Skip to main content

Intreerede: Professor Cletos Mapiye

Datum: 30 April 2026 17:30 - 30 April 2026 19:30
Voeg by jou kalender: Google | Apple | Outlook
Gehoor:
Gebeurtenistipe:
Vergaderplek:
STIAS

Kontakbesonderhede

Institutional Events

Prof Kennedy Dzama, Dekaan van AgriWetenskappe, nooi u hartlik uit om dié mylpaal in die merkwaardige akademiese reis van Professor Cletos Mapiye saam te vier.

Professor Cletos Mapiye
Departement Veekundige Wetenskappe
Fakulteit AgriWetenskappe
Titel: Klimaatslim fitogene diëte vir beter herkouervleisgehalte

Besonderhede:
Datum: Donderdag 30 April 2026
Tyd: 17:30 SAST
Plek: STIAS, Wallenberg Navorsingsentrum, Maraisstraat 10, Stellenbosch
Formaat: Hibriede geleentheid

Klik hier om vir in-personoon-bywoning te RSVP.
Klink hier om vir aanlyn bewoning te RSVP.


Klimaatslim fitogene diëte vir beter herkouervleisgehalte

Hoewel herkouervleis ’n kernrol in voedsel-, ekonomiese én maatskaplike sekerheid vervul, kom die sektor ál hoe meer onder skoot weens ondoeltreffendheid en nadelige gevolge vir dierewelsyn en die mens én planeet se gesondheid. As gevolg hiervan is meer verbruikers deesdae geneig om dié voedingsdigte voedselsoort uit hulle diëte uit te sluit. Om hierdie paradoks die hoof te bied, het prof Cletos Mapiye ’n toegewyde navorsingsprogram tot stand gebring wat die uitwerking van nie-konvensionele, volhoubare voerhulpbronne op vleisproduksie en -gehalte by herkouers evalueer, met ’n bepaalde klem op vetsuurprofiele.

In sy intreerede bied prof Mapiye ’n oorsig van sy program se deurbrake in die ontdekking, evaluering en praktiese toepassing van verskeie nie-konvensionele fitogene voerbestanddele. ’n Kernfokus van sy werk is om stelselmatig te bewys dat onderbenutte hulpbronne – soos die loof van indringerboomspesies, klimaatsveerkragtige kruidagtige peulgewasse, en die byprodukte van graan-, vrugte- en oliesaadverwerking – potensiaal inhou om vleisgehalte te verhoog. Deur te bepaal hoeveel van hierdie voerstowwe vir optimale resultate by veediëte ingesluit moet word, bied die navorsing nuwe geleenthede vir produsente en voermaatskappye wêreldwyd om bewysgebaseerde dieetstrategieë te formuleer wat omgewingsimpak verminder en bekostigbare, veilige, gesonder, klimaatslim vleisprodukte met ’n langer raklewe voorsien. Deur die studie van hempsaadbyprodukte kon die program byvoorbeeld daarin slaag om die hoeveelheid omega-3-poli-onversadigde vetsure in herkouervleis te verhoog tot vlakke wat aan sowel plaaslike as internasionale gesondheidsaanspraakstandaarde voldoen. Prof Mapiye se navorsing versterk boonop klimaatsveerkragtigheid en die sirkulêre bio-ekonomie deur indringerplantbiomassa en die byprodukte van landbounywerhede in waardevolle dierevoer te omskep. Dít ondersteun op sy beurt voedsel- en voedingsekerheid, die vermindering van kweekhuisgasvrystellings, en die herstel van biodiversiteit, wat met volhoubare ontwikkelingsdoelwitte 2, 13 en 15 strook.

Danksy hierdie baanbrekernavorsing is die Universiteit Stellenbosch se Laboratorium vir Vleisvetstowwe een van slegs twee fasiliteite in Afrika met die vermoë om omvattende vetsuurprofiele vir herkouers te voorsien. Dit bied wetenskaplikes ’n beter begrip van die onderliggende prosesse wat die verbetering van vleisvetsuurprofiele moontlik maak, en dra by tot internasionale gesprekke oor die gesondheidsvoordele van omega-3-vetsure, die etikettering van transvette, en die ontluikende rol van klimaatslim vleis. Verskeie van die Laboratorium se navorsingsuitsette word wyd aangehaal deur internasionale navorsingsgroepe, die Verenigde Nasies se Voedsel- en Landbou-organisasie (FAO) en die Wêreld- Ekonomiese Forum, wat die beleidsrelevansie en wêreldwye impak daarvan onderstreep.

