Skip to main content
A demonstration in the Immersive Technology Lab at SU's Library
Image by: Stefan Els
Persverklaring Innovasie en entrepreneurskap Institusionele nuus

US open Afrika se eerste laboratorium vir immersiewe tegnologie

Hannelie Booyens
Senior Writer, Corporate Communications and Marketing
29 Januarie 2026
  • 'n Nuwe immersiewe fasiliteit by die SU-biblioteek stel studente en navorsers in staat om hulle binne-in komplekse data plaas.
  • Die laboratorium is die eerste van sy soort by 'n Afrika-universiteit, wat die US aan die voorpunt plaas van immersiewe akademiese infrastruktuur.
  • Die laboratorium is as 'n gedeelde, interdissiplinêre ruimte ontwerp en ondersteun onderrig, navorsing en innovasie regoor fakulteite heen.

Stel jou voor jy staan onder 'n ster-gevulde naghemel wat in reële tyd uitgebeeld word of kyk hoe 'n dosent studente deur die innerlike werking van die menslike brein op 'n groter skaal lei. Stel jou ingenieursstudente voor wat op 'n virtuele konstruksieterrein stap, of klimaatswetenskaplikes wat onsigbare kweekhuisgas-data omskep in iets wat jy kan sien, kan deurbeweeg en verstaan. Hierdie visie is nie meer teoreties nie; dit is deel van die alledaagse akademiese omgewing aan die Universiteit Stellenbosch (SU).

Die Universiteit het vandeesweek sy Laboratorium vir Immersiewe Tegnologie (ITL) geopen, 'n hoë-resolusie, 270° panoramiese datavisualiseringsfasiliteit wat in die SU-biblioteek gesetel is. Die laboratorium, langs die Biblioteek se Makerspace, is die eerste fasiliteit van sy soort by 'n Afrika-universiteit en is 'n belangrike mylpaal in die US se belegging in gevorderde akademiese infrastruktuur.

Sewe jaar lange reis na 'n grensverskuiwende ruimte

Ellen Tise, Senior Direkteur: Biblioteek- en Inligtingsdiens, het die gaste verwelkom en gesê die opening van die ITL was die hoogtepunt van 'n idee wat sewe jaar gelede vir die eerste keer vorm aangeneem het.

"Wat as 'n baie eenvoudiger visie begin het, het saam met die vinnige ontwikkeling van tegnologie gegroei," het sy gesê. "Namate die behoeftes van ons studente en akademici verander het, het ons ambisie ook verander." 

Hoewel die idee oorspronklik as 'n beskeie datavisualiseringsruimte begin het, het die projek tot 'n volledige immersiewe omgewing gegroei wat datavisualiseringsgeletterdheidsopleiding, gevorderde visualiseringsdienste en meeslepende kopmonteerskermervarings integreer. "Dit is 'n ruimte waar personeel en studente nie net na data kyk nie, hulle kan binne-in dit ingaan," het Tise verduidelik.

Die laboratorium bring virtuele en uitgebreide werklikheidstegnologieë bymekaar om navorsing, onderrig, opleiding en samewerking in die bedryf te ondersteun. Dit is met 'n interdissiplinêre benadering in gedagte ontwerp, veral vir data-intensiewe vakgebiede wat nuwe maniere vereis om komplekse inligting te interpreteer en te kommunikeer.

Waarom die laboratorium in die biblioteek hoort 

Prof Sibusiso Moyo, Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studie, het die ITL as 'n strategiese bate beskryf wat die US se navorsings- en onderrigvermoëns versterk terwyl dit die manier waarop kennis geskep en gedeel word, uitbrei.

"Die aard van navorsing is besig om te verander," het sy opgemerk. "Ons werk oor vakgebiede heen met baie groter datastelle en meer komplekse inligting. Dit is nie meer genoeg om bloot uitsette te lewer nie. Ons moet ons bevindings ook duidelik en verantwoordelik interpreteer, ondersoek en kommunikeer." 

