Skip to main content

Sentrum vir Internasionale en Vergelykende Politiek

Die Sentrum vir Internasionale en Vergelykende Politiek is in 1990 gevestig en bied ’n organisatoriese basis vir groter navorsingeenhede en programme wat deur lede en medewerkers van die Departement onderneem word. Die visie vir die Sentrum is om kundigheid in en ’n begrip van politieke prosesse en gedrag binne die politieke gemeenskap, en die dinamika van sosio-ekonomiese en politieke tendense in globale, streeks- en plaaslike opsette, of uit ’n vergelykende perspektief, op te wek, daarmee vordering te maak en dit te bevorder, deur die koördinering en ondersteuning van onafhanklike en medewerkende navorsingsinisiatiewe en aktiwiteite.

Eenheid vir Konflik, Vredebou en Risiko (CPRU) 

(Direkteur: Dr Guy Lamb)

Die CPRU onderneem navorsing oor vraagstukke wat met konflik, misdaad, politieke risiko, vrede en veiligheid in Afrika verband hou. Die hoof- navorsingstemas is:

  • Gewapende konflik en geweld in Afrika
  • Gewelddadige ekstremisme en terrorisme in Afrika
  • Politieke risiko en epistemiese bedreigings
  • Klimaatsverandering en konflik
  • Die wapenhandel met betrekking tot Afrika
  • Die handhawing en toepassing van vrede
  • Vredebou en die voorkoming van geweld
  • Polisiëring en stedelike veiligheid

Die Suid-Afrikaanse Elite-studie

(Hoofnavorsers: Dr Steenekamp en prof Hennie Kotzé)

Die Suid-Afrikaanse Elite Survey behels ’n longitudinale studie van die ingesteldhede en waardes van die land se meningsleiers. Agt opnames onder meningsleiers sedert 1990 (1990,1992,1993,1995,1998, 2000, 2007 en 2013) het die projekleiers in staat gestel om ’n omvattende databasis van die menings van die Suid-Afrikaanse elite op te bou en ’n diepgaande ontleding van die maatskaplike, politieke en ekonomiese transformasie in Suid-Afrika uit te voer.

Die agste opname, die Meningsleieropname van 2013, het veral klem geplaas op die gehalte van die demokrasie in Suid-Afrika en die waardes wat die demokratiese konsolidasieproses onderstut. Hierdie opname en die vorige een (2007) het ’n bykomende komponent bevat, deurdat dit terselfdertyd in ses ander lande, naamlik Chili, Poland, Duitsland, Swede, Turkye en Suid-Korea, geneem is. Die perspektiewe van die Suid-Afrikaanse elite is dus in ’n internasionale konteks geplaas met betrekking tot ontwikkelende en ontwikkelde lande. Die opnames van 2007 en 2013 het ook tot ’n groter mate uit die vraelys van die World Values Survey (Wêreldwaardesopname, of WVS) geput, wat ’n elite-massavergelyking moontlik gemaak het.

Buiten vir die omvattende databasis van Suid-Afrikaanse elite-perspektiewe, is ’n opname wat op die AU en NEPAD gerig is, ook in die tweede helfte van 2002 in sewe Afrikalande uitgevoer, om akkurate data oor elite-perspektiewe op hierdie twee inisiatiewe te bekom. Die lande wat vir die opname gekies is, is Suid-Afrika, Nigerië, Senegal, Algerië, Kenia, Uganda en Zimbabwe. Die Suid-Afrikaanse Politieke Elite Survey is in 2024/5 vir die negende keer onderneem, in samewerking met die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN).

