Skip to main content
US meesterstudent vang graad ná brein tumor

US meesterstudent vang graad ná brein tumor

Corporate Communications/Rozanne Engel
04 April 2019

​Die skokontdekking van 'n gewas op sy brein het Andrew Steiner se studies net 'n jaar nadat hy met sy MIng-graad by die Universiteit Stellenbosch (US) in 2016 begin het, onverwags in 2017 tot stilstand gedwing. Maar hy het hom nie laat onderkry deur hierdie onbeplande onderbreking nie en op Woensdag, 3 April 2019, het hy sy MIng-graad in Chemiese Ingenieurswese by die US se gradeplegtigheid vir die Fakulteit Ingenieurswese ontvang.

Steiner vertel dat toe hy in 2016 met sy MIng studies aan die US begin het, hy baie optimisties en seker was dat hy dit binne die voorgeskrewe twee jaar sou kon afhandel. 

“Ek het eerlikwaar nie so iets verwag nie. Toe ek in 2017 met brein tumor gediagnoseer is, moes ek my studies vir 'n jaar onderbreek vir die vyf breinoperasies en vir tyd om te herstel. Gedurende hierdie tyd van hospitale, breinvliesontsteking, operasies en herstel was ek baie dankbaar vir my familie se ondersteuning en gelukkig het die Nasionale Navorsingstigting (NNS) 'n verlenging op my beurs toegestaan sodat ek my meestersgraad kon voltooi.

“Toe ek my ma bel met die nuus dat ek my graad geslaag het, moes ek baie hard teen die trane veg. Ons was almal oorstelp van blydskap. My mondelinge voorlegging en geslote eksamen het regtig baie goed afgeloop. Ek het nog altyd wiskunde en probleemoplossing geniet en chemiese ingenieurswese as vak leun swaar hierop. Aanvanklik het ek vir die MIng-kursus aansoek gedoen omdat my punte goed genoeg was en omdat my pa 'n chemiese ingenieur in Switserland is. Ek het egter gou besef dat ek nie in enige ander beroep as chemiese ingenieurswese gelukkig sal wees nie."

Steiner se navorsing vir sy MIng-graad het op die afbreking van furfuraal – 'n platform-chemikalie wat uit biomassa soos suikerriet-bagasse, mieliestronke of hout vervaardig word – gefokus. Sy verhandeling het nuwe lig gewerp op hoe om die afbreking te minimaliseer. Furfuraal kan verder verwerk word om talle ander produkte van grimering en parfuum tot nematodedoders en swamdoders tot Lycra-materiaal en vuurpylbrandstof te vervaardig.

Dit kom daarop neer dat hy 'n stukkie tot die legkaart om die produksie van furfuraal te verstaan, bygevoeg het sodat dit meer doeltreffend (goedkoper) vervaardig kan word, wat meer nywerhede in staat sal stel om eerder furfuraal as petrochemies-gebaseerde chemie te gebruik.

Hoewel Steiner baie verlig is om klaar te wees met sy studies, gaan hy die mooie Stellenbosse berge en wynplase baie mis. Hy is ook dankbaar vir die ondersteuning van die US se eenheid vir gestremdhede, wat gehelp het om vrywilligers te vind wat hom kon bystaan met sy teruggekeer na die kampus ná sy herstel. “Hierdie groep studente het aangebied om beurte te maak om saam met my kampus toe en terug te stap. Dit is alles deur die eenheid vir gestremdhede gereël. Wat so ongelooflik was, is dat hierdie studente my letterlik skaars geken het, maar tog aangebied het om my te help."

Steiner sê terwyl hy sy siekte oorkom en na die US teruggekeer het om sy studies te voltooi, het sy geloof en die besef dat hy die doel en betekenis van sy lewe moes ontdek, belangriker as ooit vir hom geword.

“Studente soek hul doel of betekenis in goeie tye, prestasies, sukses en verhoudings, maar om dit eenvoudig te stel: Dit is alles betekenisloos en taan met die tyd saam. Die enigste konstante en die enigste ding wat regtig die moeite werd is om voor te leef, is ons hemelse vader. Ek sê glad nie dat God en sukses, verhoudings, ens. onderling uitsluitend is nie en dat dit onverenigbaar is nie. Al wat ek sê is dat Hy die enigste iets is wat bevrediging, vervulling, vrede en 'n doel gee. Soek Hom eers en al hierdie goeie dinge sal vir jou bygevoeg word."

Steiner se raad aan sy maats en voornemende studente is om elke geleentheid om te studeer te gebruik en jou opvoeding te bevorder. “Kies jou vakrigting omdat dit jou liefde is en nie omdat jy dink dit sal jou in staat stel om baie geld te verdien nie."

Hy beplan om in Switserland in die biohulpbronne-ingenieursveld te gaan werk omdat hy glo dat hierdie bedryf belangrike werk doen om klimaatsverandering te verlig en hy wil graag daarby betrokke wees. ​​