Skip to main content

Intreerede: Professor Tammy Robinson-Smythe

Datum: 14 Mei 2026 17:30 - 14 Mei 2026 19:30
Gehoor:
Gebeurtenistipe:
Vergaderplek:
STIAS

Kontakbesonderhede

Institutional Events
Prof Tammy Robinson-Smythe

 

Weens die ongunstige weerstoestande wat tans in die Wes-Kaap voortduur, is die professorale intreerede van prof Tammy Robinson-Smythe uitgestel na Donderdag 14 Mei.

Sluit by ons aan vir prof Tammy Robinson-Smythe se professorale intreerede – Wetenskap vir bewaring: die storie van mariene uitheemse spesies in Suid-Afrika, aangebied deur die Fakulteit Natuurwetenskappe.

Professor Tammy Robinson-Smythe
Navorsingsleerstoel in die Bestuur van Indringerspesies in Beskermde Gebiede
Sentrum vir Indringerbiologie
Fakulteit Natuurwetenskappe
Titel: Wetenskap vir bewaring: die storie van mariene uitheemse spesies in Suid-Afrika

Besonderhede:
Datum: Donderdag 14 Mei 2026
Tyd: 17:30 SAST
Plek: STIAS, Wallenberg Navorsingsentrum, Maraisstraat 10, Stellenbosch
Formaat: Hibriede geleentheid

Klik hier om vir in-persoon-bywoning te RSVP.
Klik hier om vir aanlyn bewoning te RSVP.


Wetenskap vir bewaring: die storie van mariene uitheemse spesies in Suid-Afrika

Die verspreiding van uitheemse spesies is ’n wêreldwye verskynsel wat die beweging van mense en hulle kommoditeite volg. In ’n mariene omgewing word hierdie verspreiding grotendeels met skeepvaart, ontspanningsvaartuie en marikultuur verbind. Wanneer uitheemse spesies op nuwe plekke arriveer, kan dit die inheemse biodiversiteit sowel as menslike gesondheid en welstand benadeel. Daarom is dit ’n kernbewaringsdoelwit om indringing te voorkom en te bestuur. Om hierdie doel te bereik, en dit boonop kostedoeltreffend te doen, is dit egter noodsaaklik om te verstaan hoe spesies arriveer en versprei, en om bestuursintervensies op behoorlike bewyse te grond. Die begrip van mariene indringing in Suid-Afrikaanse verband het die afgelope 20 jaar aansienlik uitgebrei. Hierdie intreerede bied ’n oorsig van die belangrikste prestasies op dié gebied, die huidige begrip van kusindringerspesies in Suid-Afrika, en die opwindende ontwikkelings wat die land aan die voorpunt van mariene indringingsbestuur in Afrika plaas.

Biografie

Prof Tammy Robinson-Smythe, ’n mariene ekoloog wat op bio-indringing konsentreer, is die bekleër van die Navorsingsleerstoel in die Bestuur van Indringerspesies in Beskermde Gebiede, wat in die Universiteit Stellenbosch se Sentrum vir Indringerbiologie in die Fakulteit Natuurwetenskappe geleë is.

Haar navorsing handel oor sowel teoreties belangrike as prakties relevante onderwerpe. Met haar werk op die kruispunt van primêre en toegepaste navorsing verseker sy vooruitgang in indringerwetenskap terwyl sy ook kwessies van besondere belang vir ontwikkelende lande soos Suid-Afrika die hoof bied. Sy konsentreer hoofsaaklik op vier gebiede, naamlik (i) die studie van die verspreiding van indringerspesies; (ii) die begrip van die impak van mariene uitheemse spesies; (iii) ondersteuning vir die bewysgebaseerde bestuur van hierdie biota; en (iv) ondersoeke na die implikasies van klimaatsverandering vir indringing.

Prof Robinson-Smythe help ontwikkel graag jong wetenskaplikes. Saam met haar studente het sy al op verskeie nuwe spesies in Suid-Afrikaanse waters afgekom, die eerste mariene uitwissingsprogram vir uitheemse indringers in Afrika gelei, en die wetenskaplike grondslag en logistieke raamwerk vir ’n nasionale moniteringsprogram vir uitheemse besoedelende spesies ontwikkel. Haar bydraes op nasionale vlak sluit in voorsitterskap van die Nasionale Werkgroep oor Mariene Uitheemse Spesies en medevoorsitterskap van die verbandhoudende taakgroep oor die monitering van indringing in mariene beskermde gebiede (MBG’s). Saam met SANParke doen sy navorsing ter ondersteuning van hulle mandaat om inheemse biodiversiteit en die gemeenskapsvoordele verbonde aan MBG’s te beskerm.

Haar wêreldstatuur blyk duidelik uit haar rol as hoofredakteur van akwatiese bydraes vir die internasionale vaktydskrif NeoBiota, haar lidmaatskap van die raad van die wêreldwye Society for the Study of Marine Bioinvasions, en haar bydrae as ’n lid van die skryfspan vir die Verenigde Nasies se Third World Ocean Assessment-verslag.