Regterhand - Eben Stal
- Veldwerk: Doen seisoenale boordproewe, bespuiting en vrugtetelling regoor die Boland.
- Laboratoriumpligte: Teken vrugtekwaliteitsdata aan en berei voorgraadse opleidingsmateriaal by die US voor.
- Ervaring: Permanent aangestel sedert 2017 met gespesialiseerde chemiese en veiligheidsopleiding.
Op enige gegewe dag kan 'n mens die navorsingsassistent Eben Stal in 'n boord in Grabouw aantref, en 'n paar uur later in 'n ander een in Ceres. Om tussen die belangrikste sagtevrugte-produksiegebiede van die Boland rond te rits, is alles deel van sy werk – en hy is mal daaroor.
“Daar is net iets omtrent die vroeë oggendopstaan en plaas toe ry, en om jouself kort voor lank in 'n boord te bevind waar jy werk,” peins mnr. Stal, wat in die Karoo gebore is maar in Stellenbosch grootgeword het.
Hy het sowat vyf jaar gelede in 'n tydelike posisie in die Departement Tuinbouwetenskap aan die Universiteit Stellenbosch begin, nadat hy onder meer vir Tiger Brands gewerk het. Mnr. Stal is in 2017 permanent aangestel. Sy posisie word moontlik gemaak deur die voortdurende finansiële steun van die EJ Lombardi Trust aan die Departement Tuinbouwetenskap.
Hy is sedertdien 'n baie gewaardeerde regterhand vir baie Matie-studente wat besig is met boordgebaseerde voor-oesnavorsing as deel van hul nagraadse studies in tuinbouwetenskap.
“Ek help hulle om proewe op kommersiële plase uit te lê, om behandelings toe te pas, om metings deur die seisoen te neem en om vrugte te versamel om te bemonster en te ondersoek. Dit word alles volgens hul navorsingsprotokol gedoen,” verduidelik mnr. Stal meer oor sy belangrike ondersteunende rol.
Sommige dae beteken dit hy sal bespuitings doen – 'n werk waarvan hy besonder baie hou – as deel van chemiese uitdunnings- of vrugkleurverbeteringsproewe, of hy tel die vrugte wat aan 'n boom ontwikkel. Ander dae werk hy aan rusbrekingsproewe of eksperimente met blaarvoedingstoediening. Die veldwerk wat van hom verlang word, hang alles af van die seisoen en die tipe vrugte wat ondersoek word. Die spitstyd van die oesseisoen kan veral besig wees.
Wanneer mnr. Stal nie op die pad of in 'n boord is nie, is hy te vinde in die Rypheidsindekseringslaboratorium in die EJ Lombardi-gebou, die tuiste van die US se Departement Tuinbouwetenskap. Daar weeg en ondersoek hy vrugte in die Rypheidsindekseringslaboratorium wat vanaf eksperimentele persele geoes is. Vruggehaltedata soos grootte, vrugfermheid, defekte en ander rypheidsparameters soos kleur en styselinhoud word alles per rekenaar aangeteken vir toekomstige verwysing.
Mnr. Stal is ook in beheer van die versameling en voorbereiding van materiaal vir die praktiese opleiding van voorgraadse studente.
Soms moet hy ook as sjofeur optree vir studente wat boorde moet inspekteer wat deel van hul navorsingswerk uitmaak, maar wat nog nie 'n bestuurderslisensie opgedoen het nie.
Om in die Departement te werk het oor die jare aan mnr. Stal 'n deeglike waardering gegee vir die moeite wat gedoen word om te verseker dat daar gehaltevrugte is vir verbruikers om in die winkels te koop.
“Dit verg baie moeite, en baie daarvan word in die warm son gedoen,” merk hy op.
Die werk hou ook 'n paar ander gevare in.
“Moenie taaippitperskes pluk sonder om 'n langmouhemp te dra nie. Jy gaan jeuk. As dit wel gebeur, is die kuns om nie te krap nie, maar dit is moeilik!”
Mnr. Stal het oor die jare sy vaardighede uitgebou deur drie kortkursusse by te woon oor die veilige hantering van chemikalieë, die hantering van spuittoerusting en die hantering van snoeitoerusting, asook die bywoning van 'n eerstehulp- en brandbestrydingskursus.
“Ek geniet dit terdeë om in die Departement te werk and het oor die jare baie by ander personeel geleer!” merk hy op.