Skip to main content

Meertaligheid aan die US

Graphic of students saying hello in SA's 12 official languages
Image by: Image created in Canva

Ontwikkel 'n meertalige ingesteldheid

By die Universiteit Stellenbosch moedig ons studnete aan om 'n meertalige ingesteldheid te ontwikkel wanneer hulle met mekaar kommunikeer. Dit help om 'n meer inklusiewe kampus te skep waar verskillende kulture, tale en maniere om dinge te doen gerespekteer en gevier word. 

Dit beteken dat mense ’n stem het, ongeag watter taal/tale hulle gebruik. Dit gaan daaroor dat ons waarde heg aan wát gesê word, ongeag in watter taal dit gesê word – of dit nou Engels, Afrikaans, isiXhosa of Suid-Afrikaanse Gebaretaal is. Dit spreek tot ons as ’n land van diversiteit – en stel ons in staat om mekaar te vind op maniere wat andersins nie beskikbaar sou wees nie. Meertaligheid is dus ook ’n ingesteldheid.

Ons wil jou aanmoedig om ’n meertalige ingesteldheid deur jou hele tyd by Maties in te oefen. As jy taal leer gebruik as “toegangsroete” om aan ander mense erkenning te gee, sal dit in die toekoms goed te pas kom – in jou persoonlike en beroepslewe, en veral as jy in diverse spanne werk en meer as net jou eie manier van dink in ag moet neem vir besluitneming. Jy kan ons daaraan help werk om meertaligheid in al ons omgewings te laat werklik word – of dit nou ’n amptelike geleentheid soos die US-verwelkoming is, of doodgewone vergaderings, ons moedig jou aan om sover moontlik Afrikaans, Engels en isXhosa te gebruik.

In die lesingsaal is dit ’n spanpoging. Dosente, assistente, tolke en julle almal is saam vir meertaligheid verantwoordelik. Ons help mekaar om akademiese inhoud te snap want, jy weet, ons almal is saam hierin. Skud dus jou vere reg om by ’n kampusgemeenskap aan te sluit waar ons hard daaraan werk om ’n meertalige ingesteldheid onder ons hele gemeenskap aan te kweek.

 

Wat jy kan verwag

Stock photo of student with curly hair and purple top thinking with question marks appearing next to her head.
Image by: Created in Canva

Wonder jy dalk oor die uitwerking wat die Taalbeleid op jou akademiese lewe en taalgebruik in sosiale ruimtes sal hê? Ons vat hier onder saam wat jy kan verwag.

Hoe die US-Taalbeleid in die alledaagse lewe toegepas word

Die Universiteit Stellenbosch (US) is ’n meertalige universiteit. Dit beteken dat ons die tale en taalvariante wat studente en personeel gebruik, respekteer. Ons erken ook die verskillende maniere waarop mense taal graag gebruik, en dat ons verskillende vlakke van vaardigheid in verskillende tale het. Ons Taalbeleid is soos die GPS wat vir ons diverse kampusse die koers aandui. Dit verseker billike toegang, vier meertaligheid en ondersteun doeltreffende leer en onderrig. Die US gaan nie net oor ons nie; ons is deel van streeks-, nasionale, kontinentale en globale gemeenskappe. Ons probeer dus om, waar moontlik, ruimtes te skep en materiaal te produseer in Afrikaans, Engels en isiXhosa – die amptelike tale van die Wes-Kaap.

Ons besef wel dat ons studentekorps veel meer divers as dit is. Ons het studente vanoor die land, die res van Afrika en die wêreld. En ons vier hulle almal se tale en taalidentiteite. As instelling het ons gekies om ons tot Afrikaans, Engels en Xhosa te verbind en probeer ons om ander tale – onder meer Suid-Afrikaanse Gebaretaal – sover moontlik te akkommodeer.

In Desember 2021 het die US Raad (die struktuur wat vir dinge soos goeie oorsigbestuur en beleidvorming verantwoordelik is) ná ’n omvattende proses van raadpleging ’n nuwe US Taalbeleid goedgekeur. Die doel van die Taalbeleid is om taalgebruik deur die instelling heen te reguleer, te bestuur en oorsigbestuur daaroor te verrig. Ons hersien dit elke vyf jaar.

Die drie grondbeginsels van die Taalbeleid berus op ons oortuiging dat:

  • meertaligheid ’n hulpbron is,

  • taal toegang moet verbreed en sukses moet bevorder; en

  • die beleid en die uitvoering daarvan gesonde onderrig en leer moet fasiliteer.

Taalbeleid 2021 in 'n neutedop

Voorgraadse leer en onderrig

Akademiese modules word in een van die volgende taalopsies aangebied: 

  • Afsonderlike lesings in Afrikaans en Engels: Die lesings is in Engels of Afrikaans maar vir groepwerk, praktikums en tutoriale word studente uit verskillende taalgroepe saamgevoeg. Een-tot-een-gesprekke met dosente kan in Afrikaans en Engels plaasvind, mits die dosent albei tale magtig is.

  • Afrikaans en Engels saam in dieselfde lesing: Alles word in Engels verduidelik en Afrikaanse opsommings word voorsien. As eerstejaar is daar vir jou tolking beskikbaar wat in die klas of aanlyn verskaf word. Die taal waarin die dosent jou vrae beantwoord, hang af van hoe vaardig hulle is in die taal waarin jy jou vraag stel.

  • Slegs een taal: Lesings kan in Engels of een van die ander twee tale wees, solank die dosent en alle studente in die groep vlot in daardie taal is. Gelyktydige tolking in Afrikaans, Engels of Xhosa kan aanlyn of in die klas aangebied word. As die dosent in albei tale vaardig is, kan gesprekke en tutoriale in Afrikaans en Engels aangebied word.


Leermateriaal

  • Alle voorgeskrewe leesmateriaal is in Engels beskikbaar.

  • Voorgeskrewe leesmateriaal (publikasies uitgesluit) is sover redelikerwys uitvoerbaar** in Afrikaans beskikbaar.

  • Moduleraamwerke en studiegidse is in Afrikaans en Engels beskikbaar.

  • Waar dit redelikerwys uitvoerbaar is** en die behoefte bestaan, kan Xhosa en ander tale gebruik word om kernbegrippe tuis te bring.


Assessering en vraestelle

Assesserings en vraestelle word in Afrikaans en Engels beskikbaar gestel en jy kan dit in Engels of Afrikaans beantwoord.

** Die uitvoering van die Taalbeleid word onderlê deur wat redelikerwys uitvoerbaar is. Dit beteken dat elke situasie beoordeel word op eie meriete en volgens faktore soos die getal studente wat by ’n reëling sal baat, die taalvaardigheid van personeel en studente, en die Universiteit se hulpbronne, rooster en beskikbare lokale. Ander bepalende faktore sluit in die samestelling van elke klasgroep, wat ook van jaar tot jaar – of selfs van een semester na die volgende – wissel, asook onverwagte personeelveranderings.