
Sprekers inspireer nuwe Maties
'n Skare van nagenoeg 5 000 nuwe Maties en hul ouers het Donderdagaand (21 Januarie) die Danie Craven-stadion by Coetzenburg op die kampus van die Universiteit Stellenbosch (US) volgepak vir die instelling se amptelike verwelkomingseremonie.
Die geleentheid het afgeskop met studente wat gesing en gees gevang het. Daarna het drie sprekers die nuwelingstudente geïnspireer om die meeste te maak van die kans wat hulle gekry het om te studeer.
Prof Arnold Schoonwinkel, Viserektor: Leer en Onderrig, het die studente verwelkom en gesê hoewel 'n fantastiese tyd op hulle wag, alles nie maanskyn en rose sal wees nie.
"Jy gaan uitgedaag word soos nog nooit tevore nie. Jy sal harder moet werk as ooit tevore. Jy sal dinge leer wat jy nie vantevore geweet het nie, dinge doen wat jy nog nooit gedoen het nie, na plekke gaan waar jy nog nooit was nie … alles sodat jy die mens kan word wat jy wil wees. Jou toekoms is in jou eie hande," het hy gesê.
Schoonwinkel het bygevoeg dat die US 'n reputasie vir uitnemendheid het, en dat studente hierheen kom omdat hulle gehalte soek. Die US spog tans met die hoogste sukseskoers van alle Suid-Afrikaanse universiteite ̶ 85% van US-studente wat vir modules inskryf, slaag, hoewel nie almal van hulle uiteintlik gradueer nie.
Met betrekking tot verlede jaar se landwye #FeesMustFall-protesaksie deur studente, het Schoonwinkel gesê die US ondersteun die oogmerk van bekostigbare hoër onderwys vir almal.
"Die Universiteit verstaan dat Suid-Afrikaanse huishoudings onder finansiële druk is. Daarom probeer ons alle finansieel-behoeftige studente wat akademies verdienstelik is, bystaan. Verlede jaar het ons meer as R650 miljoen aan beurse en lenings uitbetaal, en in 2016 sal dit nie anders wees nie," het hy bygevoeg.
Schoonwinkel het ook na die Universiteit se taalbeleid verwys en gesê: "Dit is nie situasie van een of die ander nie, maar ʼn geval Afrikaans én Engels.
Die Voorsitter van die Studenteraad (SR), Axolile Qina, het ook die studente geïnspireer deur te sê universiteite is baie meer as net plekke van studie maar ook van groei.
"Ons moet verder kyk as ons grade en innoverend dink om die samelewing te ontwikkel en 'n impak daarop te maak sowel as om verhoudinge in ons studentegemeenskappe en met ons medestudente te beïnvloed en te bou," het Qina gesê.
Studenteleier en nagraadse student, Tayla Faulmann, het die program afgesluit deur te vertel van haar ervaringe as nuwelingstudent aan die US ses jaar gelede. As die eerste een in haar familie om aan 'n universiteit te studeer, het Faulmann aanvanklik gevoel sy hoort nie op kampus nie, maar het uiteindelik haar ware identiteit gevind.
"As ek vandag vir julle 'n stukkie raad kan gee, sal dit wees om eenvoudig betrokke te raak. Skakel met verskeie mense; met mense wie jy nie normaalweg sou interaksie hê nie en ek belowe jou jy sal die vrugte pluk," het sy aan nuwelingstudente gesê.
Klik hier om prof Schoonwinkel se volledige toespraak te lees.