
USB kom weer eerste in PMR se werkgeweropname
Werkgewers wat aan die 2016-opname van die saketydskrif Professional Management Review (PMR.africa) deelgeneem het, het die Universiteit Stellenbosch Bestuurskool (USB) weereens as die top bestuurskool aangewys – met 'n punt wat selfs hoёr is as dié van die vorige twee jaar.
In onderhoude met die tydskrif het werkgewers van MBA-gegradueerdes en studente die USB as die beste bestuurskool aangewys.
Dit is die vyfde agtereenvolgende jaar dat hierdie eer die USB te beurt val in die jaarlikse PMR-opname van geakkrediteerde Suid-Afrikaanse sakeskole wat MBA-grade aanbied.
"Maatskappye en werkgewers in die openbare sektor stem ongetwyfeld saam dat ons op koers is met ons missie om verantwoordelike sakeleiers te help vorm," het prof Piet Naudé, direkteur van die USB, gesê.
Werkgewers het 'n punt van 8.22 uit 'n moontlike 10.00 aan die bestuurskool se MBA-gegradueerdes en studente toegeken. Dis meer as verlede jaar se 8.16 en 8.00 in 2014.
Volgens PMR.africa se uitvoerende hoof, Johan Hattingh, sal die bestuurskool se prestasie later vanjaar met PMR se diamant-toekenning beloon word.
Meer as 300 menslike hulpbrondirekteure of -bestuurders en lynbestuurders van genoteerde en groot maatskappye, nasionale, provinsiale en plaaslike regeringsdepartemente, munisipaliteite en staatsondernemings het deelgeneem.