Die World Values Survey, Suid-Afrika  

www.worldvaluessurvey.org

(Hoofnavorsers: Dr Cindy Steenekamp en prof Amy Alexander (Universiteit van Göteborg, Swede)

Die World Values Survey (WVS) is ’n internasionale navorsingsprogram en globale netwerk van sosiale wetenskaplikes en navorsers wat aan die wetenskaplike en akademiese studie van maatskaplike, politieke, ekonomiese, godsdiens- en kultuurwaardes van mense van regoor die wêreld toegewy is. Hierdie navorsingsprogram vorm deel van ’n langtermynondersoek na die waarde-oriënterings van samelewings met diverse kulturele tradisies deur middel van ’n verteenwoordige vergelykende sosiale opname wat elke vyf jaar regoor die wêreld geneem word. Tot op hede is sewe opnames op al ses die vastelande oor 120 samelewings heen geneem, wat 94,5% van die wêreldbevolking verteenwoordig.

Die WVS is tans die grootste niekommersiële, kruisnasionale empiriese tydreeks-ondersoek na menslike oortuigings en waardes, en die voorste bron van vergelykende kwantitatiewe inligting oor maatskaplike verdraagsaamheid teenoor buitelanders, godsdiens- en etniese minderhede, ingesteldhede teenoor vroue en gesinsrolle, die rol van godsdiens en godsdienstigheid, die impak van globalisering, ingesteldhede teenoor die omgewing, demokratiese regeerkunde, werk, familie, die politiek, nasionale identiteit, kultuur, diversiteit, onsekerheid en subjektiwiteit, en subjektiewe welstand.

Buiten vir die beskrywende waarde daarvan, het die WVS ook die toetsing en ontwikkeling van algemene teorieë oor die verband tussen ekonomiese ontwikkeling, menslike ontwikkeling en politieke ontwikkeling moontlik gemaak. Dit het nie slegs tot belangrike teoretiese vordering met ons begrip van die wêreldwye prosesse van modernisering en postmodernisering bygedra nie, maar koppel dit ook aan die prosesse van demokratisering en, meer onlangs, demokratiese regressie. Sodanige bevindings is nie slegs vir akademiese vakkundiges van belang nie, maar ook vir praktisyns wat in nasionale ontwikkelingsagentskappe en demokratiese hulpprogramme werksaam is, vir begrip van die relatiewe waarde van projekte wat op materiële, kognitiewe, of politieke ontwikkeling gemik is.

Die uitgebreide geografiese en tematiese omvang, en die gratis beskikbaarheid van opnamedata en projekbevindings aan die algemene publiek, het van die WVS een van die mees gesaghebbende en algemeen gebruikte kruisnasionale opnames in die sosiale wetenskappe gemaak. Die WVS is die grootste niekommersiële, kruisnasionale tydreeks-ondersoek van menslike oortuigings en waardes wat nog ooit uitgevoer is en sluit tans onderhoude met amper 400 000 respondente in. Voorts is die WVS die enigste akademiese studie wat die volledige verskeidenheid globale variasies, van baie arm tot baie ryk lande, in al die hoof- kulturele sones van die wêreld dek

Sentrum vir Navorsing oor Demokrasie

(Stigtersdirekteur: Prof Ursula van Beek; Navorsingskoördineerder: Kira Alberts)

Die Sentrum vir Navorsing oor Demokrasie (CREDO) aan die Universiteit Stellenbosch is ’n interdissiplinêre akademiese sentrum met ’n globale reikwydte wat aan die studie en bevordering van die demokrasie en die waardes daarvan toegewy is. CREDO is in 2021 tot stand gebring, maar bou nietemin voort op ’n 25-jaarlange geskiedenis van die studie van die demokrasie uit ’n globale perspektief en word versterk deur ’n span akademiese kundiges oor Afrika, Suidoos-Asië, die Midde-Ooste en Noord-Afrika (MENA), Latyns-Amerika, Oos- en Wes-Europa. Die dissiplines wat in die Sentrum verteenwoordig word, sluit in politieke wetenskap, internasionale betrekkinge, antropologie, ekonomie, sosiologie en geskiedenis.

CREDO se institusionele netwerk sluit meer as ’n dosyn instellings van hoër onderwys en navorsing, asook twee globale data-invorderingsprojekte in: die World Values Survey (WVS) en Varieties of Democracy (V-Dem). Hierdie internasionale akademiese gemeenskap het geredelik gereageer op ons versoek om te help om die kontinuïteit van ons longitudinale navorsing oor uitdagings vir die demokrasie in Suid-Afrika en wêreldwyd te verseker. Sedert die vestiging daarvan het CREDO se span navorsingsgenote met rasse skrede gegroei om akademici van regoor die wêreld in te sluit.

