
US stel logistieke barometer vir 2016 bekend
Vanweë die voortdurende vraag na, asook die verreikende impak van, nasionale logistieke koste het die Universiteit Stellenbosch (US) se Departement Logistiek Woensdag, 26 Oktober die Logistics Barometer South Africa 2016 bekendgestel.
Die tweede uitgawe van die Logistics Barometer sit die navorsingswerk oor makro-logistiek voort wat vroeёr deur die WNNR begin is. Die WNNR se jaarlikse verslag, State of LogisticsTM survey for South Africa, is in 2014 gestaak en sy opvolger, die Logistics Barometer deur die Universiteit Stellenbosch, is verlede jaar vir die eerste keer gepubliseer.
“Met dié barometer dra ons verder by tot die uitgebreide kennisbasis wat oor die afgelope 13 jaar geskep is,” sê professor Jan Havenga, baanbreker op die gebied van navorsing oor logistieke koste by die US.
“Dit is dié bepalende meetinstrument vir logistiek in hierdie land,” voeg Zane Simpson, ’n navorser in die Departement Logistiek by. “Ons is steeds een van net drie lande in die wêreld wat jaarliks nasionale logistieke koste meet.”
Die navorsing is baie belangrik vir die bedryf en die land as ’n geheel.
“Die waarde om jaarlikse data te bereken, lê in die feit dat tendense geïdentifiseer kan word en deur beide operasionele en strategiese ontleders in die openbare en private sektor gebruik kan word vir infrastruktuurbeplanning, beleidontwikkeling en beleggingsdoelwitte op ’n makro-ekonomiese vlak,” verduidelik prof Havenga.
Die logistieke barometer word gerugsteun deur meer as 20 jaar se navorsing oor volumes en die vloei van vrag in Suid-Afrika. Die logistieke kosteberekenings is oor die afgelope 13 jaar verfyn om dit wêreldwyd een van die mees robuuste en betroubare verslae oor logistieke koste te maak.
Die Logistics Barometer South Africa 2016 bevat logistieke koste wat tot en met 2014 bereken is, ’n beraming vir 2015 en ’n vooruitskatting vir 2016. Die R429 miljard wat Suid-Afrika in 2014 aan logistieke koste bestee het, maak 11.2% van die land se BBP uit.
Suid-Afrika se ekonomie is vervoerintensief, en die navorsing identifiseer vervoer as die mees beduidende logistieke koste in die land (57%). Dit word gevolg deur inventarisdraende koste (15.2%), pakhuiskoste (14.6%) en bestuur- en administrasiekoste (13.5%).
Meer as 83% van vervoerkoste (80% in 2013) word die afgelope jare aan padvervoer toegedeel, met spoorwegtariewe wat 15% bydra, en pyplyntariewe 2% of minder. Brandstof bly die grootste bydraer tot padvervoerkoste.
Suid-Afrika se logistieke koste, uitgedruk as persentasie van die BBP, was 11.2% in 2014. Nie net het dit ietwat versleg sedert 2013 nie, maar die tendens gaan na verwagting voortduur. Die verhouding het tot 2011 in die algemeen verbeter, maar toon sedertdien ’n opwaartse neiging. Daar word voorspel dat logistieke koste tot R470 miljard in 2015 gaan toeneem en bykans R500 miljard in 2016, wat gelyk sal wees aan 11.8% van Suid-Afrika se BBP.
“Die goeie nuus is dat ons ’n instrument het waarmee ons nasionale logistieke prestasie kan meet. Nie baie lande beskik hieroor nie en heelparty lande bewonder ons s'n. Ons brei nou ons werk uit na ander lande suid van die Sahara en ook na Indië,” sê prof Havenga.
“Navorsing toon dat die verhouding tussen nasionale logistieke koste en die BBP baie jare lank verbeter het, maar dat dit ongelukkig in die laaste vyf tot ses jaar in die verkeerde rigting beweeg het.”
Die navorsers – Jan Havenga, Zane Simpson, David King, Anneke de Bod en Max Braun – het ’n dringende behoefte geïdentifiseer dat toepaslike vaardighede (“sagte infrastruktuur”) ontwikkel word.
“Suid-Afrika se bestuurders en uitvoerende beamptes in die aanbodketting het in die verlede die vereiste ondervinding en kennis gehad wat die bedryf in staat gestel het om goed te vaar in die wêreld-arena. Kennis en begrip van die kern- operasionele elemente en die vermoë om by die voortdurend veranderende omgewing aan te pas, was vir dekades een van die sterk punte van suksesvolle logistieke en aanbodketting-maatskappye in Suid-Afrika,” meld die navorsers in die publikasie.
“Die bedreiging wat die toekomstige Suid-Afrikaanse aanbodketting-generasie in die gesig staar, is dat hulle die risiko loop om hierdie voordeel te verloor as gevolg van substandaard basiese onderwys, onderpresterende hoër onderwys en ’n gebrek aan praktiese kennis en oordrag van vaardighede in die werkomgewing.
“Alhoewel groot logistieke verskaffers in Suid-Afrika ’n paar besonder prysenswaardige opleidings- en vaardigheidsontwikkelingsinisiatiewe van stapel gestuur het, is ’n hernieude fokus op hierdie terreine nodig om die volhoubaarheid van die bedryf te bevorder en voortgesette groei in menslike hulpbronne, ontwikkeling en oordrag van vaardighede te fasiliteer.
“Dit sal bydra tot Suid-Afrika se mededingendheid en prestasie in die globale aanbodketting, en sal boonop groei en sosiale ontwikkeling in die land aanspoor.”
- Om die logistieke barometer af te laai, kliek hier.