
Huis Kerkenberg nou deel van die kampus-familie
Studente van Huis Kerkenberg-koshuis het onlangs ingetrek in 'n moderne nuwe gebou op die perseel van die Tygerberg-kampus.
Die blou en grys gebou wat voorheen ons tuiste was, was eens deur die Tygerberg-hospitaal gebruik as 'n toevlugsoord vir die families van pasiënte, aangesien dit gerieflik geleë is reg oorkant die mediese sentrum. In daardie dae was dit bekend as "Huis Daan du Toit".
In 2000 het die Universiteit Stellenbosch hierdie groot blou monster van 'n gebou aangeskaf wat oorkant die Tygerberg-kampus, die tuiste van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, geleë is.
Van buite af was dit dalk nie die mooiste gebou nie, maar die warmte en liefde wat aan die binnekant ervaar is, is onmeetbaar. Vir ons, die studente, was dit 'n verlengstuk van ons gesinswonings.
Die trek

Oor die jare was daar 'n toenemende behoefte onder die studente van Huis Kerkenberg om deel te word van die grooter "kampus-familie". Ons wou nie uitmis op die lewendige studentegemeenskap wat op die Tygerberg-kampus aktief is nie, en die veiligheid van studente wat heen en weer beweeg tussen die koshuis en die kampus was ook 'n oorweging. Uiteindelik is daar besluit om Huis Kerkenberg na die kampus toe te skuif.
Ons kon nie vir 'n beter 15de verjaardaggeskenk vra nie! Die amptelike trek na die nuwe gebou het teen die middel van Julie 2016 plaasgevind en die studente se opgewondenheid daaroor was duidelik te sien in die spoed waarteen hulle by die nuwe koshuis ingetrek het. Die aanvanklike plan was om stuk-vir-stuk deur die loop van die week in te trek, maar teen middagete op die eerste dag, was ongeveer 75% van al die studente al gevestig in hul nuwe tuiste.
Die gemeenskap
Dit is 'n nuwe begin vir Huis Kerkenberg – 'n tyd om voort te bou op dit wat reeds bestaan, en ook die begin van iets nuuts.
Daar mag dalk so 'n bietjie onsekerheid wees terwyl ons aanpas by die nuwe omgewing, maar ek sien dit as 'n geleentheid om te groei en te ontwikkel tot 'n beter weergawe van wat ons voorheen was.
In ware Kerkie-gees sal ons saamspan en hierdie gulde geleentheid aangryp!
Donrich van Schalkwyk is die voormalige Huis Kerkenberg Primarius