Skip to main content
header - donated computers
Image by: Supplied
Ekonomie, ondernemingsbestuur en openbare bestuur

Van rekenaarlaboratorium tot gemeenskapsbate: impak van EMS-skenking strek verder as kampus

Ronél Beukes
03 Junie 2026
  • Van rekenaarlaboratorium tot gemeenskapsbate: impak van EMS-skenking strek verder as kampus

Gebruikte rekenaars van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch help bevorder onderwys, vaardigheidsontwikkeling en rehabilitasie in die Stellenbosch-gemeenskap en verder weg.

Rekenaars wat voorheen deur studente in die Fakulteit gebruik is, maak nou ’n betekenisvolle verskil by ’n vroeëleersentrum, ’n kerk en ’n korrektiewe fasiliteit.

Die skenkingsinisiatief het ontstaan tydens ’n onlangse opgradering van een van die Fakulteit se rekenaargebruikersareas.

Mev Heena Jivan, Hoof van IT en Operasies in EBW, vertel: “Terwyl ons die rekenaars in een van die rekenaargebruikersareas opgegradeer het, het ek besluit om sommige daarvan vir ’n gemeenskapsuitreikprogram te gebruik.

“Rekenaars wat vervang word, word gewoonlik verkoop. Ek het gedink: Waarom nie van die beskikbare rekenaars aan verdienstelike ontvangers in die gemeenskap skenk nie?”

Nadat sy met haar span beraadslaag het, is twee organisasies as begunstigdes geïdentifiseer, terwyl ’n derde versoek deur die Universiteit ontvang is. Altesaam 14 rekenaars is geskenk: vier aan Junior Akademie, vyf aan St Mary’s Anglikaanse Kerk en vyf aan die Ubuntu Learning Community.

Mrs Lorain du Plessis Smit, Principal of Junior Akademie (sitting), with Mrs Heena Jivan, Head of IT and Operations of the Faculty of Economic and Management Sciences and two of her team members, Chris Bosman (with blue shirt) and Thurlo Muller.

 

Steun aan vroeëkinderontwikkeling

Junior Akademie, ’n vroeëontwikkelingsentrum in Stellenbosch, bedien 135 kinders tussen die ouderdomme van vier maande en vyf jaar en het 27 personeellede in diens.

Volgens die hoof, mev Lorain du Plessis Smit, sal toegang tot rekenaars die sentrum se daaglikse bedrywighede aansienlik verbeter deur onderwysers met voorbereiding, administrasie en kommunikasie te help.

Die skenking sal ook personeellede baat wat verder studeer terwyl hulle voltyds werk.

“Junior Akademie het ses personeellede wat vanjaar hul studies voortsit, maar wat nie toegang tot persoonlike rekenaars of skootrekenaars het nie,” het Du Plessis Smit gesê.

“Om voltydse werk – van vroegoggend om 6:30 tot laatmiddag om 17:30 – met studies te kombineer, is reeds ’n groot uitdaging. Toegang tot persoonlike rekenaars verlig hierdie las aansienlik en ondersteun hul akademiese sukses op ’n betekenisvolle wyse.”

The Rector of St Mary's, the Rev Canon Enrico Heuvel, with Mrs Heena Jivan, Head of IT and Operations of EMS, standing on both sides of a trolley with donated computers, and IT team members (f.l.t.r.) Denver Anthony, Thurlo Muller, Chris Bosman and Remé du Plessis.
Image by: Supplied

 

Hulp vir kerklike aktiwiteite en uitreikaksies

Die tweede ontvanger, St Mary’s Anglikaanse Kerk op die Braak in Stellenbosch, beplan om die geskenkte rekenaars te gebruik om beide sy administratiewe vermoë as sy gemeenskapsinisiatiewe te versterk.

Die kerk het ’n behoefte aan voldoende IT-toerusting geïdentifiseer om met die implementering van ’n nuwe netwerkgebaseerde kerkbestuurstelsel te help en sy Sondagskoolbediening te verbeter.

