Afkampusdokumentlewering
As gevolg van lisensieooreenkomste is toegang tot sommige elektroniese hulpbronne beperk tot studente en personeel wat tans by die Universiteit Stellenbosch geregistreer is.
Alle elektroniese bronne wat deur die Biblioteek- en Inligtingdiens aangebied word, is beskikbaar op die biblioteek se webtuiste. Soek biblioteekbronne op die biblioteek se webtuiste of klik Databasisse of E-joernale vanaf die VIND-spyskaart. Wanneer jy afkampus is en gevra word om aan te teken (Sign-On), teken in met jou US-gebruikersnaam (NIE e-pos adres nie) en wagwoord.
Addisioneel tot afkampus e-toegang tot al die e-bronne waarop die biblioteek inteken, kan voorgraadse en nagraadse studente (geregistreerd en voornemend) wat nie op die kampus woonagtig is nie, teen betaling harde kopieë uit die biblioteekvoorraad aanvra vir aflewering.
Vrae en antwoorde
Die biblioteek het korrekte kontakbesonderhede nodig om items te laat aflewer en die koste van aflewering in te vorder. Studente wat aansoek gedoen het is ook geregtig op 'n langer uitleenperiode van 2 maande.
Die biblioteek stuur nie biblioteekboeke na ander lande nie. Versoeke vir afskrifte van bladsye uit boeke (onderhewig aan kopieregwetgewing) en tydskrifartikels kan wel gerig word aan die kontakpersone.
'n Versoek kan gerig word vir 'n toestemmingsbrief vir uitleenlidmaatskap en toegang na ander Suid-Afrikaanse Universiteitsbiblioteke. Sien Besoek en gebruik ander universiteitsbiblioteke.
- Al die dienste soos beskryf in die voorgraadse, nagraadse en voornemende nagraadse gidse is ook vir afkampusstudente beskikbaar.
- Fakulteitsbibliotekarisse kan gekontak word vir navorsingsondersteuning, hulp met die soek van inligting, verwysingstegnieke en biblioteekopleiding.
- Boeke kan ook uitgeleen of terugbesorg word by die Universiteit Stellenbosch Biblioteek en takbiblioteke wanneer 'n afkampusstudent Stellenbosch besoek.
Doen aansoek
Versoek boeke
Stuur die volledige bibliografiese besonderhede van boeke, tesisse of tydskrifartikels aan die kontakpersone (sien hieronder) vir afkampusdokumentlewering per e-pos.
Koste
Standaardfooie word vir fotokopiëring, pos- en koerierdienste gehef en die student se universiteitsrekening word daarmee gedebiteer.
Hoe werk dit?
Om teleurstelling te voorkom, word studente wat vir afkampusdokumentlewering aansoek gedoen het, en die biblioteek in persoon vir bystand besoek, aangemoedig om afsprake met die kontakpersone te maak. Die kontakpersone sal:
- dokumente deur interbiblioteeklenings elders aanvra, indien nodig;
- bladsye fotokopieer en skandeer (onderhewig aan kopieregwetgewing);
- boeke op die student se biblioteekrekord uitreik;
- elektroniese tydskrifartikels en geskandeerde fotokopieë per e-pos aanstuur;
- boeke vanaf die Universiteit Stellenbosch en Teologie biblioteke volgens die student se voorkeur, per geregistreerde pos aanstuur;
- boeke vanaf die Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe Biblioteek per geregistreerde pos aanstuur.
Afhaal van biblioteekmateriaal
Afkampusstudente moet self die biblioteekmateriaal by die poskantoor afhaal en weer vóór die vervaldatum hernu of by die biblioteek terugbesorg, hetsy persoonlik of per geregistreerde pos.
Uitleenperiode
Studente wat aansoek gedoen het vir afkampusdokumentlewering ontvang 'n langer uitleenperiode van 2 maande.
Hernu materiaal aanlyn
Boeke kan twee keer hernu word, tensy dit deur 'n ander kliënt bespreek is. Meer inligting is beskikbaar op die Hernu-bladsy onder Uitleen.