Skip to main content

Toegang tot inligting (institusionele toestemming)

Institusionele toestemming (waarna soms in Engels verwys word na as “gatekeeper’s permission”) is ’n belangrike maatreël om seker te maak dat die Universiteit Stellenbosch en sy navorsers voldoen en uitvoering gee aan Suid-Afrikaanse privaatheidsverwante wetgewing. Om hierdie doel te help bereik, vereis die Universiteit dat enige individu eers institusionele toestemming vanaf Inligtingsoorsigbestuur (Afdeling Institusionele Strategie, Navorsing en Analitika) moet bekom voordat die persoon:

  • Navorsing oor persoonlike en/of institusionele inligting in die Universiteit se besit onderneem; en
  • Studente, personeellede, alumni, vennote en ander belanghebbendes van die Universiteit (op grond van hulle verwantskap met die Universiteit) as navorsingsdeelnemers werf. 

 

Besoek asseblief Inligtingsoorsigbestuur se aanlyn dienstoonbank om institusionele toestemming te versoek.

Sien asseblief ook die US se PAIA-handleiding.

Vir enige navrae of hulp met die indiening van ’n versoek om institusionele toestemming, stuur ’n e-pos na [email protected].

Vir meer inligting, raadpleeg gerus die Regulasies vir die Werwing van Universiteit Stellenbosch-persone as Navorsingsdeelnemers, en vir Navorsing met Behulp van Persoonlike en Institusionele Inligting in die Universiteit Stellenbosch se Besit.​​


BELANGRIKE VRAE

1. Waarom moet ek om institusionele toestemming aansoek doen?

Die etieknorme en -standaarde van die Universiteit Stellenbosch skryf voor dat ’n navorser wat navorsing met of oor die instelling se mense of data wil doen eers institusionele toestemming moet kry voordat data ingesamel mag word. Die Universiteit Stellenbosch is volgens wet verplig om enige persoonlike inligting te beskerm wat hy insamel, stoor of gebruik. Die institusionele toestemmingsproses is een van die maniere waarop ons seker maak dat privaatheid beskerm word en inligting verantwoordelik bekendgemaak word. Dit help verseker dat enige navorsing met of oor persoonlike inligting in die Universiteit se besit binne die perke van toepaslike wetgewing geskied.

2. Hoe verskil institusionele toestemming van etiekgoedkeuring?

Die prosesse vir institusionele toestemming en etiekgoedkeuring oorvleuel hier en daar, want albei is bedoel om menslike navorsingsdeelnemers se regte en welstand te respekteer en te beskerm. Die klem van die twee prosedures verskil egter. Institusionele toestemming gaan oor die Universiteit Stellenbosch se verantwoordelikhede benewens die tegniese uitvoering van die navorsing, soos die reg van toegang tot ons data, data-ontginning, en prosedures vir inligting- en kubersekuriteit. Etiekgoedkeuring is op sy beurt ’n voorvereiste vir institusionele toestemming. Gesamentlik verseker die twee prosedures dat navorsers enige moontlike impak van hulle navorsing op menslike deelnemers oorweeg.