
Spits jou toe op jou werk om sukses te behaal
Fokus, harde werk en 'n helpende hand.
Dít is wat studente benodig om sukses te behaal, het prof Jimmy Volmink, Dekaan van die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW), aan eerstejaarstudente gesê wat met hul studies in mediese en aanvullende gesondheidswetenskapgrade begin.
"Vandag begin jy met 'n opwindende reis wat ongetwyfeld jou lewe gaan verander, en as jy jouself getrou daaraan toewy sal jy uiteindelik jou doelwit bereik om 'n dokter, fisioterapeut, spraak-taal- en gehoor-terapeut of dieetkundige te word," het hy vir die groep van 465 eerstejaarstudente by die Tygerberg-kampus gesê.
Uit hierdie groep het 290 studente ingeskryf vir die MB,ChB-program om mediese dokters te word, 60 studente begin met hul BSc-grade in Fisioterapie, 35 doen hul BSc-grade in Dieetkunde, 50 studeer Arbeidsterapie, en 30 studente het ingeskryf vir Spraak-Taal- en Gehoorterapie.
Deur die gewilde wetenskapskrywer Malcolm Gladwell se boek Outliers aan te haal, het Volmink verduidelik dat mens vir 10 000 ure aan jou ambag moet werk om 'n meester in jou veld te word. "Die boodskap om hieruit te neem is dat harde werk onontbeerlik is vir hoë prestasie," het Volmink gesê.
"Ons sien daarna uit om by te dra tot julle ontwikkeling en julle te help om die nodige kennis, vaardighede en gesindheid te verwerf om jul gekose beroepe te beoefen," het Volmink gesê.
Die voorsitter van die Tygerberg-studenteraad, mnr Nick Wayne, het die nuwe studente aangemoedig om gesondheidspraktisyns te word wat meer doen as om net siektes behandel, maar ook die gesondheidskwessies aan te spreek in die gemeenskappe wat hulle eendag gaan bedien.
"Daar is so 'n bietjie toorkuns in jou. Die toorkuns is die feit dat ons in staat is om verandering in die land teweeg te bring," het Wayne gesê.
Lindokuhle Mazibuko is een van die eerstejaars wat vanjaar met die MB,ChB-program by die FGGW begin. Hy was die eerste leerder by sy skool in landelike KwaZulu-Natal om nege onderskeidings in matriek te kry.
Die nuus van Lindokuhle se prestasie het eerste in The Mercury, 'n dagblad in KwaZulu-Natal, verskyn waar een van Suid-Afrika se top platejoggies, DJ Euphonik, sy storie gelees het en aangebied het om 'n gedeelte van sy kostes vir sy eerste jaar op universiteit te dra.
"Ek wil medies studeer en dan 'n kliniek open wat spesialis-mediesesorg bied aan mense in landelike gebiede," het Lindokuhle aan The Mercury gesê.
Patsy Oosthuizen is nog 'n toppresteerder wat vanjaar met haar MB,ChB-graad begin. Sy kom van Riversdal, 'n landelike dorp in die Wes-Kaap, waar sy baie tyd in haar ouers se spreekkamers deurgebring het. Beide haar ouers het medies by die Universiteit Stellenbosch gestudeer en is dokters by die provinsiale hospitaal in Riversdal. Patsy gaan tuis in Huis Francie van Zijl, dieselfde koshuis waar haar ma, Emma, gewoon het terwyl sy gestudeer het.
Patsy is van plan om by die internasionale humanitêre-groep, Dokters Sonder Grense, aan te sluit sodra sy haar studies voltooi het.
Nog 'n eerstejaar MB,ChB-student is dr Sunita Potgieter. Hierdie ma van drie het 'n PhD in Voedingswetenskappe en is al die afgelope agt jaar 'n dosent by die FGGW se Afdeling Menslike Voeding.
"Dit was nog altyd my droom om medies te studeer en ek het uiteindelik die moed bymekaar geskraap om daarmee te begin," het Sunita gesê. "Jy moet jou drome volg en nooit opgee nie!"
Foto: Eersterjaar mediese studente Lindokuhle Mazibuko (links), Patsy Oosthuizen (saam met haar ouers Emma en Christi) en dr Sunita Potgieter.