Wat die toekoms betref, beoog prof Mapiye om ’n verbruikersgerigte, klimaatslim Vleissentrum tot stand te bring. Met behulp van inheemse kennis en strategiese waardekettingvennootskappe sal die inisiatief innoverende, klimaatslim fitogene diëte ontwerp wat vleisproduksie en -gehalte by herkouers verbeter om aan nuwe verbruikersvoorkeure, bedryfsprioriteite en volhoubaarheidsvereistes te voldoen. Die Vleissentrum sal sorg dat herkouervleis ’n noodsaaklike, volhoubare komponent van toekomstige diëte bly deur voedsel- en inkomstesekerheid, maatskaplike insluiting en billikheid, klimaatsveerkragtigheid, sirkulariteit en verbruikersvertroue te verhoog.

Biografie

Cletos Mapiye is in Harare, Zimbabwe, gebore en het op ’n klein saai- en veeplaas grootgeword. Sy kinderjare het die grondslag gelê vir ’n loopbaan wat ten diepste met veeboerdery verband hou. Deur die daaglikse roetines van die plaaslewe het hy ’n band met diere gevorm, wat later tot ’n volgehoue belangstelling in veekunde ontwikkel het. Nadat hy sy honneurs- en meestersgraad in Veekundige Wetenskappe aan die Universiteit van Zimbabwe verwerf, werk hy as ’n navorser en dosent op dié vakgebied voordat hy in 2007 vir sy doktorale studie na Suid-Afrika verhuis. Hy ontvang in 2010 sy doktoraat in Veekundige Wetenskappe, met spesialisasie in Herkouervoeding en -vleisgehalte, van die Universiteit van Fort Hare.

Sy nadoktorale loopbaan lei hom eers na die Universiteit van Rwanda as ’n senior dosent, en daarna na Kanada, waar hy as ’n navorsingsgenoot in die vleisvetsuurlaboratorium van die Lacombe-navorsing-en-ontwikkelingsentrum van Agriculture and Agri-Food Canada werk. Hy sluit hom in 2013 as senior dosent in Vleiswetenskap by die Departement Veekundige Wetenskappe in die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit AgriWetenskappe aan. Mapiye dien ook van 2018 tot 2022 as tussentydse bekleër van die SARChI-navorsingsleerstoel in vleiswetenskap. Hy word in 2025 tot volprofessor bevorder.

Mapiye, wat oor ’n C1-gradering van die Nasionale Navorsingstigting (NNS) beskik, is die stigter en leier van ’n navorsingsprogram oor klimaatslim fitogene voerstowwe wat die produksie, gesondheidsvoordele, raklewe en sensoriese gehalte van herkouervleis kan verbeter. Hy het al meer as 170 ewekniebeoordeelde artikels, vier boekhoofstukke, 30 artikels vir die populêre media en 96 konferensievoorleggings gepubliseer, en 15 hoofredes as genooide spreker gelewer. As akademiese mentor, het hy reeds 22 MSc- en 12 PhD-gegradueerdes, vier Consolidoc-kandidate en drie nadoktorale genote van leiding voorsien, en begelei hy tans drie MSc-studente, ses PhD-kandidate en drie nadoktorale genote.

Benewens sy werk by die US het Mapiye ’n sterk streeks- en internasionale voetspoor opgebou as gasdosent, modereerder vir voorgraadse modules, en eksterne eksaminator vir nagraadse tesisse. Hy is ’n aktiewe lid van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Veekundige Wetenskappe (SASAS), die Amerikaanse Vereniging vir Veekundige Wetenskappe, en die netwerk van jong geaffilieerdes van die Wêreldakademie vir Wetenskappe. Hy dien ook in die NNS se spesialisgraderingskomitee vir Veeartsenykunde en Veeproduksiewetenskappe.

As ’n vakkundige leier, dien hy in die eindredaksie van Meat and Muscle Biology en as mederedakteur van Veterinary and Animal Sciences, Lipids, Frontiers in Animal Science en South African Journal of Animal Science.

Onlangse eerbewyse vir sy werk sluit in ’n US-toekenning as gevestigde navorser, SASAS se silwer toekenning (albei in 2025) en ’n US-toekenning vir nagraadse studieleiding (2023).