Skip to main content

Reëlings

Die finale A2- en A3-assesserings gaan voort soos beplan en gekommunikeer van Maandag, 27 Oktober — Saterdag, 6 Desember 2025 vir studente onder toesig in assesseringslokale op die Stellenbosch-kampus.

Lees die studentehandleiding en volg die stappe vir toegang tot jou assesseringsrooster (eksamenrooster) noukeurig. Dié handleiding bevat ook skermgrepe wat jou deur die proses sal lei. Jy het jou [email protected] (gebruikersnaam) en wagwoord nodig om toegang tot jou SUNStudent-profiel te kry.

SUNStudent het nog nie ‘n selfoon-vriendelike koppelvlak nie. As jy dus jou selfoon gebruik om inligting op SUNStudent te probeer nagaan, sal die inligting moontlik nie op ‘n gebruikersvriendelike manier vertoon word nie. Julle word daarom aangeraai om ‘n rekenaar/skootrekenaar (en nie ‘n selfoon nie) te gebruik om julle assesseringsroosters en lokaalinligting in SUNStudent na te gaan.

Let asseblief daarop dat die SUNStudent-portaal slegs inligting oor die assesserings wat sentraal deur die Assesseringskantoor geadministreer word, vertoon. Dit sluit nie assesserings in wat deur die onderskeie akademiese departemente geadministreer word nie. Kontak julle dosente vir die rooster en lokaalinligting vir dié modules wat deur hulle geadministreer word. In heelparty gevalle sal dié inligting via SUNLearn gekommunikeer word.

Daar word van alle studente verwag om deeglik kennis te neem van die instruksies om hul assesseringslokale op SUNStudent te vind vir die modules wat deur die Assesseringskantoor geadministreer word. Daar is ‘n handleiding ontwikkel (Access Assessment Timetable and Concession Letter on Student Portal) om julle daarmee te help.

Die A3-rooster en -lokaalinligting (per module/per datum/per sessie) vir studente sonder assesseringstoegewings sal EEN dag voor die geskeduleerde A3-assessering op hierdie webblad gelaai word ingeval studente teenstrydighede vind of nie hul roosters op SUNStudent kan sien nie. Raadpleeg ook die blad vir A3-assesserings.

Vanweë die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting (POPI-wet) mag inligting oor lokale vir assesseringstoegewings nie op hierdie assesseringswebblad gepubliseer word nie. Die US se Klientedienssentrum kan help met navrae oor A3-assesseringslokale vir studente met assesseringstoegewings: [email protected] of 021 808-9111. Let asseblief daarop dat die Kliëntedienssentrum vanweë die opknapping van Admin A, tydelik in die Anorganiese Chemie-gebou in Bosmanstraat (direk oorkant Huis Marais) gehuisves word.

Skakel asseblief direk met akademiese departemente oor assesseringslokale vir assesserings wat deur hulle geadministreer word.

Studente word daaraan herinner dat alle assesseringreëls streng nagekom moet word. Neem asseblief kennis van die omvattende Reëls vir studente by assesseringslokale op die Stellenbosch-kampus. Hierdie reëls is van toepassing op alle studente op die Stellenbosch-kampus, en sommige studente van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe wat hul assesserings op die Stellenbosch-kampus aflê.

Let spesifiek op die volgende reëls wat betrekking het op selfone en ander elektroniese toerusting in alle assesseringslokale.

  • Selfone moet te alle tye in assesseringslokale afgeskakel wees. Sodra studente by ‘n lessenaar sit, moet hulle selfone in ‘n ondeurskynende sak op die lessenaar voor hulle plaas vir die volle duur van die assessering. Eers nadat studente die assesseringslokaal verlaat het, mag selfone uit die sak gehaal en aangeskakel word.
  • Studente word nie toegelaat om persoonlike skootrekenaars of ander elektroniese toerusting saam te neem na lokale waar geskrewe assesserings afgelê word nie.
  • Indien ‘n assessering ‘n spesifieke aanmeld-prosedure vereis (byvoorbeeld wanneer aangemeld word in ‘n elektroniese klaskamer), moet studente daardie presiese aanmeld-prosedure gebruik, en nie enige ander prosedure nie. Let asseblief daarop dat ‘n selfoon vereis sal word wat veelfaktorbekragtiging (multi-factor authentication – MFA) moontlik maak met die aantekening op rekenaars in alle rekenaargebruikersareas slegs tydens aanlyn assesserings.

Alle studente moet voldoen aan die relevante bywoningsvereistes van akademiese aktiwiteite (bv. klas, praktiese-, kliniese-, navorsings- of assesseringsaktiwiteite) wat deel vorm van die kurrikulum van die betrokke graad-, sertifikaat- of diplomaprogram waarvoor hulle geregistreer is. In die geval van afwesigheid van enige akademiese aktiwiteit, ook A2- en A3-assesserings, moet studente kennis neem van die reëls in die Jaarboek, Deel 1 (Algemene Reëls).

