
Wetenskaplikes sien die hartklop van gemeenskap
Tydens 'n uitreik-projek, waar navorsers veronderstel was om die gemeenskap in te lig oor gesondheid en die wetenskap, het die navorsers uiteindelik nét so baie geleer van die lewens en uitdagings van die gemeenskap wat hulle poog om te dien deur hulle navorsing.
"Albei groepe het van mekaar geleer – die gemeenskap het geleer oor gesondheid en hoe om na hulself en hul gesinne om te sien; en die wetenskaplikes het 'n waardevolle blik tot binne in die gemeenskap gekry, wat ons laat nadink het oor die navorsing wat ons doen," het prof Hans Strijdom gesê. Hy is die hoof van die Kardiovaskulêre Navorsingsgroep, in die Afdeling Mediese Fisiologie, wat aan die uitreikprogram deelgeneem het.
Die projek is onderneem deur die Sustainable Livelihoods Foundation (SLF) en poog om gemeenskappe en wetenskaplikes met mekaar te laat skakel oor die tema van kardiovaskulêre siekte – vandaar die naam van die projek: Heart of the Matter.
"As navorsers werk ons in ons laboratoriums – ons verwerk data, publiseer artikels, en dra dit voor by konferensies. Ons sien net die data, maar ons weet niks van die mense agter die data nie. Hierdie projek het ons die geleentheid gebied om van hulle stories te hoor," het Strijdom verduidelik.
Die projek het behels dat deelnemers van die behoeftige gemeenskap van Delft op die Kaapse Vlakte, hul stories deel deur middel van fotos en videos oor mense en dinge in hulle daaglikse lewens wat verband hou met gesondheid.
'n Groep van 13 volwassenes het basiese opleiding in fotografie ontvang, asook 'n kamera waarmee hulle tonele in hulle daaglikse lewens moes vasvang. Die fotos is dan aan die projek-koördineerders en wetenskaplikes aangebied wat insette gelewer het en advies gegee het oor hoe deelnemers hul gesondheid, asook die van hul gesinne, kan verbeter. Hul fotos en stories is uiteindelik in 'n boek gepubliseer.
"'n Paar van die stories het ons oë laat rek, en ons het besef dat die deelnemers in 'n ander wêreld lewe as die een waaraan ons gewoond is. Al die stories was nie tragies en hartseer nie, en ek was regtig verstom deur die kreatiewe idees wat party mense uitdink om hulself en hul gesinne te voed," sê Strijdom.
Die deelnemers het ook 'n geleentheid gehad om die wetenskaplikes uit te vra oor gesondheid en siektes. "Dit was 'n ongelooflike ervaring!" sê Strijdom.
Die tweede groep het uit 10 jongmense bestaan wat opleiding in videografie en video-redigering ontvang het, en wie video-kameras gekry het om hul daaglikse lewens te dokumenteer. Die jongmense het 'n film gemaak met die beeldmateriaal wat hulle opgeneem het.
Die Kardiovaskulere Navorsingsgroep het die jongmense vir 'n week op kampus getrakteer en hulle op toere deur laboratoriums en die Morfologie-museum geneem, hulle laat deelneem aan eksperimente, en opleiding gegee in die wetenskap en navorsing.
"Prof Strijdom en die vyf spanlede van sy navorsingsgroep wat deelgeneem het aan die Heart of the Matter-projek was 'n uitstekende voorbeeld van hoe wetenskaplikes betrokke kan raak by gemeenskapsinisiatiewe," het die SLF-direkteur, dr Gill Black, gesê.
"Hulle het 'n deurslaggewende bydrae gelewer tot die oordrag van kennis deur 'n interaktiewe rol te speel in 'n reeks deelnemende werkswinkels. Deur middel van visueel aanloklike plakkate wat hulle spesiaal voorberei het vir die projek, en deur die Delft-deelnemers na hul laboratorium uit te nooi, het die span wetenskaplikes basiese, maar belangrike, inligting oorgedra oor wat hartsiekte is, wat dit veroorsaak, hoe om dit te voorkom, en hoe dit nagevors word deur die mediese wetenskap.
"Deur die tyd te neem om na te dink en terugvoer te gee oor die fotoboek en kortfilm wat deur die deelnemers saamgestel is, het Strijdom se span 'n eerstehandse ervaring gehad en 'n verslag van voetsoolvlak gekry oor die faktore wat die hartsiekte-epidemie in stedelike Suid-Afrika aandryf en hoe dit mense se alledaagste lewens raak," het Black gesê.
Foto: Professor Hans Strijdom en dr Nyiko Mashele saam met lede van die Delft Gesondheidsambassadeurs: Fatima Petersen (voor links), Koolsum Ismail (regs), and Priscilla Mcentee (ver regs) tydens 'n drama-werkswinkel in die Delft openbare biblioteek. Links is Kauthar Stegmann.