Skip to main content

Honneurs Programme

Die honneurs baccalaureus is ’n nagraadse spesialiseringskwalifikasie, wat gekenmerk word deur die feit dat dit studente vir navorsingsgebaseerde studie voorberei. Hierdie kwalifikasie volg gewoonlik op ’n baccalaureus en dien om studente se kundigheid in hetsy die politieke wetenskap, of internasionale betrekkinge, te konsolideer en te verdiep, en om navorsingskapasiteit in die metodologie en tegnieke van die betrokke dissipline te ontwikkel. Hierdie kwalifikasie verg ’n hoë vlak van teoretiese betrokkenheid en intellektuele onafhanklikheid.

Volgens die Subraamwerk vir Hoëronderwyskwalifikasies moet honneurs baccalaureus-programme die uitvoer van en verslagdoening oor navorsing onder studieleiding, wat minstens 30 krediete tel, insluit. Dit moet die vorm aanneem van ’n afsonderlike navorsingskomponent wat toepaslik vir die dissipline of studiegebied is.

Die Departement bied twee honneursprogramme aan, met ’n spesialisering in (1) politieke wetenskap, of (2) internasionale studies.

Struktuur van die honneursprogramme

Gegewe die aard en doel van die honneursgraad soos hierbo uiteengesit, is die honneursprogramme ‘inwonende’ programme (geen aanlyn of hibridiese modules word aangebied nie) en is bywoning van lesings verpligtend. Studente wat twee of meer lesings in ’n module sonder ’n geldige verskoning (bv. ’n mediese sertifikaat) misloop, sal nie toegelaat word om met daardie module voort te gaan nie.

Daar word ook van honneursstudente verwag om die weeklikse departementele seminare by te woon.

Die saamgestelde akademiese program strek oor een akademiese jaar, wat in Februarie begin. Die voertaal vir albei honneursprogramme is Engels.

Honneurs in Politieke Wetenskap

Die program bestaan uit die gevorderde studie van vier uitgesoekte fokusgebiede in die politieke wetenskap, twee navorsingsmetodes-modules en ’n navorsingsopdrag. Dit is gemik op besluitnemers en ontleders wat ’n deeglike begrip van politieke prosesse en gedrag binne die politieke gemeenskap uit ’n vergelykende perspektief nodig het.

Modules aangebied en krediete

  • Politieke Gedrag (15)
  • Beleidsontleding (15)
  • Hedendaagse Suid-Afrikaanse Politiek (15)
  • Konflik in Afrika (15)
  • Navorsingsmetodes (15)
  • Kwantitatiewe Navorsingsvaardighede (15)
  • Navorsingsopdrag (30)

Honneurs in Internasionale Betrekkinge

Die program bestaan uit die gevorderde studie van vier uitgesoekte fokusgebiede in internasionale betrekkinge en internasionale politieke ekonomie, twee navorsingsmetodes-modules en ’n navorsingsopdrag. Dit is gemik op besluitnemers en ontleders wat ’n deeglike begrip van die dinamika van die wêreld- politieke ekonomie en hoe Suid-Afrika daarbinne funksioneer, nodig het.

Modules aangebied en krediete

  • Internasionale Betrekkinge: Teorie (15)
  • Globale Politieke Ekonomie (15)
  • Politieke Ekonomie van Betrekkinge tussen Asië en Afrika (15)
  • Politieke Risiko-ontleding (15)
  • Navorsingsmetodes (15)
  • Kwantitatiewe Navorsingsvaardighede (15)
  • Navorsingsopdrag (30)

Toelatingsvereistes vir honneurs

Vir albei die honneursprogramme moet aansoekers ’n baccalaureusgraad met Politieke Wetenskap of Internasionale Studies as een van hulle hoofvakke verwerf het. ’n Gemiddelde finale punt van 68% vir Politieke Wetenskap en Internasionale Studies op derdejaarsvlak is ’n minimum vereiste. Die finale besluit oor toelating berus by die departementele keuringskomitee, wat ook in ag neem of die aansoeker oor die potensiaal beskik om onafhanklike navorsing te onderneem.

Hoewel die punte vir die eerste semester jaarliks ten tyde van die aansoek (30 September) voorgelê moet word, sal aansoekers wat op daardie stadium nie ’n gemiddelde van 68% behaal het nie, nie gediskwalifiseer word nie, aangesien die besluit oor toelating alle derdejaarsmodules vir Politieke Wetenskap en Internasionale Studies in ag neem.

Die departementele keuringskomitee vergader sodra die lesings vir die tweede semester afgehandel is. In die geval van eksterne aansoeke, moet die aansoeker verseker dat die amptelike transkrip met die punte van alle derdejaarsmodules van Politieke Wetenskap en Internasionale Studies so gou moontlik ná afhandeling ingedien word. Eksterne aansoekers moet ook bewyse van hulle beste akademiese skryfwerk saam met die aansoek indien.

Aanlyn aansoekproses

Alle studente moet die aanlyn aansoekproses teen die sperdatum (30 September) afhandel. Die Universiteit se Nagraadse Kantoor (NK) bestuur die aansoekproses (nie die Departement nie). Vir meer inligting oor nagraadse studies aan die Universiteit Stellenbosch, die betrokke gelde, steundienste, vaardigheidsontwikkeling en die aanlyn aansoekproses, besoek asseblief die volgende webwerf:  http://www.sun.ac.za/english/pgstudies

BELANGRIK: Wanneer daar met die aanlyn aansoek begin word (https://student.sun.ac.za/signup/), moet interne (US) aansoekers Huidige US-student kies en die proses afhandel, sodat die voorsiening van transkripte en bewyse van skryfwerk outomaties laat vaar word. Eksterne (nie huidige US-studente nie) aansoekers moet Nuwe Aansoek kies en die nodige dokumente oplaai, sodat die aansoek afgehandel en verwerk kan word.

Algemene navrae:

Me. Pauliane Davidse
Tel: +27 21 808 2414
E-pos: [email protected]

Akademiese (vakspesifieke) navrae:

Dr Cindy Steenekamp (Honneurskoördineerder)
Tel: +27 21 808 2115
E-pos: [email protected]