Skip to main content
Innovator spotlight
Impak Innovasie en entrepreneurskap

Biotegnologie vir ‘n groener, volhoubare toekoms

Mihlali Gotyana
Communication Specialist
02 Junie 2026
  • Die ontwikkeling van geneties-gemodifiseerde gisstamme wat spesiale ensieme vir kommersiële toepassings produseer.

Professor Marinda Viljoen-Bloom, 'n mikrobioloog aan die Universiteit Stellenbosch (US), het meer as dertig jaar gewerk aan ‘n metode om mikro-organismes in betekenisvolle innovasies te omskep. Haar werk ondersteun die groei van Suid-Afrika se bio-ekonomie – 'n ekonomiese stelsel gebaseer op volhoubare, natuurgebaseerde oplossings deur hernubare brandstowwe uit gewasse te skep en ensieme te ontwikkel wat hardnekkige bioplastiek-afval afbreek.

Prof Viljoen-Bloom het al haar grade by die US voltooi, van 'n BSc in Mikrobiologie en Chemie tot 'n PhD in Mikrobiologie. As deel van haar doktorsstudies het sy 18 maande as 'n besoekende nagraadse student by die Whitehead Institute for Biomedical Research by die Massachusetts Institute of Technology (MIT) in Boston deurgebring – 'n ervaring wat haar nuwe insig gegee het in die wêreldwye potensiaal van gisbiologie. Sy is in 1997 as 'n dosent aangestel en was sedert 2010 'n Medeprofessor in die Departement Mikrobiologie. In 2005 het sy haar werksure verminder tot 'n 5/8 aanstelling, wat volgens haar die vryheid gegee het om te werk en belangrike tyd met haar gesin deur te bring. Haar loopbaan wys dat jy 'n toegewyde wetenskaplike, 'n vrou, 'n ma en 'n aktiewe gemeenskapslid kan wees. “Dit is 'n kwessie van balans,” sê sy

Wat doen 'n mikrobioloog nou eintlik? Viljoen-Bloom en haar span ontwikkel geneties gemodifiseerde gisstamme wat spesiale ensieme vir kommersiële toepassings produseer. Dit sluit in hernubare hulpbronne (biobrandstowwe), bioprosessering (fermentasie en ensiematiese reaksies om rou materiale om te skakel in waardevolle produkte, soos biobrandstowwe en bioplastiek), en die ontwikkeling van 'n sirkulêre ekonomie (herwinning, hergebruik en herdoel van biologiese materiale). 

"Al hierdie aktiwiteite vereis vooruitgang in biotegnologie om nuwe produkte en prosesse te ontwikkel wat 'n skuif na meer volhoubare, natuurgebaseerde oplossings moontlik maak – oplossing wat globale uitdagings soos klimaatsverandering, hulpbronskaarsheid, en besoedeling aanspreek,” sê sy. Haar werk ondersteun direk twee van die Verenigde Nasies se Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte (SDGs): bekostigbare en skoon energie (SDG7), en verantwoordelike verbruik en produksie (SDG12).

Van 2007 tot 2022 was sy die projekbestuurder vir die South African Research Chairs Initiative (SARChI) Biofuel Navorsingsleerstoel wat deur Prof. Emile van Zyl gehou is. Die programe het 286 internasionale gepeerresenseerde artikels, 16 patent aansoeke, en 190 nagraadse studente, insluitend 92 meestersgraad, 38 doktorale en 27 naskolêre navorsers/genootskapsstudente, opgelei. “As 'n produk van mentorskap en goeie toesig, het hierdie projekte gevorderde vaardighede in mikrobiologie, biotegnologie, en prosesingenieurswese ontwikkel wat krities is vir die bou van 'n volhoubare biobrandstof-industrie in Suid-Afrika,” sê sy. 

Daar is 'n langlopende samewerking met Prof. Lorenzo Favaro en sy Afval-tot-Bioprodukte Laboratorium aan die Universiteit van Padova, Italië, met verskeie studente wat tyd in albei groepe deurgebring het. As deel van die samewerking is Viljoen-Bloom ook diep verbind tot die ontwikkeling van die volgende generasie wetenskaplikes. Favaro en Viljoen-Bloom het getoon hoe akademici die leiding kan neem om nuwe paaie na impakvolle navorsing te ontwikkel, wat gelei het tot twee universiteit afwentelmaatskappye.

Sy dien tans as Direkteur en Mede-stigter van Urobo Biotech, ’n Stellenbosch afwentelmaatskappy wat gelei word deur nageskoolde navorsingsassistent Dr Wessel Myburgh en PhD-student Me Dominique Rocher. Urobo Biotech, wat in 2023 geregistreer is, ontwikkel mikrobiese ensieme om bioplastiek af te breek sodat dit herwin kan word. 

Alhoewel bioplastiek as omgewingsvriendelik bemark word, is dit nie altyd bio-afbreekbaar nie en dra dit steeds by tot die groeiende plastiekafvalkrisis. Die Urobo-span het mikrobiese ensieme ontwikkel wat die afbreek van bioplastiek aansienlik kan versnel. Die produkte wat daaruit vloei, soos melksuur, kan dan herwin word om nuwe bioplastiek te vervaardig. Die maatskappy het reeds geskiedenis gemaak as die eerste Suid-Afrikaanse span te word wat deurgedring het na die finale rondtes van die 2025 Hult Prize Global Accelerator.Hulle het onder die top agt uit meer as 188 000 spanne uit 130 lande geëindig.

Nog 'n tegnologie wat deur die Viljoen-Bloom-Favaro samewerking ontwikkel is, is gisvariëteite wat rou stysel van gewasse soos mielies, rys en soetsorghum kan afbreek om bio-etanol te produseer – 'n hernubare, skoner brandstof. Hierdie tegnologie is aan 'n afwentelmaatskappy, Agri-E, gelisensieer, wat by die Universiteit van Padova geregistreer is.

Op die vraag: “Watter raad sou sy aan haar 18-jarige self gee?” sê Viljoen-Bloom vinnig: “Volg jou hart, vertrou jou intuïsie en werk hard.” Met die oog op die toekoms beplan Prof. Viljoen-Bloom om aan te hou om die afwentelmaatskappye te ondersteun terwyl sy nuwe samewerkings en toepassings vir mikrobiese variëteitontwikkeling ondersoek.

Verwante stories