Skip to main content
ICC 113 for first-year engineering students

Eerstejaar-ingenieurstudente bied hul plakkaatprojekte aan tydens die ICC113-assessering in Interkulturele Kommunikasie.

Innovasie en entrepreneurskap

Mededingende assessering versterk kommunikasievaardighede van eerstejaar-ingenieurstudente

Fakulteit Ingenieurswese
02 Junie 2026
  • Eerstejaar-ingenieurstudente het hul ICC113-module (Interkulturele Kommunikasie) afgesluit met ’n plakkaataanbieding in konferensiestyl, gekombineer met ’n gesimuleerde beleggingsaktiwiteit.
  • Die formaat het ’n outentieke en interaktiewe leerervaring geskep waarin studente hul idees aan ’n breër gehoor moes kommunikeer en verdedig.

Vir die eerste keer sedert die module Interkulturele Kommunikasie (Intercultural Communication (ICC113)) aan eerstejaar-ingenieurstudente aangebied word is die module afgesluit met plakkaataanbiedings wat herinner aan ’n konferensie se “walk-around”-formaat. Wat dit anders gemaak het as ’n gewone assessering is dat genooide gaste met vals geld kon belê in dié projekte waarvan hulle die meeste oortuig was kan werk.

Die opdrag

Deur die loop van die semester het die groepe studente ’n werklike ingenieursprobleem, gekoppel aan die Verenigde Nasies se Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte (Sustainable Development Goals (SDGs)), ondersoek. Die SDGs is sewentien wêreldwye doelwitte wat kwessies soos skoon water, bekostigbare energie en klimaatsverandering aanspreek. Die studente se taak was om die probleem op beide ’n tegniese en menslike manier te verstaan: wie word geaffekteer, hoekom maak dit saak, en watter ingenieursoplossings is reeds voorgestel of geïmplementeer.

Die plakkaat was die primêre kommunikasiebron. Studente moes dus hul bevindings saamvat in ’n enkele A3-bladsy wat alles duidelik genoeg weergee dat iemand wat nie vertroud is met die onderwerp nie binne 60-90 sekondes kon verstaan waaroor dit gaan. Die opdrag het vyf komponente voorgeskryf: ’n probleemstelling, uiteensetting van die probleem se impak, een of twee kern insigte, een of twee voorgestelde innovasies of oplossings, en ’n refleksie oor die relevante sosiale, etiese en omgewingsoorwegings.

Studente is uitdruklik gewaarsku teen die vrees om nie alle aspekte te behandel nie (FONCE – the Fear Of Not Covering Everything) en moes doelbewuste keuses maak oor wat om in te sluit en wat nie.

Die beleggingsaansporing

Potensiële beleggers, in die vorm van dosente van die Ingenieursfakulteit wat die sessie bygewoon het, het elkeen het ’n pakkie speelgeld en ’n rol plakkers ontvang. Hulle het deur die lokaal beweeg, met groepe in gesprek getree en vrae gevra oor die probleem, die impak daarvan en die voorgestelde oplossings. Nadat hulle ’n groep besoek het, het hulle ’n plakker op daardie groep se etiket geplaas en hul fondse toegeken aan die projekte wat hulle die mees oortuigend gevind het. Die groepe wat die meeste beleggings gelok het, het pryse ontvang.

Hierdie “beleggings” het ’n duidelike pedagogiese doel gedien: dit het van studente vereis om hul werk oortuigend aan ’n onbekende gehoor te verduidelik en om vrae spontaan te beantwoord – die soort kommunikasie waarmee professionele ingenieurs gereeld te doen kry tydens inligtingsessies en gemeenskapskonsultasies.

Assessering en terugvoer

Die verband tussen globale SDG-kwessies en die plaaslike Suid-Afrikaanse konteks was ’n deurlopende fokus in die assesseringsraamwerk. Daar word van studente verwag om ’n spesifieke en goed gemotiveerde begrip te toon van hoe ’n probleem plaaslik manifesteer.

Prof Karin Wolff, koördineerder van ICC113, het gesê die span is verheug oor die reflektiewe terugvoer van studente, wat toon hoe hul begrip van wat interkulturele kommunikasie behels, betekenisvol verander het deur hul aktiewe deelname aan die module gedurende die semester. Sy het bygevoeg dat die jong studente haar inspireer en dat sy ’n besonder belowende toekoms vir hulle almal sien. 

Deur van studente te vereis om met werklike probleme om te gaan, die sosiale en etiese dimensies daarvan te oorweeg en hul bevindings aan ’n nie-gespesialiseerde gehoor voor te lê, bied die ICC113-plakkaatsessie ’n voorbeeld van hoe kommunikasiekursusse verder kan strek as tradisionele skryf-oefeninge na meer toegepaste en praktiese leerervarings. Dié eerste aanbieding daarvan dui daarop dat gestruktureerde inhoudsvereistes, ’n outentieke gehoor en ’n ligte mededingende element saam betekenisvolle betrokkenheid onder eerstejaarstudente bevorder.

ICC113 Interkulturele Kommunikasie vorm deel van die eerstejaar-ingenieurskurrikulum aan die Universiteit Stellenbosch.

Verwante stories