
Dr Bambesiwe May ontvang die L'Oréal-UNESCO For Women in Science-toekenning
L'Oréal-UNESCO-toekenning vir US-navorser wat mynafvaluitdagings aanpak
- Dr Bambesiwe May het 'n L'Oréal-UNESCO For Women in Science-toekenning ontvang.
- Sy ontwikkel volhoubare raamwerke vir die bestuur van mynafval.
- Haar werk verminder omgewingsrisiko’s en bevorder volhoubaarheid in die industrie.
“Ek was opgewonde, dankbaar en eerlikwaar net oorstelp van vreugde. Dit het soos 'n 'uiteindelik'-oomblik gevoel, asof al die stil seisoene van volharding hulle erkenning gevind het. Dit was 'n wonderlike gevoel – terselfdertyd goed onderleg én surrealisties.”
Dít is hoe dr Bambesiwe May, 'n postdoktorale genoot by die African Rainbow Minerals Leerstoel in Geometallurgie in die Departement Aardwetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch (US), gereageer het op die nuus dat sy 'n navorsingstoekenning as deel van die gesogte L'Oréal-UNESCO For Women in Science-nasionale program gewen het. Sy was een van agt vroue wat onlangs by 'n toekenningsplegtigheid vereer is wat deur L'Oréal Suid-Afrika in vennootskap met UNESCO in Sandton, Johannesburg, gehou is.
Hierdie toekennings vier uitstaande vrouewetenskaplikes wat hulle navorsing gebruik om van Afrika se dringendste uitdagings aan te spreek. Die nasionale program poog om die beduidende geslagsgaping in die wetenskap aan te spreek deur diversiteit en uitnemendheid in Suid-Afrika te bevorder, deur finansiële ondersteuning en erkenning te gee om vrouewetenskaplikes te bemagtig en hulle deurslaggewende rol in die bevordering van wetenskaplike navorsing en innovasie te erken.
May is vir die profilering van mynafval vereer – iets wat dikwels net as 'n omgewingsprobleem beskou word, maar terselfdertyd ook waardevolle metale en minerale kan bevat. Sy het 'n raamwerk ontwikkel wat omgewingsrisikobestuur met hulpbronherwinning kombineer om ons te help om dít wat veilig hergebruik kan word en dít wat bedwing moet word, te identifiseer. May pas dit tans toe op mangaan- en gouduitskot (die oorblywende afvalmateriaal van mynbou nadat mangaan of goud uit die erts onttrek is) in Suider-Afrika. Die doel is om afval van 'n las in 'n geleentheid te omskep.
Volgens May het haar vorige werk haar belangstelling in hierdie gebied van die wetenskap geprikkel. “Ek het as 'n geochemikus in omgewingskonsultasie gewerk, waar ons voortdurend met mynafvalbeoordelings te doen gehad het en inligting vir omgewingsimpakassesserings verskaf het. Ek het dikwels gewonder: 'Wat as ons meer kan doen as om afval net te klassifiseer? Wat as ons dit anders daarna kon kyk?'.
“Maar in konsultasie laat tyd en omvang jou nie altyd toe om daardie 'wat as' te ondersoek nie. Ek het dus teruggegaan na die akademie, gedryf deur nuuskierigheid en 'n begeerte om probleme op te los wat ek eerstehands gesien het. Ek word veral deur probleme geïnspireer omdat dit my energie gee. Ek hou daarvan om praktiese, wetenskapgebaseerde oplossings te skep wat die natuur beskerm en die bedryf meer volhoubaar maak.”
May sê die toekenning voel asof dit 'n bevestiging van die reis is – nie net hare nie, maar dié van elke vrou wat aangehou het, selfs wanneer dit onsigbaar gevoel het.
“Professioneel is dit 'n kragdadige herinnering daaraan dat die soort werk wat ek doen – wat chemie, geologie en volhoubaarheid oorbrug, saak maak. Dit open deure vir nuwe samewerking en maak die idee sigbaar dat die wetenskap terselfdertyd nougeset en sosiaal responsief kan wees.
“Ek hoop dit herinner jong vroue daaraan dat daar geen enkele pad na die wetenskap is nie en dat weetgierigheid 'n kragtige kompas is. Jy hoef nie alles uit te pluis nie. Begin net waar jy is, met dít wat jy het. Ek wil hê hulle moet sien dat die wetenskap nie abstrak is nie; dit is menslik, kreatief en vol geleenthede om 'n verskil te maak. As my reis iets wys, is dit dat jou 'waarom' kan ontwikkel, maar jou impak verdiep met elke tree wat jy gee.”
Die wete dat haar werk tot die oplossing van werklike probleme bydra, hou haar aan die gang, voeg May by. Sy word diep gemotiveer deur diegene wat haar voorafgegaan het en geniet dit om by mense te wees by wie sy kan leer.
“Soms bring besinning oor motivering, om terug te kyk na hoe ver ek gekom het, die struikelblokke wat ek oorkom het, en om te besef dat dit my aanspoor om aan te hou om grense te verskuif en nuuskierig te bly oor wat nog moontlik is.”
Met die L'Oréal-UNESCO For Women in Science-toekenning op haar kerfstok gaan May daarop fokus om haar raamwerk vir omgewingsgeochemiese assessering-valorisasie oor verskillende afvalstrome te loods. Sy sal dit nou op ander materiale toepas, soos waterhiasinte wat hulle in papier omskep en tekstielafval om ekovriendelike teëls te vervaardig. Hierdie projekte toets almal hoe afval as 'n hulpbron herklassifiseer kan word terwyl die omgewing beskerm word.
May het ook 'n groot voorliefde vir wetenskapkommunikasie en beplan om haar werk met die publiek te deel. “Ek wil verseker dat toepaslike belanghebbendes bewus is van wat navorsers doen om werklike probleme op te los. Ons ontdekkings moenie net in boeke en tydskrifte begrawe bly nie, maar die mense en sektore bereik wat daarop kan reageer.”