Kortkursusse in Politieke Ontleding
Doelwitte
In ’n wêreld wat steeds meer polities onseker raak, wend internasionale organisasies hulle toenemend tot politieke risiko en die ontleding daarvan, wat meestal op probleemoplossingsteorie gefokus is. Probleemoplossingsteorie kan deur besluitnemingsteorie aangevul word, wat help met rasionele besluitneming in onsekere omstandighede. Politieke risiko-ontleding is ’n praktiese en nuttige hulpmiddel en behoort ’n integrale rol in enige maatskappy, organisasie of individu se strategiese beplanning te speel.
Die kursus is daarop gemik om ’n stelselmatige inleiding tot die assessering van makro- en mikro-uitdagings en geleenthede deur die uitvoer van politieke risiko-ontleding te bied. Wanneer ’n risiko-ontleding uitgevoer word, word die klem geplaas op die uitruilbare verband tussen teorie, navorsing en praktyk, asook die integrasie van verskillende benaderings tot risiko-ontleding binne ’n georganiseerde raamwerk.
Hierdie kursus sal deelnemers vertroud maak met die konsepte en metodes van politieke risiko-ontleding; dit sal deelnemers in staat stel om die beweegrede agter politieke risiko-ontleding beter te verstaan en die vaardighede bied wat nodig is om politieke risiko-ontleding te bedryf. Scenario-beplanning en/of beleidsontleding kan ook deel van die kursus vorm.
Uitkomste
Ná afhandeling van hierdie kursus moet deelnemers in staat wees om politieke ekonomiese risiko as moontlike risiko (en geleenthede) vir buitelandse beleggings, organisasies en individue te ontleed, te meet, te bestuur en te versag. Gevolglik is hierdie kursus veral geskik vir individue wat ’n inleiding tot politieke risiko-ontleding nodig het, maar ook individue wat ’n basiese begrip van risiko-ontleding het, maar verskillende benaderings tot risiko-ontleding binne ’n georganiseerde raamwerk wil verken.
Navrae:
Prof. Derica Lambrechts
Tel: +27 21 808 2476
E-pos: [email protected]