riaan Wassüng by 021 808 2925, 021 882 9443 of [email protected].