Randall Adams
ʼn Dag in die Lewe... Randall Adams
- Ter viering van Werkersdag aan die begin van Mei dra ons hierdie reeks profiele op aan ons personeel en hulle deurslaggewende bydraes tot die Universiteit Stellenbosch (US). Randall Adams speel ʼn sleutelrol agter die skerms in die bevordering van die US se internasionale skakeling deur internasionale afvaardigings en diplomatieke bande kundig te koördineer. Met sy vriendelike geaardheid en kalm aanpasbaarheid help hy om betekenisvolle verbintenisse te skep wat die Universiteit se reikwydte uitbrei.
Wat behels jou rol by die US?
My rol as Senior Koördineerder: Afvaardigings- en Diplomatieke Korps-skakeling by US Internasionaal gaan oor mense, verhoudings en om seker te maak dinge verloop glad wanneer die Universiteit internasionale afvaardigings en lede van die Konsulêre Korps-gemeenskap van Kaapstad ontvang of met hulle skakel. In wese werk ek saam met kollegas reg oor die Universiteit om amptelike besoeke vir betekenisvolle en professionele skakeling te beplan, te koördineer en uit te voer – hetsy vir die verwelkoming van buitelandse regeringsverteenwoordigers op die kampus of vir skakeling met internasionale vennote en diegene wat formele bande met die Universiteit wil hê.
ʼn Groot deel van my werk behels koördinering en kommunikasie. Ek help om programme saam te stel, korrespondensie te bestuur, raad oor protokol en etiket te gee en seker te maak besoekers ervaar die US as die professionele, verwelkomende instelling wat dit is.
Tegelyk werk ek nou saam met interne belanghebbendes om te verseker dat besoeke betekenisvol is en met die Universiteit se breër doelwitte strook, veral wat internasionalisering en vennootskappe betref. My werk ondersteun dus die US se internasionaliseringsagenda en help om ruimtes te skep wat samewerking, skakeling, dialoog en wedersydse begrip moontlik maak.
Hoe sien ʼn tipiese dag by die werk daar uit?
Ek het nie ʼn ‘tipiese’ dag by die werk nie en dis een van die goed wat ek die meeste van my rol geniet.
Sommige oggende begin stil by my lessenaar, waar ek e-posse inhaal en liasseerwerk doen, roosters finaliseer of beplanningsnotas vir ʼn komende besoek opstel. Ander dae begin dalk met ʼn bietjie meer energie – om gaste op die kampus te verwelkom, hulle na vergaderings te vergesel of seker te maak alles is gereed vir ʼn geleentheid.
My dae is dikwels baie vloeibaar en behels skakeling met verskillende spanne, van fakulteite en afdelings tot eksterne vennote. Dinge verloop nie altyd presies soos beplan word nie, daarom is buigsaamheid noodsaaklik, asook kalmte en die vermoë om op jou voete te dink. Hoewel dit soms besig kan raak, is dit werklik bevredigend as ʼn besoek goed verloop en almal hier weggaan met die wete dat hul tyd by die US die moeite werd was.
Hoe het jou opleiding of vorige ervarings jou vir hierdie werk voorberei?
Terugskouend het baie van wat ek langs die pad gedoen het my vir hierdie rol voorberei, al het dit nie destyds so gelyk nie. My akademiese agtergrond in internasionale studie en geskiedenis het my gehelp om sterk kommunikasie-, navorsings- en organisatoriese vaardighede te ontwikkel, terwyl my professionele ervarings my geleer het hoe om komplekse omgewings te navigeer en met ʼn wye verskeidenheid van mense te werk.
Ek het oor die jare geleer hoe belangrik dit is om aandag aan besonderhede te gee en tegelyk die groter prentjie in gedagte te hou. Om met diverse belanghebbendes te werk – elkeen met hul eie verwagtinge en prioriteite – het my die waarde van geduld, duidelike kommunikasie en wedersydse respek geleer. Bowenal het ek geleer dat om aandagtig te luister en responsief te wees dikwels die sleutel is om vertroue te skep en dinge glad te laat verloop.
Wat geniet jy die meeste van jou rol en werk by die US?
Die mense. Ek glo die US bestaan uit toegewyde, passievolle kollegas wat werklik omgee oor wat hulle doen, en dit maak ʼn reuse verskil. Ek geniet dit regtig om oor verskillende fakulteite en afdelings heen te werk en te sien hoe almal op hul eie manier tot die Universiteit se sukses bydra.
Ek geniet dit ook om die US na die buitewêreld te verteenwoordig. Dis lonend om deel te wees van gesprekke waarin nuwe idees uitgeruil en verhoudings versterk word. Om te sien hoe die werk by Stellenbosch aan breër streeks-, kontinentale en globale kontekste skakel, herinner my daaraan dat wat op die kampus gebeur, werklik buite ons onmiddellike omgewing saak maak.
Die US se mengsel van tradisie en voorwaartse denke is nog ʼn aspek wat ek waardeer. Dis ʼn plek waar geskiedenis gerespekteer word, maar waar daar ook ruimte vir groei en verandering is.
Vertel ons iets oor jouself wat min mense sou verwag.
My persoonlikheidstipe is ENFJ-A (protagonis) en mense is soms verbaas om te hoor dat ek buite my werk baie waarde aan stilte en persoonlike tyd heg. Teen die agtergrond van die formele en uitwaartse aard van my rol geniet ek dit om dinge stadiger te vat wanneer ek kan – hetsy deur speletjies te speel, nuusartikels te lees of bloot tyd hê om te dink en te besin.
Ek is ook ʼn groot gesinsmens en heg groot waarde daaraan om gehaltetyd saam met my geliefdes deur te bring. Familie hou my voete op die grond en bied ʼn belangrike perspektief op alles wat ek doen. Daardie balans tussen ʼn besige professionele omgewing en ʼn ondersteunende huislewe help my om met fokus, empatie en positiewe energie by die werk op te daag.