Skip to main content
US implementeer reeds 2015-ooreenkoms met werkers

US implementeer reeds 2015-ooreenkoms met werkers

Korporatiewe Bemarking / Corporate Marketing
22 Januarie 2016

Die Universiteit Stellenbosch (US) gee sedert die sluiting van 'n wedersyds aanvaarbare ooreenkoms met dienswerkers en eksterne kontrakteurs teen die einde van verlede jaar prioriteitaandag aan die implementering van die besluite. Hierdie besluite sluit onder meer in: 'n eenmalige betaling aan werkers in Desember, onderhandeling met kontrakteurs namens werkers en die instel van 'n aanmeldlyn vir werkerskwessies.

Dit maak deel uit van die die Universiteit se voorneme om te verseker dat eksterne diensverskaffers hul werkers op alle kampusse met respek en menswaardigheid behandel. Prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier, het in Desember 2015 in 'n epos aan personeel bevestig: "Wat ons betref, is menswaardigheid die fundamentele kwessie. Ons beskou dit as ononderhandelbaar, en ons verwag van ons eksterne diensverskaffers om hierdie waarde te onderskryf. Ons wil nie geassosieer word of ooreenkomste sluit met enige diensverskaffer wat nie op die menswaardigheid van sy werkers ag slaan nie." 

'n Komitee van verteenwoordigers van eksterne werkers, studente, vakbonde en senior universiteitspersoneel het met behulp van eksterne bemiddelaars in Desember 2015 'n ooreenkoms bereik. Die US het intussen op die implementering van die verskillende besluite gefokus.

  • Formele interaksie met al die eksterne kontrakteurs, met die versoek dat hulle met deernis moet optree teenoor hulle werknemers wat in die protesoptrede betrokke was en hulle nie aan kriminele oortredings skuldig gemaak het nie.
  • 'n Formele skrywe deur die Rektor aan eksterne kontrakteurs waar die bogenoemde versoek herhaal is.
  • 'n Eenmalige betaling van R2 000 in Desember 2015 aan elk van die werknemers van eksterne kontrakteurs wat op US-kampusse uitgeplaas was en deur die protesaksie geraak is.  Sedertdien is van die tjeks wat aan individuele werkers uitgereik is nog nie in ontvangs geneem nie en is die afdeling Menslike Hulpbronne besig om hierdie invididue op te spoor.
  • Die skep van ʼn onafhanklike aanmeldlyn waar werkers klagtes of kwessies kan aanmeld, wat die US direk met die onderskeie werkgewers sal opneem.

Die US is bewus van onafhanklike dissiplinêre aksie teen sommige werkers deur hul werkgewers. Sommige van hierdie gevalle is vir rekonsiliasie en arbitrasie na die CCMA verwys, en moet volgens arbeidswetgewing hanteer word. Die Universiteit monitor die situasie en sal voortgaan om met die topbestuur van die betrokke maatskappye oor die belange van werkers gesprek te voer in 'n poging om 'n vinnige, billike en werker-vriendelike uitkoms vir elk van hierdie gevalle te verseker. Hierdie gesprekvoering  vind plaas binne die kontekstuele werklikheid dat die Universiteit nie wetlik nie die reg het om in a dissiplinêre proses tussen 'n onafhanklike diensverskaffer en sommige van sy werknemers in te meng nie.

Die volgende aspekte van die ooreenkoms word in 2016 geïmplementeer:

  • 'n Ondersoek om te bepaal of voormalige US-werknemers weens uitkontraktering wesentlike verlies gely het, en om dan voorstelle aan die US-Bestuur oor gepaste vorme van regstelling te doen.
  • Om vanaf 1 Maart 2016 die koste van indiensneming van werkers op ons kampusse te subsidieer wat minder as R5 000 (koste van indiensneming) per maand verdien. Dié subsidie sal pariteit verseker met die intreevlak-salaris van R5 000 (koste van indiensneming) per maand van US-werkers op posvlak 19.

Prof Leopoldt van Huyssteen, tans waarnemende Rektor en Visekanselier terwyl prof Wim de Villiers in die buiteland is, het 'n beroep gedoen op alle partye om aksies te vermy wat onnodige druk sal plaas op die huidige ooreenkoms, en wat 'n bedreiging inhou vir vordering. "Dit sal tot nadeel van die werkers en hul gesinne wees. Die Universiteit erken die reg van werkers om vreedsame protesaksies te loods sonder om inbreuk te maak op die regte van studente om te kan registreer of die akademiese projek te ontwrig. Die US is besig om in samewerking met die verskillende rolspelers aandag te gee aan die  menswaardigheid en billike behandeling van werkers. Dit sou 'n onreg teenoor studente wees indien hulle verhoed word om te registreer en met die akademiese jaar te begin." 

Die Universiteitsraad het 'n besigheidsetiekkomitee aangestel wat onmenslike en onbillike arbeidspraktyke sal ondersoek.