Navorsingsleerstoel vir vrugtefisiologie na oes
- Nuwe Navorsingsleerstoel: Die Universiteit Stellenbosch het 'n nuwe Navorsingsleerstoel in Na-Oes Fisiologie in Sagtevrugte gestig, befonds deur Hortgro en bedryfstrusts.
- Leierskap: Die leerstoel word gelei deur dr. Elke Crouch, 'n senior dosent wat fokus op die voorkoming van vrugtebergingsdefekte (soos verbruining en vlekke) in appels en pere.
- Doelwitte: Die inisiatief is daarop gemik om plaaslike bedryfskapasiteit te bou, toekomstige leiers op te lei en oplossings te vind om vrugtekwaliteit na-oes te handhaaf.
Leiers in die Suid-Afrikaanse vrugtebedryf glo dat die skepping van die nuwe Navorsingstoel in Naoes-fisiologie vir Sagtevrugte by die Universiteit Stellenbosch kennis oor die hantering van sagtevrugte aansienlik sal verbeter, en uiteindelik tot voordeel van beide produsente en verbruikers sal wees. Die aktiwiteite van die Leerstoel word gelei deur dr. Elke Crouch, 'n senior lektor in die Departement Tuinbouwetenskap aan die Universiteit Stellenbosch (US).
Dr. Crouch fokus op maniere om verskeie fisiologiese afwykings uit te skakel wat voorkom wanneer appels en pere na pluk gestoor of rypgemaak word. Dit sluit in interne verkleuring en vlekke op die skil van die vrugte. Sy soek na maniere om die gehalte van vrugte naoes te behou totdat dit gereed is vir verbruikers om te geniet. Haar werk is ook toenemend daarop gerig om te verstaan hoe toestande wat ervaar word terwyl vrugte nog aan die boom is, hul gehalte beïnvloed.
“Ek geniet dit om uit te vind waarom iets verkeerd loop, en om oplossings te vind om te verseker dat dit nie weer gebeur nie,” verduidelik dr. Crouch die dryfveer agter haar navorsing.
Sedert 2002 is dr. Crouch aangestel in 'n navorsingspos in die Departement Tuinbouwetenskap wat op naoes-aangeleenthede fokus. Die pos word sedert die tagtigerjare deur die vrugtebedryf gefinansier, deur die Molteno- en Lombardi-trusts. Danksy verdere finansiële steun van Hortgro, die bedryfsliggaam vir sagtevrugte in Suid-Afrika, kon die navorsingstoel vanjaar gestig word.
Dr. Crouch beskou die leerstoel nie net as 'n geleentheid om belangrike navorsing te doen nie, bros ook as 'n kans om toekomstige bedryfsleiers op te lei en om groter interaksie met die vrugtebedryf en ander navorsers te verseker.
“Die toekoms van navorsing lê toenemend daarin om oor grense heen saam te werk. Ons moet saamwerk in ons poging om oplossings te vind vir byvoorbeeld die impak wat klimaatsverandering op vruggehalte het, en in die hantering en ontleding van groot datastelle in hierdie verband,” sê sy.
Waarde vir die bedryf
“Gegewe die hoë gehalte van praktiese navorsing wat dr. Crouch oor die jare aan die vrugtebedryf gelewer het, was dit 'n maklike besluit om die stigting van hierdie navorsingstoel te steun,” sê prof. Wiehann Steyn, algemene bestuurder van Hortgro Science, wat bygevoeg het dat hy hoop die posisie sal haar posisie as 'n senior akademikus versterk.
Hy beskryf dr. Crouch as 'n passievolle, gedetailleerde navorser “wat altyd 110% gee. Boonop is sy 'n uitstekende lektor wat 'n generasie studente geïnspireer het om loopbane in naoes-aspekte van die vrugtebedryf te volg.”
“Naoes-fisiologie is 'n kritiese kennisveld, maar een waarin daar min plaaslike kapasiteit is. Deur sy steun aan die Navorsingstoel hoop Hortgro om te verseker dat voldoende kapasiteit ontwikkel word en dat die nodige kundigheid en kennis beskikbaar is om die bedryf te help om moeilike bedryfsprobleme op te los,” sê prof. Steyn, wat ook 'n buitengewone professor by die US se Departement Tuinbouwetenskap is. “Samewerking met kennisvennote soos die US deur gekombineerde finansiering van poste en geleenthede bevorder beslis ons doelwitte rakende sulke inisiatiewe.”
