Skip to main content
Vrae oor breëbasis- swart ekonomiese bemagtiging?

Vrae oor breëbasis- swart ekonomiese bemagtiging?

Development & Alumni / Ontwikkeling & Alumni
23 November 2018
Dis te verstane as die terme BBSEB en BBSEB-telkaarte, -verifikasiedokumente en -prosesse jou in koue sweet laat uitslaan. Gelukkig kan Candice Egan, ʼn ontwikkelingsbeampte by die Afdeling vir Ontwikkeling en Alumni-betrekkinge (OAB), wat BBSEB-verwante navrae hanteer, helderheid en bystand verleen. Volgens Candice het die Universiteit Stellenbosch (US) net vanjaar reeds R4.5 miljoen se beurse aan Matiestudente toegeken, alles danksy maatskappye se BBSEB-besteding.​Sê eerstens vir ons wat presies BBSEB is.BBSEB staan vir breëbasis- swart ekonomiese bemagtiging. Dit is ʼn inisiatief van die Suid-Afrikaanse regering wat daarop gemik is om meer mense uit voorheen benadeelde groepe te help om besighede te besit, te bestuur, te beheer en werk in Suid-Afrika se ekonomie te bekom.Watter invloed het BBSEB op die US en maatskappye oor die algemeen?Net soos maatskappye, is die US verplig om BBSEB-vereistes na te kom. In hierdie konteks praat ons egter van BBSEB uit die oogpunt van maatskappye en hoe ons hulle kan help om hulle BBSEB-tellings te behaal ten opsigte van, onder andere, vaardighede en sosio-ekonomiese ontwikkeling, en om erkenning te kry vir die voorsiening van beurse aan voorheen benadeelde studente, terwyl die US terselfdertyd daaruit voordeel trek.Wat is ʼn BBSEB-telkaart?Maatskappye behaal ʼn telling op grond van verskillende kriteria. Die maatstaf van die telling word ʼn BBSEB-telkaart genoem en ʼn hoë BBSEB-telling hou verskillende voordele vir maatskappye in. Die telkaartkategorieë is eienaarskap, voorraadketting en -verkryging, vaardigheidsontwikkeling en sosio-ekonomiese ontwikkeling.Jy noem die wedersyds-voordelige verhouding tussen die US en maatskappye. Brei asseblief uit.Die US, as ʼn instelling van hoër onderwys, stel natuurlik die meeste belang in die ontwikkeling van vaardighede en die sosio-ekonomiese ontwikkelingsaspek van BBSEB. Ons kan maatskappye help om ʼn positiewe BBSEB-telling te behaal deur hulle fondse aan beurse vir voorheen benadeelde studente toe te wys. Ek doen al die werk, spoor die kandidate op en help met die finansiële proses wat vir behoorlike tredhou gevolg moet word en voorsien die nodige verifikasiemateriaal. Die US kan dan daardie fondse toewys om ons studente van broodnodige finansiële hulp te voorsien.Kan die US hierdie fondse na goeddunke toewys?Nee, daar is streng reëls wat gevolg moet word. Na gelang van die sektor, kan sommige maatskappye baie spesifieke vereistes stel. Byvoorbeeld, ʼn maatskappy kan vra dat fondse aan ʼn voorheen benadeelde vroulike persoon met ʼn gestremdheid, wat Ingenieurswese studeer, toegewys word. Dan is daar maatskappye wat slegs algemene vereistes stel, byvoorbeeld, dat die fondse vir beurse aan benadeelde studente aangewend word.Watter proses volg jy wanneer ʼn maatskappy jou kontak?Ek stel ʼn lys van moontlike kandidate op, op grond van die maatskappy se spesifieke vereistes en met die bystand van die Afdeling Voorgraadse Beurse en Lenings, of die Kantoor vir Navorsingskapasiteitsontwikkeling en -befondsing en soms die Gestremdheidseenheid. Ons pas dan die geskiktheid van die student by die beskikbare fondse en die student se behoefte. Soms wil die skenker onderhoude voer met studente op die kortlys, maar dit is nie die norm nie.Sodra die fondse toegewys is, voorsien ek die maatskappy van die nodige verifikasiedokumente wat hulle dan aan die verifikasie-owerheid vir BBSEB-telkaartpunte stuur. Soms het hierdie owerheid vrae of bykomende vereistes wat ek dan help om te hanteer.As ʼn kollega in een van die US se ander afdelings deur ʼn maatskappy gekontak word wat fondse ter wille van BBSEB-nakoming wil skenk, wat moet hy of sy doen?Ek raai so ʼn kollega aan om spesifiek vir my by die Ontwikkelingskantoor te kontak. Ek sal hom of haar graag help en leiding gee met alles wat nodig is om deur die hele verifikasieproses te gaan.BBSEB werk ook in siklusse – dus verwag ons gewoonlik talle versoeke teen die einde van Februarie, die einde van Junie en van Oktober tot Desember.Is daar nog iets wat jy wil byvoeg?Ek wil dit beklemtoon dat, wanneer sodanige fondse toegewys is, dit onder geen omstandighede na ʼn ander student of studente oorgedra kan word nie. Kontak my gerus by [email protected] of 021 808 2711.