As ’n eerstegenerasiestudent het Justin de Villiers onseker oor wat op hom wag by die US aangekom, maar hy het vinnig ondersteuning gevind deur programme soos SOAR en in die Helshoogte-manskoshuis. Die finalejaarstudent in geoinformatika dien nou as ’n mentor en huiskomiteelid (HK) wat ander studente help om die uitdagings van die universiteitslewe te navigeer.
Justin de Villiers lei met waagmoed en empatie
- #OnsGroeiSaam: In die loop van hierdie Jeugmaand vier ons studente wat geleenthede skep, gemeenskappe bou en ander deur mentorskap, uitreiking, portuurgroepondersteuning en leierskap bystaan. Ons beklemtoon ook die Universiteit Stellenbosch se ondersteuningstrukture wat studente help om te groei, verbintenisse te bou en ’n betekenisvolle impak te hê.
Om voor ’n vertrek vol studente te staan en hulle te vra om vir jou te stem, is nie almal se idee van pret nie. Vir Justin de Villiers was dit een van die senutergendste oomblikke van sy universiteitsloopbaan.
Om as ’n huiskomiteelid in die Helshoogte-koshuis verkies te word, moet kandidate ’n toespraak lewer waarin hulle verduidelik waarom daar vir hulle gestem moet word. De Villiers onthou nog goed hoe senuweeagtig hy was. “Ek het ná die tyd nog gebewe,” vertel hy.
Tog beskryf die finalejaarstudent in geoinformatika sy verkiesing tot die Helshoogte-HK vandag as een van sy trotsste prestasies. Nie oor die titel self nie, maar omdat dit iets groters tuisgebring het: om die selfvertroue te kry om op te staan en by te dra tot ’n gemeenskap wat hóm gehelp het om sy plek te vind. Dit is ’n tema wat soos ’n goue draad deur sy reis by die Universiteit Stellenbosch (US) loop.
De Villiers het in die Paarl grootgeword en was ’n weetgierige kind met ’n wye reeks belangstellings. Hy het op vyfjarige ouderdom slaginstrumente begin speel en vinnig ’n liefde vir musiek by die Frank Pieterson-musieksentrum ontwikkel. Buite die klaskamer was hy ’n bedrywige Padvinder (Scout) wat sy naweke op kampe deurgebring het, waar hy navigasievaardighede aangeleer en die natuur verken het.
“Ek was nog altyd mal oor die natuur. Ek en my pa het gereeld saam gaan stap, en ek was altyd geïnteresseerd in kaarte en geografie.”
Hierdie kombinasie van belangstellings het hom uiteindelik na geoinformatika gelei, ’n rigting wat geografie, tegnologie en rekenaarwetenskap kombineer. Gedurende ’n besoek aan die US se Opedag in sy matriekjaar het hy die program ontdek en dadelik geweet dit pas hom soos ’n handskoen. Hy voltooi tans sy finale jaar en hy hoop om aanstaande jaar met sy honneursstudie voort te gaan.
Vind van ondersteuning
Hoewel De Villiers opgewonde was om met sy universiteitsloopbaan te begin, het hy ook onbekende terrein betree. Nie een van sy ouers was op universiteit nie, wat hom die eerste lid van sy gesin gemaak het om tersiêr te gaan studeer. “Ek was senuweeagtig omdat ek nie regtig geweet het wat om te verwag nie,” sê hy.
Sy bekendstelling aan die universiteitslewe het gekom deur die SOAR-program, wat eerstegenerasiestudente in hulle die oorgang na hoër onderwys ondersteun. Die program het hom nie net gehelp om die praktiese kant van die universiteitslewe te verstaan nie, maar het ook sy ouers gerusgestel. “Hulle kon sien dit is ’n plek waar ek ondersteun sou word,” sê hy.
