Johan van Rooyen
Van ponskaarte tot 24/7-labs: Johan van Rooyen neem afskeid van US
- Van ponskaarte tot 24/7-labs: Johan van Rooyen neem afskeid van US
Na 35 jaar se getroue en onbaatsugtige diens aan die Universiteit Stellenbosch (US) neem Johan van Rooyen, bestuurder van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe se Rekenaargebruikersarea (FHARGA), nou afskeid. Hy is ’n man van min woorde en huiwerig om oor homself te praat, maar sy invloed op geslagte studente en sy kollegas spreek boekdele.
Beginjare en ’n onverwagte rigting
Johan het aan die Hoërskool Vredendal gematrikuleer en daarna sy verpligte diensplig in die Suid-Afrikaanse Lugmag voltooi.
Hy begin elektroniese ingenieurswese aan US studeer, maar verander van studierigting en voltooi ’n BRek-graad. Aan die einde van sy derde jaar ontvang hy ’n onverwagte werksaanbod van Rekeningkunde-dosent prof Quintus Vorster – dié van tegniese assistent in die destydse Departement Rekeningkunde.
Teen daardie tyd het Johan reeds sy lewensmaat, Johanna, ontmoet. Hulle is in 1986 getroud, en Johan het deeltyds as busbestuurder by JP du Preez Vervoerdienste gewerk om die pot aan die kook te hou. Vandag is hulle die trotse ouers van twee seuns: een het in sy pa se voetspore gevolg en inligtingstegnologie sy beroep gemaak, en die ander werk op die historiese Babylonstoren-plaas naby Simonsberg.
Van tegniese assistent tot FHARGA-bestuurder
In Februarie 1990 het Johan prof Vorster se aanbod aanvaar en binne ’n jaar ’n permanente personeellid geword. Sy pligte was uiteenlopend en veeleisend en het onder meer ingesluit dat hy met praktiese klasse in die Departement se rekenaarlokale help, asook met rekenaaronderhoud.
Nadat hy sy Honneursgraad in Finansiële Rekeningkunde in 1993 behaal, word hy bo en behalwe sy tegniese assistentpos by FHARGA, ook ’n deeltydse dosent in Inligtingstelsels (1994–2005).
“Dit was ’n uiters besige tyd,” onthou hy. “Ek was net een persoon en saam met die doseerwerk het hope nasienwerk gekom.”
Toe prof Johan Matthee, destyds voorsitter van die Departement Rekeningkunde, hom vra om ’n posbeskrywing van sy verantwoordelikhede saam te stel, het Johan grappenderwys gesê hy sou graag die pos wou hê, maar twyfel of die vergoeding die werklas sou weerspieël. Prof Matthee se onvergeetlike antwoord was: “Skryf jou eie tjek.” Johan vertel laggend dat hy dalk finansieel meer ambisieus kon wees, maar hy het uiteindelik die eerste bestuurder van FHARGA geword; ’n mylpaal wat die toekoms van rekenaargebruik en -bestuur in die Fakulteit bepaal het.
Die uitbou van die rekenaargebruikersareas
Die 1990’s is gekenmerk deur enorme groei: die rekenaarfasiliteite het van 80 tot meer as 300 toestelle toegeneem. Gebruikersareas het die Victoriastraat-kant van die boonste verdieping van die Van der Sterr-gebou beslaan, met nog twee lokale op die grondvloer.
“Studentegebruik was destyds meer gestruktureerd en die areas was ná ure gesluit,” verduidelik Johan. “Dit was eers in die laat 1990’s, nadat ons toegangsbeheer gekry het, dat dit 24/7-ruimtes geword het – behalwe natuurlik tydens instandhouding.”
Toe prof Matthee in 1996 dekaan word, het FHARGA amptelik na die Dekaanskantoor geskuif. Dit het rekenaardienste vir elke departement in die Fakulteit gesentraliseer.
Die bekende FHARGA-fasiliteite op die boonste vloer van die Neelsie is in 2013 gebou. Teen daardie tyd het die FHARGA-span tot vyf personeellede aangegroei en die rekenaaromgewing het feitlik onherkenbaar verander sedert Johan se studentedae, toe programmering die gebruik van ponskaarte behels het om byvoorbeeld die eerste 100 priemgetalle te bereken – en te hoop dat drukstukke die volgende oggend gereed sou wees.
“Met die toevoeging van die rekenaarfasiliteite in die Jan Mouton Leersentrum het die Fakulteit nou meer as 1 000 rekenaars in sy verskeie rekenaarsentrums,” merk Johan op.
Herinneringe aan Neelsie – en ’n uitsmijter vir onder R1
Johan onthou die Neelsie van die 1980’s met nostalgie; daar waar honger studente op die alombekende (gesubsidieerde) uitsmijter oorleef het: ’n sny brood bedek met ham en ’n gebakte eier, plus ’n ruim porsie skyfies. “Jy kon ’n uitsmijter vir minder as R1 koop,” sê hy met ’n glimlag.
“Die heel beste deel van my werk was nog altyd dat daar voortdurend iets nuuts en opwindends gebeur,” sê Johan. “Ons moet innoverend bly en by die gedurig veranderende IT-behoeftes aanpas.”
Hy verwys met hartlikheid na sy kollegas: “Ek werk met jong mense. En dan is daar my span – die ondersteuning wat ek van hulle gekry het, was ongelooflik.”
Johan is bekend vir sy bereidheid om enigiemand te help. “Dit is die beste gevoel – om te weet jy het iemand anders gehelp,” sê hy. Sy filosofie is eenvoudig: raak betrokke, selfs al is iets nie tegnies deel van jou werk nie. “Dit help gewoonlik om dinge beter te maak.”
Wat voorlê
Johan het geen streng aftreeplan nie. “By die Universiteit was my lewe uiters georganiseerd, veeleisend en deur sperdatums gedrewe. My persoonlike lewe, waar georganiseerde chaos heers, het nog altyd vir ontvlugting gesorg.”
Van een ding is hy seker: sy aftrede gaan nie agter ’n tuisrekenaar deurgebring word nie. “As ek dit by die huis gebruik, is dit omdat ek navorsing doen of iets bou, soos ’n elektroniese stroombaan.”
Verder sien hy uit na sy vele stokperdjies: visvang, houtwerk, om die buitelewe te geniet en tyd saam met familie en vriende in Upington, Mosselbaai, Plettenbergbaai en by die huis deur te bring.
Baie dankie
Die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe spreek hul opregte dank teenoor Johan uit vir sy dekades lange toewyding, leierskap en stille krag. Sy wysheid, institusionele kennis en goedhartigheid het baie lewens verryk.
Dankie, Johan. Jy sal baie gemis en met warmte onthou word. Ons wens jou ’n vreugdevolle, vervullende en welverdiende aftrede toe.