Humanitarian Affairs Asia nooi studente om aansoek te doen vir deelname aan die 14de University Scholars Leadership Symposium by die VN, Bangkok
- Humanitarian Affairs Asia (HAA) nooi studente van die Universiteit Stellenbosch uit om aansoek te doen vir deelname aan die 14de University Scholars Leadership Symposium (USLS).
- Die simposium vind plaas van 4 tot 7 Augustus 2026 by die Verenigde Nasies (VN) se konferensiesentrum in Bangkok, Thailand.
- Humanitarian Affairs Asia is gevestig vir die aanpak van wêreldwye uitdagings en dienslewering aan die samelewing deur jongmense te bemagtig om betrokke te raak en hul gemeenskappe te transformeer.
In 'n wêreld wat gevorm word deur toenemend komplekse en onderlinge uitdagings – van klimaatsverandering en groter ongelykhede tot snel tegnologiese transformasie – speel hoëropvoedingsinstellings 'n noodsaaklike rol in die ontwikkeling van bekwame gegradueerdes wat boonop beginselvaste leiers is. Meer as ooit vantevore is daar vandag 'n behoefte aan steun vir jongmense wat doelgerig, met integriteit, en 'n diep verantwoordelikheidsin teenoor die samelewing leiding gee.
In hierdie gees nooi Humanitarian Affairs Asia (HAA) studente van die Universiteit Stellenbosch uit om aansoek te doen vir deelname aan die 14de University Scholars Leadership Symposium (USLS) wat van 4 tot 7 Augustus 2026 by die Verenigde Nasies (VN) se konferensiesentrum in Bangkok, Thailand, plaasvind.
Humanitarian Affairs Asia is gevestig vir die aanpak van wêreldwye uitdagings en dienslewering aan die samelewing deur jongmense te bemagtig om betrokke te raak en hul gemeenskappe te transformeer. HAA doen dit deur 'n ingesteldheid van teruggee en eienskappe van diensbare leierskap te kweek by die jeug wat die organisasie dien.
Die USLS is 'n toonaangewende globale platform wat sorgvuldig uitgesoekte studenteleiers van oor die hele wêreld byeenbring – individue wat nie net akademies vaardig is nie, maar 'n sterk verbintenis toon om leierskap ten goede aan te wend. Die platform is geskep om opvoeders se taak aan te vul en bied studente betekenisvolle ondervinding van globale kwessies, leierskapontwikkeling, en waardegedrewe betrokkenheid.
Deur die bywoning van die USLS kry studente die geleentheid om:
aan interaktiewe werkswinkels in kapasiteitskepping – gefasiliteer deur Verenigde Nasies-agentskappe – deel te neem, wat deelnemers met die praktiese gereedskap toerus om globale uitdagings aan te pak.
saamgestelde uitstallings te verken wat VN-inisiatiewe uitlig en 'n dieper insig in multilaterale stelsels en volhoubare aksie bied.
met vooraanstaande sprekers, humanitêre praktisyns, en mede-vakkundiges in 'n diverse en doelgerigte internasionale forum te skakel.
deel te wees van Goedhartigheidsdag, 'n praktiese gemeenskapsdienservaring waar empatie in tasbare sosiale impak omskep word.
"Die simposium bring jong leiers van oor die wêreld byeen vir gesprekke oor humanitêre kwessies, leierskap, globale beheer-en-bestuur, en sosiale impak, terwyl betekenisvolle internasionale vriendskappe en netwerke terselfdertyd gebou word. Ons hoop werklik dat hierdie geleentheid studente van jou universiteit gaan inspireer om vorentoe te tree en Suid-Afrika op die globale verhoog te verteenwoordig," sê Janice Leong, streeksdirekteur by Humanitarian Affairs Asia.
Die hoofspreker by vanjaar se simposium is prof Kishore Mahbubani, voormalige president van die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad en stigtersdekaan van die Lee Kuan Yew-skool vir Openbare Beleid aan die Nasionale Universiteit van Singapoer. Benewens sy rol as besoekende vakkundige aan Harvard Universiteit het prof Mahbubani wêreldwye erkenning verwerf vir sy bydraes tot diplomasie, internasionale betrekkinge, en globale beheer-en-bestuur.
"Sy insigte oor leierskap, diplomasie, en die hantering van 'n toenemend komplekse globale landskap is van beduidende waarde vir studente, veral diegene wat aspireer om denkende leiers te wees wat besorg oor die wêreld is. In sy hooftoespraaksessie moedig hy studente aan om krities te dink oor die toekoms van internasionale medewerking, etiese leierskap, en die rol van jongmense in die skep van 'n meer onderling verbonde en vreedsame wêreld."
Vir meer inligting besoek gerus: https://www.humanitarianaffairs.org/UniversityScholarsLeadershipSymposium/Overview/.
Doen aansoek deur 'n e-pos te stuur aan me Kayla Claassen by [email protected] en die aansoekvorm vir afgevaardigdes aan te vra.
Die sperdatum vir aansoeke is 10 Junie 2026.