Prof Mias de Klerk, Hoof van die Sentrum vir Verantwoordelike Leierskapstudies by SBS.
Prof Mias de Klerk se reis van ingenieurswese tot organisasiegedrag
- Prof Mias de Klerk se reis van ingenieurswese tot organisasiegedrag
Prof Mias de Klerk se reis van ingenieurswese tot organisasiegedrag
Prof Mias de Klerk se loopbaan is ’n toonbeeld van doelgerigte herontdekking. As hoof van die Sentrum vir Verantwoordelike Leierskapstudies by die Stellenbosch Bestuurskool (SBS) weerspieël sy pad – van meganiese ingenieur tot gerespekteerde navorser in organisasiegedrag – ’n lewenslange verbintenis tot betekenisvolle werk, ’n tema wat elke belangrike besluit in sy lewe help vorm het.
Mias se professionele reis het met sy graad in meganiese ingenieurswese aan die Universiteit van Pretoria (UP) begin. Kort daarna het hy by SASOL aangesluit en vinnig tot by senior bestuurder gevorder. Op net 35 het hy die jongste lid van Sasol Synfuel se uitvoerende komitee geword. Die sukses wat ander gevier het, het hom egter onvervuld gelaat. Ná ’n tyd van selfondersoek en nadenke het hy vir ’n MBA deur UNISA ingeskryf. Die intellektuele vonk wat daardie ervaring meegebring het, het onverwags ’n deur oopgemaak: die ontdekking van sy ware roeping. Dit het aanleiding gegee tot ’n PhD in Organisatoriese Gedrag by UP.
Gedurende hierdie tyd het hy ook noue bande met die Universiteit van die Vrystaat ontwikkel, waar hy verantwoordelik was vir die supervisie van Meestersgraadstudente, terwyl hy sy akademiese ervaring uitgebrei het deur klas te gee vir M-studente in Bedryfsielkunde by UP. Ná 27 jaar by SASOL het hy die dapper besluit geneem om van loopbaan te verander. In 2015 het hy as medeprofessor wat in organisatoriese gedrag spesialiseer, by die Universiteit Stellenbosch se Bestuurskool aangesluit. Hy is ook as Hoof van Navorsing aangestel, ’n posisie wat hy tot 2022 beklee het. Binne ’n jaar is hy tot vol professor bevorder, en in 2018 het hy prof Eon Smit, voormalige direkteur van SBS, opgevolg as redakteur van die SA Journal of Business Management. Dié rol het hy met onderskeiding vervul tot vroeër vanjaar.
Dwarsdeur sy loopbaan het Mias homself tot betekenisvolle betrokkenheid by organisasies verbind. Dit het ook die grondslag gelê vir sy konsultasiewerk in Suid-Afrika en Namibië, en al tree hy amptelik af, sal hy steeds klasgee en as supervisor vir PhD-studente by SBS optree.
Vroeg in die gesprek verwys Mias na Viktor Frankl, filosoof en oorlewende van die Joodse volksmoord, wie se werk op die mens se soeke na betekenis gefokus het. Hy vind aanklank by Frankl se denke oor doelgerigtheid en -bewustheid. “Betekenisvolle werk” is nie net ’n akademiese belangstelling nie; dit was nog altyd die kompas waarvolgens hy keuses gemaak het.
Wat hy die meeste gaan mis, sê hy, is die voorreg om ’n bydrae tot ander se lewens te maak. “Ek het baie betekenisvolle gesprekke gehad met die professionele mense wat ook my studente was. Ek glo ek kon ’n verskil in baie se lewens maak, en ek weet hulle sal dit onthou.” Sy oortuiging dat dosente die trajek van studente se lewens kan beïnvloed, was altyd sentraal in sy benadering tot onderrig.
Aftrede is dus nie ’n einde nie, maar ’n fokusverskuiwing. “Ek sien uit na die toekoms, veral om te kan kies wat betekenisvol is vir my en hoe ek my tyd bestee,” sê hy. “Ek is emosioneel en finansieel goed voorbereid vir aftrede. Ek wil betrokke bly in my veld; dit hou ’n mens skerp.”
Buite die akademie wag ’n kleurryke lewe. Mias en sy vrou van 43 jaar, Melissa, woon in Aurora in Durbanville. Hulle is ywerige voetslaners wat voetslaanpaaie op Tafelberg, in Jonkershoek, die Karoo en ook in die buiteland verken. Hulle het onlangs teruggekeer van ’n twee week lange staptog in Italië en ’n besoek aan hul dogters, een in Amsterdam en die ander in Vancouver. ’n Jong kleinseun in Amsterdam verskaf die vreugdevolle aansporing om ’n soortgelyke reis vroeg in 2026 aan te pak.
Mias is ook ’n ywerige fietsryer en ’n passievolle bonsai-entoesias. “My belangstelling in bonsai is in 2007 aangewakker toe my vrou vir my ’n bonsaiboom gegee het,” verduidelik hy. Die skuif van Johannesburg na Kaapstad in 2015 was teenspoedig – “Ek het ongelukkig 50% van die bome verloor” – maar sy versameling het intussen aangegroei tot tussen 80 en 90 sorgvuldig versorgde boompies.
Wanneer hy terugkyk op sy loopbaan, is sy raad aan jonger kollegas eenvoudig maar diepsinnig: “Doen wat betekenisvol is vir jou. As jy dié pad volg, sal jy die moeilike tye in jou loopbaan kan hanteer.” Dit is dieselfde boodskap waarvolgens hy geleef het, en sy nalatenskap vir dié wat volg.