Intreerede: Professor Craig McGregor
Kontakbesonderhede
Sluit by ons aan vir prof Craig McGregor se professorale intreerede – Son, staal en stoorstelsels: sontermies in Suid-Afrika se energietoekoms, aangebied deur die Fakulteit Ingenieurswese.
Professor Craig McGregor
Acwa-leerstoel in Gekonsentreerde Sonkrag
Meganiese en Megatroniese Ingenieurswese
Fakulteit Ingenieurswese
Titel: Son, staal en stoorstelsels: sontermies in Suid-Afrika se energietoekoms
Besonderhede:
Datum: Dinsdag 19 Mei 2026
Tyd: 17:30 SAST
Plek: Kamer A5056, Hoof/Algemene Ingenieurswese-gebou, Fakulteit Ingenieurswese, Banghoekweg 156, Stellenbosch
Formaat: Hibriede geleentheid
Klik hier om vir in-persoon-bywoning te RSVP.
Klik hier om vir aanlyn bewoning te RSVP.
Son, staal en stoorstelsels: sontermies in Suid-Afrika se energietoekoms
Suid-Afrika se verouderende steenkoolvloot voorsien die meeste van die land se elektrisiteit, maar hierdie kragstasies nader die einde van hulle gebruiksduur. Suid-Afrikaners weet maar alte goed wat gebeur as dié infrastruktuur onklaar raak: jare se beurtkrag wat huishoudings, ondernemings en die ekonomie ontwrig het. Die land moet binne twee dekades nuwe bronne vir die meerderheid van sy krag opspoor. In sy intreerede voer prof Craig McGregor aan dat een bewese tegnologie misgekyk word in dié oorgang, naamlik gekonsentreerde sonkrag (CSP), wat spieëls gebruik om sonlig te fokus, hitte te skep, en daardie hitte dan in tenks vol gesmelte sout te stoor vir gebruik ná donker.
Suid-Afrika is een van die beste plekke op aarde om CSP-aanlegte te bou. Die Noord-Kaap ontvang meer direkte sonlig as Spanje of China, die wêreld se twee voorste CSP-markte. Sewe CSP-aanlegte word reeds in die Noord-Kaap bedryf en verteenwoordig meer as R85 miljard in privaat belegging. Twee van die aanlegte, Bokpoort en Redstone, voorsien bedryfsdata aan die Universiteit Stellenbosch (US) se Sontermiese Energienavorsingsgroep (STERG) deur die ACWA Power-leerstoel in Gekonsentreerde Sonkrag.
In teenstelling met konvensionele sonpanele, wat op ingevoerde silikonselle uit China staatmaak, word CSP-aanlegte uit staal, beton en glas gebou, wat Suid-Afrika alles plaaslik vervaardig. Die intreerede bied bewyse dat meer as 40% van die huidige CSP-projekwaarde plaaslik bekom is deur egte swaar vervaardiging: staalproduksie, hitteruilers, stoortenks en siviele konstruksie. Die Stellio-heliostaat, ’n spieëlstelsel wat in Suid-Afrika geskep en uit die staanspoor vir plaaslike produksie ontwerp is, word nou kommersieel in vier aanlegte in China gebruik. Dit is vir Suid-Afrika ontwerp; tog was dit China wat ja gesê het.
Om hitte-energie in gesmelte sout te stoor kos sowat ’n tiende van die prys om energie in batterye te stoor, en CSP-aanlegte kan vir 12 tot 16 uur ná sononder elektrisiteit voorsien, wat die ekonomiese perk van batterystelsels ver oortref. Wanneer die tegnologieë vergelyk word aan die hand van kragbeskikbaarheid op aanvraag kos CSP met ’n stoorstelsel meer as 40% minder as sonpanele met batterye.
Nietemin het Suid-Afrika na slegs vier verkrygingsrondtes opgehou om CSP aan te koop, juis toe pryse skerp begin daal. Sonpanele en windkrag is steeds aangekoop, het al hoe goedkoper geword, en lyk nou meer mededingend, bloot omdat dit die geleentheid ontvang het wat CSP ontsê is.
Prof McGregor kom tot die gevolgtrekking dat Suid-Afrika oor genoeg son, voldoende industriële vermoë en die bewese tegnologie beskik om CSP op groot skaal te bou. Ál wat kortkom, is die besluit om weer te belê. STERG se navorsingsprogram, met ondersteuning van die ACWA Power-leerstoel, werk daaraan om die oorblywende gapings te oorbrug.
Biografie
Prof Craig McGregor is ’n professor in Meganiese en Megatroniese Ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch (US), waar hy as bekleër van die ACWA Power-leerstoel in Gekonsentreerde Sonkrag en leier van die Sontermiese Energienavorsingsgroep (STERG) dien. Sy navorsing handel oor gekonsentreerde sontermiese stelsels, termiese energiestoorstelsels, groen waterstof, en energiestelselsontwerp, met die klem op die rol van sontermiese tegnologie in Suid-Afrika se energie-oorgang.
Voordat hy hom in 2019 by die US aangesluit het, was prof McGregor vir 20 jaar verbonde aan Sasol, waar hy aan die stuur gestaan het van die Suid-Afrikaanse ontwikkeling van die Stellio-heliostaat in samewerking met die Duitse ingenieursfirma SBP Sonne. Stellio het in 2015 die SolarPACES-innovasietoekenning gewen en word deesdae kommersieel in China gebruik. By Sasol het hy ook twee chemiese tegnologieë van ontwikkeling tot kommersiële implementering geneem.
Prof McGregor se huidige werk by STERG is gegrond op bedryfsdata van die CSP-aanlegte Bokpoort en Redstone, wat deur die ACWA Power-leerstoelvennootskap bekom word. Sy groep se navorsing konsentreer op CSP-kosteverlaging, die modellering van netwerkintegrasie, en die ekonomie van langdurige termiese energiestoorstelsels in Suid-Afrikaanse verband. Sedert hy hom by die US aangesluit het, het hy reeds 40 nagraadse studente en nadoktorale genote van studieleiding voorsien.
Hy het ’n bepaalde belangstelling in hoe ingenieurs kunsmatige intelligensie (KI) doeltreffend leer gebruik, en het al opleidingsraamwerke oor die gebruik van generatiewe KI in ingenieursonderrig vir sowel studente as akademiese personeel ontwikkel.
Die Bill Neale-May- goue medalje van die Suid-Afrikaanse Instituut van Chemiese Ingenieurs is vir sy bydraes tot prosestegnologie aan prof McGregor toegeken. Sy werk het al onder meer in Solar Energy, Journal of Energy Storage en Energies verskyn.