
Frederik Van Zyl Slabbert-gedenklesing
Dennis Davis, 'n voormalige regter van die hooggeregshof, het Maandag (29 Maart 2021) die Frederik Van Zyl Slabbert- (FVZS-)erelesing gelewer ter viering van die tiende bestaansjaar van die Federik Van Zyl Slabbert Instituut in die Universiteit Stellenbosch (US) se Sentrum vir Studenteleierskap, Ervaringgerigte Opvoeding en Burgerskap.
Die jaarlikse lesing vier nie net die lewe en waardes van wyle dr Van Zyl Slabbert, 'n voormalige Kanselier van die US, nie, maar moedig ook kritiese en stimulerende gesprek oor ons land en vasteland aan.
Die tema vir vanjaar se lesing was “Kiesreghervorming: Hoe demokratiese responsiwiteit verantwoordelike regering fasiliteer", onder andere om hulde te bring aan Van Zyl Slabbert se omvattende werk op hierdie gebied. In sy verwelkomingsrede het prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die US, gesê die fasilitering van verantwoordelike regering blyk nou dringender as ooit vantevore. “Eerwaarde Jesse Jackson het eenmaal gesê leierskap kan nie maar net ou stryk, een stryk wees nie. Leiers moet die morele uitdagings van hulle tyd die hoof bied. Dít is wat Frederik Van Zyl Slabbert gedoen het, en dít is die werk wat deur sy nalatenskap geïnspireer word – die werk wat tot vandag toe in sy naam voortgesit word."
Hy het bygevoeg dat Van Zyl Slabbert se bydrae as 'n agent vir verandering in die onlangse geskiedenis van Suid-Afrika nie onderskat moet word nie. “Sy reputasie het die toets van tyd deurstaan en sy nalatenskap beïnvloed en inspireer 'n opwindende nuwe geslag leiers en denkers. Hy was sy loopbaan lank 'n passievolle kampvegter vir demokrasie, en sy erns met maatskaplike kwessies getuig daarvan. Hierdie nalatenskap rig die werk wat die Instituut doen en nog sál doen."
Davis het in sy lesing aangetoon hoe die “bekende Slabbert-kommissie oor kiesreghervorming die spil geword het waarom soveel van ons gesprekke oor kiesreghervorming draai". Hy het verwys na die uitspraak deur die Konstitusionele Hof verlede jaar, waar die meerderheid van die hof die Kieswet ongrondwetlik verklaar het in soverre dit toelaat dat volwasse burgers slegs deur lidmaatskap van politieke partye in die Nasionale Vergadering en provinsiale wetgewers verkies kan word.
“Die Konstitusionele Hof het dus in wese gesê jy kan nie 'n kiesstelsel hê wat slegs een roete toelaat om deur verkiesing in die Nasionale Vergadering te kom, naamlik deur lidmaatskap van 'n politieke party, nie. Die hof het die Parlement tyd gegun om dít reg te stel en om vir die idee van onafhanklike kandidate voorsiening te maak."
Hy het gesê daar is sedertdien 'n aantal voorstelle gedoen omdat die Parlement nou die Kieswet met die meerderheidsuitspraak van die Konstitusionele Hof moet versoen. “Twee voorstelle staan uit – een onder leiding van Roelf Meyer, en 'n ander deur die Helen Suzman-stigting. Wat 'n mens van hierdie voorstelle opval, is die duidelike ooreenkomste met wat Dr Van Zyl Slabbert en sy span soveel jare gelede aanbeveel het toe hulle die idee wou ontgin dat proporsionele verteenwoordiging nie net deur middel van partylyste hoef te wees nie; dat dit ter wille van verantwoordbaarheid belangrik is om ook 'n komponent in die kiesstelsel te hê wat op kiesafdelings gegrond is."
Hoewel Davis bevraagteken of hierdie voorgestelde stelsel werklik meer verantwoordbare regering sal teweegbring, is hy seker dit sal wél politieke base se invloed verminder.