Buiten vir die navorsing, is CREDO ook besig om ’n reeks inisiatiewe vir die bevordering van verhoogde betrokkenheid by die demokrasie onder studente en nie-akademici op te bou. Tot dusver sluit hierdie inisiatiewe die volgende in: die African Data Hub for the Study of Democracy (Afrika- Datahub vir die Studie van Demokrasie) en die African Democracy Essay Award (Afrika- Demokrasie-opsteltoekenning). Deur gereelde webinare plaas CREDO hulleself ook in die posisie om ’n nasionale hub vir debatte oor kontemporêre vraagstukke wat Suid-Afrika se demokrasie en die aktiewe bevordering daarvan in die land beïnvloed, te word. Mees onlangs het CREDO begin om ’n gereelde e-posnuusbrief vir sakeleiers, beleidvormers en die weetgierige publiek uit te gee. Democracy Delivered word maandeliks gepubliseer en bied insig in en ontleding van die jongste demokratiese tendense en ontwikkelings.

Suid-Afrikaanse Navorsingsleerstoel in Genderpolitiek

(Bekleër van die leerstoel: Prof Amanda Gouws)

Die leerstoel in Genderpolitiek is daarop gemik om navorsers (nagraadse studente) byeen te bring om met die leerstoel saam te werk aan die opbou van ’n kern van multidissiplinêre navorsingsprojekte, en om die kanon van die literatuur van feministiese politieke wetenskap in Suid-Afrika te vestig.

Die navorsingsprogram van die leerstoel in Genderpolitiek bestaan uit drie komponente:

  1. Vroue se verteenwoordiging in die regering en in die nasionale gendermasjinerie
  2. Vroue-aktivisme en -mobilisering – spesifiek gerig op vrouebewegings en aktivisme
  3. Beleidsnavorsing wat met gendergeregtigheid verband hou – spesifiek gerig op gesinsbeleid (maatskaplike welsyn), vrouegesondheid en reproduktiewe gesondheid, gendergebaseerde geweld en armoede

 

Hierdie verskillende fokuspunte is belangrik om aan studente opsies met betrekking tot hulle eie belangstellings in die studie van genderpolitiek te verleen.

Die leerstoel se eie navorsingsprojekte hou verband met die vrouebeweging in Suid-Afrika, asook ’n nuwe projek oor die onsekere leeftoestande van vroue as gevolg van globalisering en neoliberale kapitalisme. Die teoretiese raamwerk vir hierdie werk word deur Nancy Fraser se teorie van erkenning en herverdeling onderlê.

Die navorsingsdoelwitte van die leerstoel is:

  • om tot ’n meer holistiese begrip van die verband tussen formele gelykheid, substantiewe gelykheid en gendergeregtigheid by te dra;
  • om data deur feministiese metodologiese benaderings te genereer en te verfyn, sodat dit tot ’n ryker begrip van gendergeregtigheid lei;
  • om ’n gendernavorsingskorpus te ontwikkel wat tot ’n meer holistiese begrip van gendergelykheid en burgerskap in Suid-Afrika sal lei;
  • om ’n nuwe geslag studente in feministiese teorie, epistemologie en metodes op te lei, sodat die slaggate van tegnokratiese gendernavorsing vermy kan word;
  • om die navorsingskapasiteit op die gebied van genderstudie op te bou;
  • om bestaande geleenthede vir medewerkende navorsing met instellings buite Suid-Afrika te verken en nuwe geleenthede daarvoor te identifiseer (byvoorbeeld, die Research Network on Gender Politics and the State [Navorsingsnetwerk vir Genderpolitiek en die Staat, RNGS]); en
  • om tot die integrasie van gendernavorsing in Suid-Afrika met die internasionale korpus van gender-akademieskap by te dra.