Benewens hierdie onmiddellike behoeftes, sal die rekenaars die kerk ook help om geleenthede vir jeugontwikkeling uit te brei deur basiese rekenaaropleiding, vaardigheidsontwikkeling en opvoedkundige ondersteuningsprogramme.

Volgens die rektor van St Mary’s, eerw kanunnik Enrico Heuvel, is sulke geleenthede veral belangrik om jongmense met waardevolle digitale vaardighede vir hul onderwys en toekomstige werkgeleenthede toe te rus, terwyl verantwoordelike digitale burgerskap binne ’n geloofsgebaseerde omgewing bevorder word.

Heuvel het EBW vir die geskenkte rekenaars bedank: “Namens die gemeente van St Mary’s wil ek ons opregte dank uitspreek. Julle vrygewigheid het ’n betekenisvolle en blywende impak op ons werk en uitreik gemaak. In ’n tyd waarin digitale toegang so ’n belangrike rol in onderwys en bediening speel, het julle bydrae ons werklik bemagtig om meer doeltreffend en getrou diens te lewer.”

Dr Mary Nel, Senior Lecturer in the Department of Public Law and Director of the Ubuntu Learning Community (3rd from left) received the donation of computers from Mrs Heena Jivan (next to her), Head of IT and Operations of EMS, and IT team members (f.l.t.r.) Denver Anthony, Remé du Plessis, Chris Bosman and Thurlo Muller.
Image by: Supplied

 

Bevordering van studies agter tralies

Die derde begunstigde was die Ubuntu Learning Community (ULC), ’n baanbrekersvennootskap tussen US en die Departement van Korrektiewe Dienste by die Brandvlei Korrektiewe Sentrum.

Die inisiatief, die eerste van sy soort in Suid-Afrika, bring US-studente en studente wat gevangenisstraf uitdien saam in ’n gedeelde leeromgewing waar hulle ’n interdissiplinêre, US-geakkrediteerde kortkursus voltooi wat deur universiteitsakademici aangebied word. Die program poog om stereotipes uit te daag en transformasie deur samewerkende, ubuntu-gesentreerde leer te bevorder.

Ná voltooiing van die kursus bied die ULC steeds sosiale en akademiese ondersteuning aan ouddeelnemers tydens hul aanhouding en ná hul vrylating.

Dr Mary Nel, senior lektor in die Departement Publiekreg en direkteur van die Ubuntu Learning Community, het verduidelik dat voormalige en huidige ULC-studente hul studies deur UNISA voortsit, maar nie toegang het tot die tegnologie wat nodig is om hul leer te ondersteun nie.

“Rekenaars wat deur EBW geskenk is, word aan behoeftige en verdienstelike studente uitgeleen om hulle te help om van hul studies ’n sukses te maak,” het dr Nel gesê. “Daar is dus baie studente wat by die Fakulteit se vrygewigheid baat vind.”

Impak oor kampusgrense heen

Wat as ’n roetine-tegnologie-opgradering begin het, het ontwikkel tot ’n inisiatief wat leer en ontwikkeling oor baie verskillende lewensfases en gemeenskapskontekste ondersteun. Van vroeëkinderonderrig by Junior Akademie, tot jeugontwikkeling en digitale vaardigheidsopleiding by St Mary’s Anglikaanse Kerk, en hoëronderwysgeleenthede vir huidige en voormalige gevangenes deur die Ubuntu Learning Community, help die geskenkte rekenaars om toegang tot kennis en geleenthede uit te brei.

“Hierdeur weerspieël die inisiatief hoe hulpbronne wat hul doel op kampus gedien het, steeds ’n betekenisvolle impak ver buite die Universiteit kan hê – deur leer, groei en transformasie te bemagtig, een rekenaar op ’n slag,” het Jivan opgemerk.

Merkers

Ekonomie

Verwante stories