Immersiewe tegnologie stel volgens Moyo navorsers en studente in staat om patrone, verhoudings en insigte te sien wat moeilik is om deur gewone voorstellings te begryp. "Dit maak leer- en ontdekkingservarings moontlik wat interaktief en boeiend is, sonder om akademiese gehalte in te boet."

Moyo het ook oor die besluit gepraat om die laboratorium in die Biblioteek, eerder as binne 'n spesifieke fakulteit, te vestig. Die Biblioteek, het sy aangevoer, is 'n neutrale, gedeelde akademiese ruimte wat samewerking oor vakgebiede se grense heen aanmoedig. "Hierdie fasiliteit is nie vir 'n enkele vakgebied ontwerp nie," het sy gesê. "Dit bestaan om die kernfunksies van onderrig, leer en navorsing regoor die Universiteit te ondersteun."

Daar is reeds projekte van verskeie fakulteite geïdentifiseer om die laboratorium te gebruik, het sy bygevoeg, veral op gebiede soos klimaatsveerkragtigheid, gesondheidstelsels, ongelykheid, ekonomie en volhoubare ontwikkeling.

'n Platform vir die toekoms van leer 

Die bekendstelling van die ITL was vir prof Deresh Ramjugernath, Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch, simbolies van 'n wyer institusionele reis na digitale transformasie en akademiese relevansie. 

"Dit is 'n fasiliteit van wêreldgehalte wat nuwe maniere van onderrig, leer en navorsing ondersteun," het hy gesê. "Dit rus ons studente en personeel met digitale vaardighede en nuwe denkwyses toe wat noodsaaklik is in die hedendaagse samelewing." 

Ramjugernath het opgemerk dat die ITL nie net in Suid-Afrika nie, maar ook op die vasteland van Afrika die eerste fasiliteit van sy soort in sy huidige formaat is,. "Dit maak saak. Hoër onderwys ontwikkel vinnig. Die verwagtinge van gegradueerdes, werkgewers en die samelewing verander, en universiteite kan nie net op tradisionele benaderings tot onderrig en leer staatmaak nie."

Hy het die laboratorium as 'n doelgerigte belegging beskryf wat ervaringsleer verbeter deur studente toe te laat om die teorie met werklike toepassings te verbind. "Dit gaan nie daaroor om menslike onderrig te vervang nie," het hy gesê. "Dit gaan oor die verbetering van leer deur digitale instrumente en om dít wat moontlik is, uit te brei."

Die Rektor het ook op die laboratorium se potensiële rol in die bevordering van werk in kunsmatige intelligensie en data-gedrewe navorsing gewys. Kunsmatige intelligensie, het hy gesê, is nie meer 'n toekomstige bekommernis nie, maar 'n huidige werklikheid. "As ons wil hê ons gegradueerdes moet mededingend bly, moet ons hulle met die vaardighede toerus om binne sterk etiese raamwerke betekenisvol met KI om te gaan."

Die ITL is meer as 'n enkele fasiliteit – Ramjugernath het dit as 'n platform vir samewerking, innovasie en toekomstige groei beskryf. "Wat ons vandag open, is 'n grondslag waarop ons kan bou," het hy gesê. " 'n Ruimte wat digitale leer, interdissiplinêre werk en akademiese uitnemendheid ondersteun." 

Gaste kon na afloop van die formele opening die laboratorium se vermoëns deur middel van roterende demonstrasies ervaar. Dié ervaring het 'n kykie gebied in hoe onderrig, navorsing en leer by die US binnekort baie anders kan lyk – meer meeslepend, meer samewerkend en meer belyn met die komplekse uitdagings van die wêreld buite die kampus. 

  • Belangstellendes kan Wouter Klapwijk kontak vir meer besonderhede: (021) 808-4378 of [email protected]

Verwante stories