
Arnu sal niks verander nie
Arnu Fourie was in matriek toe sy lewe onherroeplik verander is – toe hy sy voet en sy droom om eendag vir die Springbokke uit te draf in 'n fratsongeluk verloor het.
Dit was eindeksamentyd, en skielik moes hy 'n nuwe plan maak.
In plaas daarvan om by die Goue Leeus-rugbyunie in Johannesburg aan te sluit, het hy by die Universiteit Stellenbosch kom studeer. In plaas daarvan om rugby te speel, wou hy net só leer loop dat niemand sou kon agterkom iets aan hom is anders nie.
Dit was eers toe hy in 2008 saam met die res van die Suid-Afrikaanse Paralimpiese span by die Olimpiese stadion in Beijing instap vir die openingseremonie van die Paralimpiese Spele, dat hy besef het:
Dit was toe nooit sy plan B nie. Dit was altyd bedoel om sy plan A te wees. Vyf jaar na sy ongeluk het hy uiteindelik geweet: Hy is waar hy moet wees.
En vier jaar later is sy droom om langs sy spanmaats te staan en die nasionale lied te sing by die Paralimpiese Spele in Londen bewaarheid toe hy en sy 4x100m-aflosmaats hul goue medaljes op die podium in die Olimpiese stadion ontvang het.
Toe het hy geweet: Hy sal dit vir niks verruil nie.
***
Arnu, 'n leerder aan Grey Kollege in Bloemfontein, het ná die eerste drie vakke van sy matriekeindeksamen in 2003 'n paar dae af gehad. 'n Uitstappie saam met 'n paar maats na 'n nabygeleë dam het egter in 'n nagmerrie ontaard toe die boot bo-oor Arnu gery en die propeller sy linkervoet feitlik geamputeer het.
Hy het 'n junior kontrak gehad om die volgende jaar by die Leeus aan te sluit, maar daardie droom was tot niet. Hy het toe by die Universiteit Stellenbosch vir 'n BCom-graad ingeskryf.
"Ek het die matriekeksamen klaargeskryf, maar nie die punte gekry wat ek wou gehad het nie. Ek moes toe eers vir 'n ander kursus registreer en later oorskakel na BRek.
"Dit was 'n tawwe jaar," onthou hy. Naas die emosionele sy van die aanpassing, was hy fisiek ongemaklik en het hy met sy prostese gesukkel.
Hy het sy huidige afrigter, dr Suzanne Ferreira van die US se Departement Sportwetenskap, al in sy eerste jaar ontmoet, maar die rede vir sy besoek aan die biokinetikasentrum was dat hulle hom moes help om "behoorlik" te kan loop.
"Ek wou nie gehad mense moes kon sien dat ek 'n prostese het of mank loop nie. Daar was nie in daardie stadium enige gedagte om by sport betrokke te raak nie."
Sy atletiekloopbaan het eers twee jaar later, in 2006, begin toe hy aan sy eerste wedloop deelgeneem het. Hy het ongeveer 4 sekondes ná die ander deelnemers klaargemaak.
Vir Arnu, 'n kranige en kompeterende sportman, was dit 'n bitter pil om te sluk. Maar hy het besef – hy moes óf opgee of voluit gaan. Hy het in 2007 vir die eerste keer met 'n lem gehardloop (wat hy geleen het) en aan sy eerste Suid-Afrikaanse kampioenskap deelgeneem.
"Ek het begin honger raak en begin glo ek kan dit doen."
Hy het sodanig verbeter dat hy in 2008 by die SA span vir die Paralimpiese Spele in Beijing ingesluit is. Daar het hy 4de gekom in die 100m en 6de in die 200m. Die plekke was nie vir hom belangrik nie. Hy was geïnspireer en vol nuwe moed.
Hy het vir homself gesê hy sal nie weer "net die fotograaf wees nie", en in 2012 het hy naas die goud ook brons (100m T44) tot Suid-Afrika se medaljetelling bygedra.
Die vier jaar sedertdien was egter nie sonder uitdagings nie. Arnu is geteister deur beserings en het operasies en 'n uitgebreide rehabilitasieproses ondergaan, alles met die oog op Rio 2016.
Hy is baie dankbaar teenoor sy werkgewer, Graham Power, wat by sy droom ingekoop het en dit vir hom moontlik gemaak het om ongereelde ure te werk.
"Die sport het na 'n plek toe beweeg waar dit nie meer moontlik is om voltyds te werk en na-ure te oefen nie. My baas het 'n groot rol gespeel in die feit dat ek 100% voorbereid is.
"Die werk is nou gedoen," sê hy. Nou kan hy net sy beste gee.
Arnu sal in Rio ondersteun word deur sy vrou Carène, met wie hy begin uitgaan het drie maande voor sy ongeluk en wat die hele reis met hom meegemaak het.
Die Fouries se seun Nua (18 maande) bly saam met ouma en oupa by die huis.
Vra jy hom oor die toekoms, sê Arnu hy fokus nou eers op Rio. Die IPC Wêreldkampioenskapsbyeenkoms wat in 2017 in die Olimpiese stadion in Londen aangebied sal word, lê vaagweg op die horison, maar hy wil nou eers al sy krag en energie gebruik om sy beste by die Paralimpiese Spele te lewer.
Dan sal hy sien wat die toekoms inhou – maar wat dit ook al is – dit sal 'n Plan A-toekoms wees.
* Arnu is 'n lid van die Maties Parasport-klub en 'n Stellenbosch-sportambassadeur.
Foto: Arnu Fourie by sy ma Marinda Cilliers, seun Nua en vrou Carène.