
Voeg waarde tot die Maties-netwerk toe
Sy werk as die streeksbestuurder vir die Asiatiese-Stille Oseaan-streek by die BMW Groep in München, Duitsland, hou Heinrich Schwella baie besig. Maar hierdie Matie maak tyd om aan sy alma mater terug te gee.
Heinrich, wat die graad BCom LLB aan die Universiteit Stellenbosch behaal het, sê dat hy in 2019 besluit het om vrywilligerwerk te doen. Sy eerste taak was om 'n alumnigeleentheid in München te help reël.
“Ek het om twee redes besluit om vrywilligerwerk te doen nadat ek Karen Bruns, die Senior Direkteur van die Afdeling Ontwikkeling en Alumniverhoudings aan die US, ontmoet het," sê hy.
“Die alumni-netwerk kan eerstens baie waarde toevoeg – selfs meer as 'n mens oorsee is en 'n nuwe netwerk moet opbou. Netwerke is belangrik vir sukses en integrasie met 'n mens se nuwe omgewing, en die hefboomwerking is tot die voordeel van die nuwe aankomelinge in die land en van die plaaslike inwoners. Tweedens het ons almal ons tyd aan die Universiteit Stellenbosch geniet en is dit 'n goeie manier om oor die goeie tye in Matieland te gesels en herinneringe te deel."
In reaksie op die vraag of hy dink dat meer Maties dit moet oorweeg om hulle tyd en talente te deel, sê hy dat dit gaaf sal wees as meer Maties die geleenthede bywoon. “Hoe meer mense betrokke raak, hoe meer verskeidenheid word toegevoeg en dit verhoog die waarde van die netwerk. Ons verwelkom altyd bykomende hulp – vir diegene wat dit oorweeg om vrywilligerwerk te doen."
Hierdie Matie het ook aangename herinneringe aan sy tyd in Stellenbosch en enkele goed staan uit. “Hoe eenvoudig die lewe was, toe ons kon verken, geniet en ervaar. Soveel verskillende ervarings – koshuis, studies, die ontmoeting van mense met soortgelyke belangstellings – het my studentejare onvergeetlik gemaak. Die skoonheid van Stellenbosch en die omliggende gebied het ook hiertoe bygedra."