“Die navorsingstoel in die Departement Tuinbouwetenskap is 'n absolute uitstekende voorbeeld van gebruikersgeïnspireerde basiese navorsing wat in aksie gestel word. Hierdie vennootskap tussen 'n belangrike sektor soos die vrugtebedryf en die US ondersteun basiese en toegepaste navorsing en help om kennis in 'n spesifieke veld sinvol en beduidend uit te brei,” sê prof. Eugene Cloete, US viserektor: navorsing, innovasie en nagraadse studies.
Melerigheid en interne verbruining
Oor die jare het dr. Crouch, haar nagraadse studente en bedryfsvennote toenemend waardevolle werk vir die bedryf gedoen. Dit sluit in talle navorsingsverslae wat praktiese riglyne bevat, soos oor die korrekte metodes wat gevolg moet word om 'Cripps Pink'- en 'Granny Smith'-appels die beste vir lang periodes in beheerde-atmosfeer-koelkamers op te berg. Dit behels ook aspekte soos hoeveel skaduwee 'Forelle'-pere kan kry voordat melerigheid in die vrugte begin ontwikkel.
Deur haar eie PhD-werk het dr. Crouch vrae beantwoord oor hoe melerigheid in 'Forelle' ontwikkel. Dit is gevolg deur navorsing oor hoe om die fisiologiese toestand te voorkom. Dr. Crouch het sedertdien gehelp om riglyne te skryf vir die oes- en naoesbestuur van appelkultivars soos 'Fuji' en 'Cripps Pink' om interne verkleuring of verbruining te verminder.
“Dit is altyd 'n onaangename verrassing as jy in 'n skynbaar perfekte vrug byt net om te ontdek dat die vleis binne-in bruin geword het. Boonop het dit 'n onaangename smaak. Dit kan ons bedryf duur te staan kom, sowel in terme van verlies aan inkomste as verlies aan reputasie in die mark,” verduidelik prof. Steyn die belangrikheid van verwante navorsing.
Danksy befondsing deur Hortgro doen dr. Crouch se span tans ook navorsing oor die voorkoms van oppervlakkige brandvlekke (skald) op kultivars soos Granny Smith-appels. Hulle is ook op soek na maniere om die ontwikkeling van sulke vlekke te beheer. Alhoewel die skade suiwer kosmeties is en nie 'n vrug se smaak beïnvloed nie, is verbruikers geneig om weg te skram daarvan. Haar span ondersoek ook die optimale toestande waaronder vrugte gestoor moet word om naoes-verliese te voorkom deur die nuutste beheerde-atmosfeer-koelkamertegnologieë te gebruik.
Sy het die eerste kortkursus in naoes-fisiologie wat vir die Suid-Afrikaanse varsbeproduktebedryf beskikbaar is, in 2008 bekendgestel. Vanjaar vind dit plaas tussen 6 en 8 Julie 2021.
Volgens dr. Esmé Louw, voorsitter van die US se Departement Tuinbouwetenskap, bied die Navorsingstoel bykomende loopbaangeleenthede aan dr. Crouch, aangesien dit haar toelaat om sterk nagraadse studente na haar navorsingsgroep te lok, og om met 'n wyer reeks navorsingspanne wêreldwyd saam te werk.
Dr. Crouch werk reeds saam met die toonaangewende naoes-navorsingspan van die Universiteit van Leuven in België aan 'n projek om gasdiffusie in appels beter te bestudeer, en sodoende verskeie naoes-defekte in vrugte beter te verstaan en aan te spreek. Onder haar plaaslike vennote is kollegas van die Universiteit Stellenbosch, ExperiCo Agri-Research Solutions, die Landbounavorsingsraad en die Universiteit van Wes-Kaapland.
Meer oor dr. Elke Crouch
- Sy het die graad BScAgric (Tuinbou) in 1999 aan die Universiteit van Pretoria behaal, 'n MScAgric (in 2002) en 'n PhD-graad (in 2011) aan die Universiteit Stellenbosch.
- Sy doseer naoes-fisiologie en -tegnologie aan finalejaarstudente in die graadprogram BSc (Agric) Tuinbouwetenskap.
- Dr. Crouch adviseer die bedryf sedert 2003 deur haar betrokkenheid as lid van inisiatiewe soos die Hortgro Science Peer Working Group, the Packhouse Action Group en die Store-It Group.
- Sy dien op die uitvoerende komitee van Pink Lady SA.
- Sy het voorheen as raadslid van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Tuinbouwetenskappe gedien.
- Dr. Crouch is die hooforganiseerder van die 14de Internasionale Peersimposium, wat vir 2023 in Stellenbosch beplan is.
Media-navrae
Dr. Elke Crouch
Navorsingstoel in Naoes-fisiologie vir Sagtevrugte
Departement Tuinbouwetenskap
Universiteit Stellenbosch