
Video: rektor oor studentegelde en protes
Videoboodskap van prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch, oor studentegelde, protes op kampus en die belang van die akademiese projek.
Oor studentegelde: "Ons deel die kommer dat hoër onderwys so toeganklik moontlik moet wees – vir soveel mense as moontlik. Dit is hoekom ons die aankondiging deur die Minister van Hoër Onderwys en Opleiding verwelkom dat daar bykomende staatsbefondsing gaan wees.
"Ons steun fooivrye, gehalte hoër onderwys vir studente uit arm huishoudings. Die ideaal is dat dit vir alle studente die geval moet wees, maar bykomende staatsubsidie word benodig om dit 'n werklikheid te maak.
"Intussen, doen ons ons bes om ons studente finansieel te ondersteun. Geen akademies-verdienstelike student moet op grond van hul finansiële omstandighede uitgesluit word nie."
Oor protes: "Studente het 'n reg op vreedsame protes, maar nie om geboue te beset, klasse en toetse te ontwrig of ander te dreig of aan te rand nie. Ons het opgetree om studente, personeel en fasiliteite te beskerm – in belang van die akademiese projek."
Oor die oop gesprek: "Die Universiteit bly verbind tot deurlopende gesprekvoering met studente oor fooie en enige ander kwessie – gelei deur ons Afdeling Studentesake."
Oor die akademiese projek: "As universiteite nie gegradueerdes kan lewer nie, en nie nuwe kennis kan produseer nie, sal ons almal slegter daaraan toe wees. Laat ons dus almal saamwerk om te verseker dat die akademiese jaar voortgesit en suksesvol afgehandel kan word."