Skip to main content
Verpleegkundiges laat pasiënte in die steek weens swak ondersteuning

Verpleegkundiges laat pasiënte in die steek weens swak ondersteuning

Wilma Stassen
11 Mei 2016

Die Internasionale Dag vir Verpleegkundiges word op 12 Mei herdenk om eer te betoon aan hierdie groep onbaatsugtige gesondheidswerkers wat die boustene uitmaak van gesondheidsorgstelsels regoor die wêreld. Die tema van vanjaar se vieringe is "Verpleegkundiges, 'n krag vir verandering – Verbeter die herstelvermoë van gesondheidstelsels".

"Die herstelvermoë van 'n gesondheidstelsel maak grootliks staat op menslike hulpbronne," verduidelik prof Anita van der Merwe, hoof van die Afdeling Verpleegkunde aan die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW). "Maar soos ons weet is daar 'n ernstige tekort aan gesondheidsorgpersoneel in Suid-Afrika en elders in die wêreld."

Sy voer aan dat alhoewel daar vordering gemaak word met pasiëntgesentreerdesorg, wat veronderstel is om behandeling en sorg by die pasiënt se behoeftes te laat aanpas, veroorsaak personeeltekorte, omgewings-, toerusting- en voorraadtekorte dat pasiënte soms swak diens ontvang.

"Pasiëntgesentreerdesorg vereis dat verpleegkundiges genoeg ondersteuning ontvang sodat hulle op die pasiënte kan fokus, maar in werklikheid het hulle te veel ander take wat hul wegneem van hul pasiënte en voorkom dat hulle 'n betekenisvolle verhouding -  met empatie en deernis as boustene - vorm," sê Van der Merwe.

"Dit is wanneer verpleegkundiges daarvan beskuldig word dat hul nie omgee nie, maar inderwaarheid is hulle oorlaai, uitgebrand en verkeer hulle in 'n toestand van morele nood."

"Die praktyk van taak-verskuiwing het verpleegkundiges bemagtig om take uit te voer wat voorheen aan dokters toegeken is, en sekere dienste is dus nou wyer beskikbaar aan pasiënte. Maar terselfdertyd word ander take, soos data-invordering, administrasie, aankope en verkryging ook nou aan verpleegkundiges toegeken."

"Dit is 'n probleem. Verpleegkundiges kry die skuld wanneer pasiënte swak diens ontvang, maar dit is omdat hulle ander mense se werk ook doen," sê prof Ethelwynn Stellenberg, mede-professor by die Afdeling Verpleegkunde by die FGGW.

"Ons praat altyd oor die pasiënte se regte, maar die verpleegkundige het die reg om te verpleeg in 'n omgewing wat versorging van die pasiënte bevorder. Hierdie regte word geskend as die ondersteuningstrukture nie in plek is nie en lei daartoe dat die pasiënt se reg tot sorg benadeel word," sê Stellenberg.