Hy het soos baie aander eerstejaarstudente aanvanklik met tydsbestuur gesukkel en om die regte balans tussen sy akademiese werk en alles wat die universiteitslewe nog bied, te vind. Uiteindelik het hy by die Sentrum vir Studentevoorligting en -ontwikkeling (SSVO) om hulp gaan aanklop. Hier het akademiese voorligting hom gehelp het om die gebiede te identifiseer waar hy moes verbeter.
Hierdie ervaring het sy perspektief oor die vra van hulp verander. “Ek het altyd gedink ’n mens vra eers hulp wanneer iets ernstig verkeerd loop. Nou sê ek vir studente dat selfs al is jy onseker, dit glad nie skade doen om uit te reik nie.”
Teruggee aan die gemeenskap
Die ondersteuning wat hy ontvang het, het hom geïnspireer om deel van die ondersteuningstelsel vir ander te word. De Villiers het ’n SOAR-mentor en later ’n welstandsmentor in die Helshoogte-koshuis geword. As HK-lid by Helshoogte sluit sy verantwoordelikhede maatskaplike impak, omgewingsimpak en fasiliteitsbestuur in.
De Villiers merk op dat min mense sy Stellenbosse reis meer beïnvloed het as dr Joy Petersen, Eerstejaarstudent-ervaringskoördineerder en Koshuishoof by die Sentrum for Studentelewe en -leer. Sy het hom deur haar aanmoediging, mentorskap en onwrikbare geloof in sy potensiaal geïnspireer om geleenthede aan te gryp wat sy selfvertroue én sy groei as ’n leier gevorm het. “Die rede waarom ek ’n SOAR-mentor geword het, was as gevolg van die impak wat die program op my gehad het,” verduidelik hy. “Ek wou iets teruggee.”
Met verloop van tyd het hy begin besef dat selfs klein dade van leiding ’n blywende uitwerking kan hê. “Wanneer jy studente mentor, besef jy nie altyd die impak wat jy maak nie,” sê hy. “Jare later loop jy van die mense wat jy gementor het, raak en sien dan al die wonderlike dinge wat hulle doen. Dit is baie bevredigend om te weet jy het ’n klein aandeel daarin gehad.”
Vir De Villiers is veerkragtigheid een van die belangrikste lesse wat die universiteit ’n mens kan leer. “As jy ’n toets druip of nie so goed doen as wat jy gehoop het nie, definieer dit jou nie. Die belangrike ding is om op te staan en vorentoe te beweeg.”
’n Vol lewe buite die lesinglokaal
Buite die akademie en sy leierskapverantwoordelikhede, gaan De Villiers voort om die voorliefdes uit te leef wat hom sedert sy kinderdae gevorm het. Hy is ’n perkussiespeler in die Wynland Filharmoniese Orkes en ’n toegewyde lid van die Maties Baldans- en Latynse Dansvereniging.
Hy sê musiek bied ’n belangrike teenwig vir akademiese druk. “Wanneer ek musiek maak, dink ek nie aan take of eksamens nie. Dit verskuif my fokus heeltemal.” Dans het om ’n soortgelyke rede deel van sy lewe geword. “Ek het besef musiek betrek nie my hele liggaam nie, en daarom het ek met baldans en Latynse dans begin. Dit kombineer my liefde vir musiek met aktief wees.”
Wanneer hy nadink oor die 50ste herdenking van die Soweto-opstande, sê De Villiers die nalatenskap van die studente herinner hom daaraan dat jongmense ’n stem én ’n verantwoordelikheid het om die toekoms te help vorm. Hulle moed gee hom die vertroue dat selfs klein dade van leierskap tot betekenisvolle verandering kan bydra. “Die studente van 1976 herinner ons daaraan dat jongmense ’n verskil kan maak en dit wel dóén,” sê hy.
Dit is ’n les wat hy hoop vandag se studente ter harte sal neem. “Jy is nie alleen nie. Elke student het uitdagings. Moenie dat mislukking jou intimideer nie, en moenie dink jou stem is nie belangrik nie.”
De Villiers weet uit ondervinding dat die mees betekenisvolle impak soms begin met ’n enkele gesprek, ’n helpende hand of die moed om vir ondersteuning te vra.