Indien ‘n student weens siekte of ander oorsake afwesig is tydens ‘n A2- of A3-assesseringsgeleentheid, moet die dosent(e) wat vir die betrokke module verantwoordelik is, onverwyld in kennis gestel word.

  • As ‘n student weens siekte afwesig is, moet die aansoekvorm vir verlof-tot-afwesigheid so gou moontlik by die Assesseringskantoor ([email protected]) ingedien word, tensy die afwesigheid slegs vir een eksamen was — dan sal die betrokke dosent die verlof-tot-afwesigheid administreer, en nie die Assesseringskantoor nie. ‘n Mediese sertifikaat wat aan spesifieke vereistes voldoen moet saam met die aansoekvorm ingedien word.
  • Die aansoekvorm vir verlof-tot-afwesigheid moet vir ko-kurrikulêre aktiwiteite by die Afdeling Studentesake ingedien word, en vir sportaktiwiteite by Maties Sport.

Die Universiteit Stellenbosch respekteer die godsdienstige oortuigings en kulture van alle personeel en studente. Gevolglik sal, benewens nasionale openbare vakansiedae waartydens die Universiteit vir besigheid gesluit sal wees, geen assesserings geskeduleer word op sekere godsdienstige dae wat in die US-almanak gepubliseer word nie; behalwe vir Saterdae en Sondae, sal die Universiteit egter op hierdie dae oop en in werking bly. Daar val geen godsdienstige of nasionale dae in die finale eindjaar-assesseringstydperk nie (27 Oktober — 6 Desember 2025).

Godsdienstige dae 2026 (onderhewig aan verandering)

Dinsdag 17 Februarie 2026 — Chinese Nuwejaar 
Vrydag 20 Maart 2026 — Eid-ul-Fitr (tentatief) 
Woensdag 1 April 2026 — Joodse Paasfees (Pesach) Dag 1 
Donderdag 9 April 2026 — Joodse Paasfees (Pesach) Dag 8 
Woensdag 27 Mei 2026 — Eid-ul-Adha (tentatief) 
Vrydag 11 September 2026 — Rosh Hashanah Dag 1** 
Sondag 13 September 2026 — Rosh Hashanah Dag 2 
Maandag 21 September 2026 — Yom Kippur** 
Sondag 8 November 2026 — Diwali 
** Hierdie godsdienstige dae begin die vorige aand. Dus sal geen assesserings na 17:30 die vorige aand geskeduleer word nie.

Studente wat vanweë godsdiensige beperkings nie van 'n assesseringsgeleentheid gebruik kan maak nie, word op soortgelyke wyse geakkommodeer as studente wat tydens daardie assesseringsgeleentheid siek was, aan sportgeleenthede deelgeneem het of trauma van enige aard beleef het.

Let asseblief daarop dat geen assesseringsgeleenthede buiten dié wat normaalweg geskeduleer is, aan jou verskaf sal word as jy vanweë godsdienstige beperkings 'n assesseringsgeleentheid nie benut nie.

Wanneer assesseringsroosters opgestel word, probeer die Roosterkantoor dit vermy om meer as een van die A1-, A2- of A3-assesserings (of ooreenstemmende assesserings vir jaarmodules) te skeduleer op dae wat in die algemeen aan godsdienstige beperkings onderhewig is.

Die feit dat jy toegelaat word om te registreer vir modules wat op die assesseringsroosters bots, verleen aan jou geen reg om tegemoetgekom te word rakende assesseringsroosterbotsings buiten soos hieronder uiteengesit:

  • Die Assesseringskantoor, en gewoonlik ook die tuisfakulteit, kom jou nie tegemoet as jy tydens die A2-tydperk roosterbotsings ervaar nie. In so ’n geval moet jy kies watter A2 jy wil benut, en dan A3 vir die botsende module gebruik.
  • Die Assesseringskantoor kom jou wel tegemoet as jy tydens die A3-tydperk roosterbotsings ervaar met assesserings wat deur die Assesseringskantoor afgeneem word. Tegemoetkoming behels dat reëlings getref word dat jy die botsende assesserings onmiddellik opeenvolgend tydens die A3-tydperk skryf, onder toesig wat deur die Assesseringskantoor gereël word.
  • Neem kennis van die omvattende roosterverwante assesseringsvoorskrifte in die Jaarboek, Deel 1 (Algemene Reëls).

 

Die Universiteit Stellenbosh het in 2024 'n nuwe antwoordboek vir assesserings bekendgestel. Alle studente moet hulself vergewis van die instruksies, asook die teken van die verklaring op die voorblad. Studente moet ook kennis neem van die assesseringsreëls op die agterblad van die nuwe antwoordboek. Let asseblief op die inligting op die voor- en agterblad van die antwoordboek voordat jy na die assesseringslokaal vertrek. Verwys na bladsy 9 en 10 in die Reëls vir studente by Assesseringslokale op die Stellenbosch-kampus.